Boekresensie: Smit Motors

Smit Motors deur Réney Warrington word uitgegee deur Wênkbrou

Ek was baie teleurgesteld toe ek die laaste bladsy van hierdie hedendaagse dorpsroman lees. Ek wou eenvoudig nie afskeid neem van die karakters wat hulle intrek in my hart geneem het nie – ek wou verder deel in hulle lief en leed. Dit is een van daardie boeke waar jy wens jy kon die laaste hoofstuk of twee sélf skryf sodat die storie kan eindig soos jý dit graag wil hê.

In ’n neutedop: Petra Smit se oupa maak haar alleen groot en is onvoorwaardelik lief vir haar. Ná sy dood erf sy ’n werkswinkel wat sy nie geweet het hy besit het nie. Sy vertrek na die klein Vrystaatse dorpie toe met die idee om Smit Motors te verkoop. Maar terwyl sy nou daar is wil sy klarigheid kry oor haar geliefde, Cyla, wat wil swanger raak. Sy wil ook probeer om weer aan die skryf te kom, en sy wil rou oor haar geliefde oupa se afsterwe.

Hier ontmoet Petra vir Arno, “’n sagmoedige reus met ’n kind se verstand”, en sy wyse ouma, tannie Naude. Dié twee kosbare mense lewe as skadufigure op die rand van die dorp se bewussyn. Dan is daar ook Monty, ’n stom en verwaarloosde seuntjie, sy oppasser, Johanna, en sy aggressiewe pa, Hannes. Hannes wat die werkswinkel wil koop en reeds as sy eie beskou. Warrington vleg en bind hierdie karakters se lewe onherroeplik saam in ’n diep menslike storie wat die leser ontroer.

In die agtergrond word Susan, ’n suksesvolle expat-kunstenaar, se jare lange stryd met haar innerlike demone ook vernuftig verweef met Petra se verhaal. Smit Motors verkrummel die leser se hart, maar dit verwond ook en laat jou selfondersoek doen.

Welgedaan aan Wênkbrou, ’n splinternuwe druknaam van LAPA Uitgewers, met hierdie kopverskuiwende verhaal wat die kompleksiteit van menslike verhoudinge ondersoek en dit sonder versiersuiker aan die leser voorhou vir wat dit is.

Die skrywer vertel bloot die storie en maak nie verskonings vir die karakters se optrede en besluite nie. Sy gee myns insiens ook nie redes vir dit wat in die boek met die karakters gebeur nie, want soms kry die ou lewe mens mos aan die hare beet en neuk met jou ’n rigting in. Hoekom moet mens enigsins verskoning maak vir jou menswees? Vir dit wat jou jý maak? Vir die keuses wat jou gelukkig maak? En ja, vir dit wat jou anders maak?

Dit is ’n ryk en veelvlakkige roman waaruit die leser baie waarhede kan put. Dit leer mens om met meer empatie en verdraagsaamheid na ander te kyk – al dink en doen hulle anders as jy – en die unieke en kosbare méns, wat die reg het om te bestaan en liefde in volheid te ontvang en te gee, raak te sien. Om verby vooropgestelde idees te kyk en jou eie opinie te vorm. Die storie wys albei kante van die muntstuk – hoe diegene wat veg om self aanvaar te word, ander sonder voorbehoud kan aanvaar, en hoe maklik hulle vir wie aanvaarding vanselfsprekend is, ander summier kan verwerp.

Die boek het vir my die volgende geopenbaar: Liefde kan nie in die spreekwoordelike boks gedruk word en netjies omskryf word nie. Jy kan nie vir die liefde voorsê hoe dit moet optree of wat dit moet wees nie. In hierdie boek het twee vroue mekaar innig en hartstogtelik lief, maar ’n jong ma swaai haar babaseuntjie aan sy voetjies rond en slaan sy kop teen ’n muur. Die liefde (of die gebrek daaraan) gebeur nie volgens voorskrif nie. ’n Pa mishandel en verwerp sy eie kind, maar ’n kinderlose vrou pas die weggooikind op asof hy haar eie is.

Seksualiteit, familie, die besluit om kinders te hê of nie te hê nie, mishandeling, aanvaarding en verwerping is van die temas wat die skrywer ondersoek. Die spil waarom die boek draai is medemenslikheid. Die norm, wat as die ideaal voorgehou word, skiet dikwels ver te kort. Tog moet diegene wat dinge anders doen as op die ‘aanvaarbare’ manier, harder baklei vir erkenning en aanvaarding. Wreedaards soos Hannes kom te dikwels weg met verfoeilike dade omdat die gemeenskap ander pad kyk, terwyl diegene wat niemand skade aandoen nie en net vir hulle regmatige plek in die son vra, verguis en verstoot word.

Smit Motors breek definitief meer as een lansie – ek salueer dan ook die skrywer vir die wyse waarop sy veral vir Arno, hy met die psige van ’n kind, as ’n merkwaardige, volwaardige én onvergeetlike hoofkarakter skets. Arno se mooi hart en onskuld gooi dan juis die kollig op die jammerlike gebreke van dít wat die samelewing as die ideaal voorhou.

Meer oor die skrywer: Réney Warrington, ’n ywerige skrywer, fotograaf en filmmaker, se eerste boek, Oktober, verskyn in 2012, en die Engelse vertaling ’n jaar later. Smit Motors is haar tweede roman.

Smit Motors is by toonaangewende boekhandelaars beskikbaar en kan ook hier bestel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.