Boekresensie: Kinnes

Kinnes deur Chase Rhys word uitgegee deur Kwela

Kinnes is ’n verrassend oorspronklike novelle wat die leser vanaf die eerste paragraaf boei. Mens kan sien waarom Rhys, ’n dramaturg van Ocean View, in 2017 as die eerste wenner van die Adam en Rosalie Small-prys vir debuutskrywers aangewys is. Ek gaan beslis belê in hierdie talentvolle skrywer se toekomstige werk. Met Kinnes het hy aan my ’n onvergeetlike leeservaring gebied en my voorgestel aan ’n faset van ons taal wat vir my ’n nuwe wêreld laat oopgaan het.

Nathan Trantraal beskryf die boek as: “’n Character study van kinnes innie warzone vannie Cape Flats. Maa oek veel meer. Baie, baie funny en intensely moving.”

Kinnes is ’n onthutsend eerlike en menslike verhaal wat die leser vol in die maag tref. Dit beskryf die harde, ongenaakbare lewe in Jurassic Park op die Kaapse Vlakte sonder om dit te verromantiseer. Die skrywer slaag daarin om met verfrissende deernis en ’n heerlike sin vir humor die karakters en hulle omstandighede só lewensgetrou en oortuigend voor te hou dat die leser geen probleem het om daarmee te identifiseer nie, al voel dit met tye asof jy verby ’n ongelukstoneel ry en nie kan help om te staar nie. Die onvergeetlike karakters skrop nes in jou hart. Skielik is die Kaapse Vlakte nie meer net die naam van ’n plek wat jy soms op die nuus hoor as daar bendegeweld uitbreek nie. Jy besef ná die lees van hierdie boek dat daar ménse bly. Gewone mense in buitengewone omstandighede. En jou hart breek, want deur Rhys se oë raak jy lief vir hierdie mense wat hy so lewensgroot uitbeeld.

Anwaar (Ahnie) Brandt, leier van die Butcher Boys wat eens op ’n tyd ’n ekstra in die fliek GangStar was, se Ma Mary het hom as enkelma grootgemaak nadat sy pa uit hulle lewens uit verdwyn het. Nou is dit Anwaar se beurt om na háár te kyk. Ding is net, die Butcher Boys het “hulle eie planne vir fame en fortune”, en Ma Mary kyk liefs anderpad. “Ek het hom’ie gevra waavanaan kommie geld ie. My ding was net, as my seun happy is dan is ek tevriede’. “But ja, my seun het kwaai na my gekyk. Ek’t my entjies op tyd gehet en hy’t my ’n ott gegie – oorie vyfhonned rand – om elke wiek casino toe te gan. My wate was betaal, ek hoefie te worry van elke dag lektric koepie”. Anwaar se keuses het ʼn rimpeleffek op verskeie karakters se lewens.

Die boek raak ’n paar temas aan soos onder meer ouerskap (afwesige pa’s, tienerswangerskap, ma’s wat anderpad kyk), dwelmmisbruik, werkloosheid, armoede, bendegeweld en die donker kant van tegnologie. Die ironie lê in die beperkte leefwêreld wat die dikwels hopelose omstandighede en omgewing hierdie jong mense bied. Jy voel vir hulle, want jy besef dat daar nie regtig enige kans op uitkoms vir hulle is nie. Al voer hulle elke dag ’n stryd om oorlewing, hoop en droom die kinders van die Kaapse Vlakte nes enige ander jong mense op enige ander plek. Derick wil graag vir Nicole en die baba sorg nadat sy swanger word en hy die skool moet verlaat om werk, wat daar nie is nie, te gaan soek. Rolanda wil graag ’n sosialemedia-sensasie word en die lewe van ’n Cape Kardashian lei. Anwaar wil … en so het elkeen sy droom, al is hy vasgevang in ’n hopelose situasie en al is die keuses wat hy het uiters beperk. Rhys se humoristiese vertelstyl en skitterende gebruik van dialoog keer dat die boek met tye te swaar op jou gemoed lê, al snik jy soms so saam met die lag. Dis ’n diep boek, ’n boek vir die hart.

Ek het gedeeltes van Kinnes hardop gelees net om die woorde te hóór. Geen wonder nie dat Anastasia de Vries reken Rhys “sit die ritme en musikaliteit terug in Kaaps, die Afrikaans van my hart”. As daar ooit ’n boek was wat as oudioboek uitgegee behoort te word, dan is dit Kinnes.

Lees gerus Kinnes as jy ’n anderse leeservaring wil hê. Jy sal nie spyt wees nie.

Kinnes is by toonaangewende handelaars beskikbaar.
Uitgewer: Kwela
Prys: R220-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek nou by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.