Boekresensie: My naam is Prins, ek slaap met die lig aan

My naam is Prins, ek slaap met die lig aan deur Christine Barkhuizen-Le Roux word uitgegee deur Human & Rousseau

Wanneer ’n seksuele roofdier jag maak op jong, kwesbare seuns in sy sorg, kring die verreikende gevolge van sy afskuwelike dade dekades later steeds uit in ’n verwoestende getygolf wat alles en almal wil verswelg. Christine Barkhuizen-Le Roux verdien lof vir die sensitiewe dog vreeslose wyse waarop sy oor die verskrikking van pedofilie skryf.

My naam is Prins, ek slaap met die lig aan verskaf aan die leser ysigwekkende glimpe in slagoffers se gedagtes en emosies tydens, direk ná, en ook jare nadat hulle seksueel misbruik is. Barkhuizen-Le Roux het haar ingeleef in die “hartverskeurende pyn wat so ’n seksueel mishandelde kind ervaar” en het hierdie onthutsende roman gepen nadat sy met slagoffers en kenners gesels het oor die hartverskeurende onderwerp. Oor die slagoffers skryf sy: “Julle is nie slegs slagoffers nie, maar ook oorwinnaars. Julle leef voort in hierdie boek – en mag dit daartoe dien dat die breë gemeenskap hulle oë en harte oopmaak.”

Corinne Prinsloo is ’n kliniese sielkundige wat al vir langer as twee jaar nie meer praktiseer nie. Haar man, Frank, ’n predikant, ontwikkel ’n drankprobleem en sluit homself al meer in sy studeerkamer toe. Corinne sukkel om agter die kap van die byl te kom, en Frank self praat nie. Dan nader Deon, ’n oudpasiënt, vir Corinne om hulp. Hy vra dat sy ’n pelgrimstog saam met hom en sy dogter, van wie hy baie jare vervreem was, onderneem na die dorp van sy kinderjare. Corinne besluit om saam te gaan as ’n vriendin eerder as ’n terapeut. Skuilkranz is immers die plek waar Frank ook vandaan kom, en dalk vind sy daar iets wat haar kan help om te verstaan waarom hy so verander het. Is dit moontlik dat Pa Pietie, die sportafrigter en koshuisvader wat jare gelede vir Deon misbruik het, en oom Petrus, Frank se liewe pa wat haar en haar gesin nog altyd met liefde en geld en goedheid oorlaai het, een en dieselfde mens is?

In hierdie aangrypende én skokkende verhaal van 322 bladsye open Barkhuizen-Le Roux haar lesers se oë onder meer vir hoe slinks ’n pedofiel sy slagoffers manipuleer sodat van hulle selfs dekades ná die misbruik soms nog sukkel om die “goeie” oom wat hulle onskuld gesteel het te sien vir wie en wat hy werklik is – ’n monster wat op kinders teer.

My naam is Prins, ek slaap met die lig aan is beslis nie ligte leesstof nie; dis ontstellend om die minste te sê. Ek is egter baie bly dat ek die boek gelees het en beveel dit heelhartig aan. Soos Juliana Coetzer die boek tereg beskryf op die voorblad: “’n Broodnodige verhaal. Dit gee ’n stem aan mense wat nie gehoor is nie.” Dié boek behoort wyd en ver gelees te word.

Uittreksel: “Dis net: tot nou toe is alles soos ingesuurde deeg onder ’n reisdeken toegegooi. Maar ek het lankal die dag voorsien dat daai deeg in die kom gaan rys en oorloop, en dan sal almal proe dis net bitter brood wat daarvan gebak kan word.”

Meer oor die skrywer:

Christine Barkhuizen-Le Roux het ’n Meestersgraad in Afrikaans en Nederlands. Sy dig graag en skryf ook kortverhale. Daar het reeds vier van haar boeke by H&R verskyn, nl. Padmaker, Wat die oog gesien het, Getuie en Drieklawerblaar.

Skaf My naam is Prins, ek slaap met die lig aan hier aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Fran ·

Wat ‘n begaafde skryfster is sy nie. Ek huil reeds by die lees van die titel.

Martin ·

Sal die boek aanskaf en lees. Vir die slagoffer is die verstaan proses van die emosies en verwerking bevrydend. Die probleem le by die res van die familie wat die slagoffer se bydrae van wat werklik gebeur het verwerp. Dit lei tot familie skeurings, en so met reg!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.