Boekvoorlesing: Die liegdag

Nee, sê Fred, die môre hier na sy derde dubbel riet, net toe hy begin oopgaan.  Nee, sê hy, dís tyd dat ons weer liegdag hou. 

Oor die skrywer

Dr.  PG du Plessis is in die Vrystaat gebore waar sy pa ’n onderwyser was.  Met ’n amper obsessiewe belangstelling in die geskiedenis van sy medemense het Du Plessis hom verdiep in die lewens- en volksverhale van die Afrikaner.  Hy het ongeveer nege dramas, sewe kortverhaalbundels, ’n roman, agt draaiboeke en nagenoeg honderd televisie-dramatekste geskryf.  Voeg daarby dat Du Plessis die aanbieder van meer as 300 geselsprogramme op televisie was.  Hy word veral onthou vir die unieke mengsel van humor en melankolie in sy stories.

Oor die verteller

Johny Klein is ʼn gewilde verhoog- en radio-akteur in die Afrikaanse vermaakbedryf.  Hy is veral bekend vir sy voorlesing van Ferdinand Deist se Sandveldstories op RSG en sy rol as Ricky October in die radiovervolgverhaal Plattelanders.  Klein was ook in 2019 die aanbieder van Maroela Media se Aardklop-produksie, Kontreistories.

***

Hiermee ʼn uittreksel uit die kortverhaal “Die liegdag” deur PG du Plessis wat in Spekskieters verskyn. 

Nee, sê Fred, die môre hier na sy derde dubbel riet, net toe hy begin oopgaan.  Nee, sê hy, dís tyd dat ons weer liegdag hou.

Wys jou hy was nog nie heeltemal oop nie.  Dan sê hy sulke goed.

Jellie sê hy moet sy bek hou en dinge los waar dit die nag van die liegdag opgehou het.

Jannetjie sê hy sal hom nie net uitgooi nie, maar hy sal sy gesig vir hom oor skilder voor hy dit doen.  Hy moet sy riet suip en hom stil gedra, anders kan hy op ʼn ander plek loop drink.

Almal nog half rou van die lieg, al was dit drie maande gelede dat ons die liegdag gehad het.

Jy kry mos sulke dae.  Dis of die son skeef opkom, en die wind waai simpel, en jou skeermes foeter in jou vel in, en die pap brand aan, en die bus is laat, en jou vrou gaan onthou elke onreg van toeka, en jou kinders kom sê hulle dop, en jou baas het ʼn liefdesteleurstelling gehad, en jou meisie wil trou, en jou eie hond byt jou, en jy’t ʼn papwiel, en jy loop jou skuldeisers raak, en jy kan drank nie in jou liggaam kry nie.

Sulke dae sop boegoe en port nie eers my maag nie.

Nou moet ek sê die liegdag het beter begin.  Want ʼn liegdag reël jy nie.  Hy’s soos die weer.  Hy kom sommer.

***

Spekskiet is deur Dineke Volschenk saamgestel en in 2008 deur Lapa Uitgewers uitgegee.  Die verhaal het aanvanklik in 120+ Sommer-stories verskyn wat deur Lapa Uitgewers uitgegee is.

  • Luister hierbo na ʼn voorlesing van “Die liegdag” deur Johny Klein. Die voorlesing is in samewerking met Lapa Uitgewers moontlik gemaak. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.