Boek van die maand: In ‘n land sonder voëls

Harry Kalmer se jongste boek, In ʼn land sonder voëls, speel af iewers in die middel van die 21ste eeu – in die toekoms wat nie noodwendig ʼn verbetering op die verlede is nie, en in ʼn era waarin dit duidelik word dat die mens nie afskeid geneem het van die gruwelike vergissings wat geskiedenis genoem word nie.

Ná die Chaos – min of meer die tyd waarin ons tans lewe – het die Wending aangebreek en moes die mensdom in ʼn referendum stem. Wat hulle ook gedoen het: ten gunste van ʼn ekonokrasie wat alle korrupsie, geweld én oorloë tot ʼn einde sou bring en waarin die Korporasie die septer sou swaai.

Die defekte wat ʼn mens reeds in demokrasie teëgekom het, dat “enigiets wat enigsins genuanseerd is, uit omloop (is)”, het ná die Wending des te meer gestalte gekry.

Benewens sosio-politieke skuiwe het die klimaat uiteraard ook sý bydrae tot agteruitgang gelewer. Tussen die son en die aarde is ʼn wolklaag en as die son wel deurkom, blaas ʼn sonfluit en moet almal terstond skutbrille opsit. Vliegtuie kan nie meer bedags vlieg nie, en Koreaans word wyer as net Noord- en Suid-Korea gepraat. Terloops. Dié twee lande is herenig.

Die hoofkarakter is Adam Burger, ʼn man wat besig is om met ʼn vergrootglas ʼn boek te lees oor die ouderdom, Tom Payne se The Ancient Art of Growing Old. Dit is ʼn kuns wat Burger self besig is om te beoefen, hoewel sy aktiewe jeug en middeljare (hy het by drie geleenthede die Comrades gehardloop) hom goed te pas kom.

Dit is nie om dowe neute dat Burger dié boek tussen bourommel uitgrawe nie: Boeke kry binne die bestek van dié roman veel meer betekenis as wat dit op die oog af lyk. So kom die Bybel ook ter sprake en hoewel die inhoud bevraagteken word, word veral die Ou Testament ʼn draad wat in die tekstuur van die roman ingeweef word. Daar is verwysings na die paradys, die vrug (weliswaar appels met wurms in), die slang en ʼn woesteny buite die tuin.

ʼn Wêreld sonder voëls het ook plae van Bybelse omvang tot gevolg. Nie net muskiete nie, maar ook paddas. En die gebruik van die woord plaag is nie oordrewe nie.

Soos in ander van Kalmer se boeke is dit universele temas wat aan die orde kom: dié van verlies, dood, selfdood, broosheid en bo alles die opperste liefde, wat op ʼn manier ook die verhaal is van Faustus, die man wat ʼn transaksie aangegaan het met die duiwel. En almal weet met dié vent (wat nie altyd ʼn man is nie!) wen jy dalk groot maar verloor jy nog groter.

Kalmer se droë humor slaan dikwels onverwags deur en die manier waarop hy dit aanwend is aanduiding van sy vakmanskap.

Ná ʼn ontmoeting met Mefistofela is dit ʼn Strauss-wals wat speel in die voertuig waarin Burger ry. Kalmer beskryf nie die spesifieke wals nie, maar dit kan in dié konteks kwalik iets anders wees as die opus 101 met die aanhaling uit Openbaring van die duiwel wat uit die hemel gewerp word. Pas ná die Strauss is dit Bruce Springsteen wat “Born in the USA” sing. Wat ʼn mens laat wonder of die duiwel wel verslaan is. Dwarsdeur die boek is dit die fyn spel met woord en teken, met simbool en betekenis wat die leeservaring so uitdagend én lonend maak.

In ʼn land sonder voëls het elemente van ʼn spanningsroman, veral die middelste gedeelte met die subtitel “Vlug”. Weerskante lê “Fladder” en “Land” en die toonaard van dié twee meer meditatiewe dele word medebepaal deur dié opskrifte. Ten opsigte van die onthutsende én berustende aard van besinning.

Harry Kalmer se In ʼn land sonder voëls word uitgegee deur Penguin. Die boek kos R280.
Koop die boek by Graffiti Boeke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.