Luister: Johny Klein – Storievertel se hartklop by Aardklop

Johny Klein is vanjaar die aanbieder van die Maroela Media Aardklop-produksie, “Kontreistories”. (Foto: Maroela Media)

Volgens Johny Klein het hy hom nog nooit self as ʼn gebore storieverteller gesien nie.

Maar wanneer hy sy mond oopmaak, vloei die stories byna organies uit sy mond en kan jy nie anders nie as om aan sy lippe te hang en weggevoer te word na ʼn wêreld waar dié stories jou realiteit raak.

“Lizz Meiring sê altyd ʼn goeie akteur is iemand wat ʼn storie kan vertel en dit is waar ek besef het, wel, ek is ʼn akteur en ʼn akteur is ʼn storieverteller. En daardie woorde het my nog altyd bygebly,” sê Klein.

Hy is een van die voorste verhoog- en radio-akteurs in die Afrikaanse bedryf, en veral onlangs onder meer bekend vir sy uiters gewilde voorlesing van Ferdinand Deist se Sandveldstories op RSG en sy rol as Ricky October in die radiovervolgverhaal Plattelanders.

En binnekort ook die aanbieder van die Maroela Media Aardklop-produksie, Kontreistories.

Liefde vir radio en teater is in Klein se bloed en selfs voor hy geweet het wat presies ʼn loopbaan as professionele akteur behels, het hy geweet dít is wat hy wil doen. Hy het op Groblershoop in die Noord-Kaap grootgeword en is steeds in sy hart ʼn platteland-mens.

“Ek is ʼn plattelander, so ons het nie geweet van sulke goed nie. Zak du Plessis was die eerste akteur wat ek ontmoet het. Ek onthou, ek wou net aan hom gevat het om te kyk of is hy regtig. Ek sien hom op die TV, hy is dan net ʼn prentjie, nou staan hy hier voor my,” lag hy.

Ná skool moes hy egter die Groot Stad trotseer om sy droom om akteur te word na te jaag. “Toe ek ʼn kind was, het ek altyd deelgeneem aan skoolkonserte en kerkkonserte, en ek het toe al vir myself gesê die eerste akteur of aktrise wat ek ontmoet, gaan ek vra hoe om in die bedryf in te kom,” vertel Klein.

Hy is ná skool na die Technikon Pretoria om drama te studeer. “In 1998 het ek vir Ilse Klink in Pretoria ontmoet en ek het haar gevra om my te help. Daardie vrou het my gehelp van dag een af tot vandag toe. Dit is nou 22 jaar later en sy help my nog steeds. Sy is regtig een van my grootste mentors in hierdie bedryf.”

Klein was in sy loopbaan al by iets van alles betrokke, van kinderteater tot die televisiereeks Plek van die Vleisvreters. Maar dit is die verhoogligte wat die bloed deur sy are laat bruis. “In teater is die lekkerste ding om die gehoor voor jou te hê, want dan weet jy jy kry daardie onmiddellike reaksie – hulle lag, hulle huil, jy kan sien hoe hulle voel. Voor ʼn kamera moet jy wag tot dit klaar verwerk is en uitgesaai word,” verduidelik hy.

Johny Klein (heel links) saam met Daniella Deysel, Chris Chameleon en Anna Davel in 2017 tydens ‘n repetisie vir “Flennie die Snare”. (Foto: Facebook via Frans Swart)

“Vir my is dit net lekkerder om voor ʼn gehoor op te tree as voor ʼn kameraman en die regisseur. Hulle kyk spesifiek om jou te kritiseer daardie dag, waar in teater is dit nie die geval nie.”

Maar hy is al só gewoond daaraan om op ʼn verhoog te wees, raak hy ooit nog op sy senuwees? Klein bars uit van die lag oor dié vraag. “Ek raak sommer nog verskriklik op my senuwees!” lag hy.

“Een keer was ek ʼn mime-kunstenaar op Egoli gewees. En ek het daar op en af geloop en Christine Basson het net gesien ek is verskriklik op my senuwees. Toe kom sy na my toe en sê vir my: ‘Johny, as ʼn akteur nie op sy senuwees is nie, beteken dit daar is iets fout.’ En dit ís so. Dit is wanneer jy nié op jou senuwees is nie, wat daar op die verhoog iets verkeerd loop.”

Klein gaan omtrent bedrywig wees by vanjaar se Aardklop-fees in Potchefstroom waar hy by twee produksies en kinderteater betrokke is. Een hiervan is Kontreistories wat deur Giep van Zyl en Maroela Media vervaardig is.

Klein is die aanbieder van Kontreistories, terwyl Fanus Hansen en Alanka Craffert as storievertellers op die verhoog sal wees, en die musiekduo ʼn Pel van my die musiek sal verskaf.

Die produksie herinner aan ʼn kuieraand om ʼn kampvuur met lekker musiek en heerlike stories uit die kontrei.

“Ek gaan ook twee stories vertel, en dan gaan dominee Fanus en Alanka vir ons stories vertel,” sê Klein. “Dit gaan regtigwaar ʼn lekker aand wees van kuier, stories vertel en lekker lag. Die stories wat ons gaan vertel, is kontreistories, so daar gaan ernstige stories ook wees en stories wat jou laat lag, maar alles kom uit die kontrei.”

Van voorlesings tot radioverhale, die storievertellery volg Klein waar hy gaan.

Johny Klein is op sy gelukkigste op die verhoog. (Foto: Facebook)

“Kyk, ek is ʼn radiomens,” sê hy. “Ek dink dit is waar my liefde vir storievertel vandaan kom. Toe ek op skool was, het ek elke middag by die huis gekom en die radio aangesit en dan het ek Stralejakkers en Wolwedans in die Skemer, en al daardie stories geluister. In die oggende as ek regmaak vir skool, het ek na Evert Snyman op die radio geluister. Dit was altyd deel van my.”

Wie sou kon dink dat daardie seuntjie met die groot drome in die klein dorpie in die Noord-Kaap uiteindelik een van die groot stemme in radio sou word?

“Ek glo nogal mens trek goed na jou toe aan,” sê Klein. “Ek glo dit is as gevolg van daardie radio-luister dat ek vir Evert Snyman eendag ontmoet het. En daardie man het my gehelp. Hy het my help voorberei vir radiovoorlesings, hy het vir my gewys waar om pouses te maak, hoe om die karakterisering te doen, hoe die styl van elke storie werk. Ek het so baie by hom geleer.”

Klein is ook tydens Aardklop betrokke by Die Pomporrelkonsert, ʼn produksie wat bestaan uit die stories van Ferdinand Deist, terwyl hy ook saam met Anna Davel betrokke sal wees by storievertellings vir kinders.

Johny Klein – dalk nie ʼn storieverteller gebore nie, maar beslis een gekweek.

“Ek het hierdie jaar ʼn voorlesing gedoen in Potchefstroom by ʼn vroueboekklub, en van die vroue het hulle kinders daar gehad. Ek het nogal vooraf gedink dit sal eerder ouer mense wees wat na sulke voorlesings kom luister. En terwyl ek lees, hoor ek net die kindjie roep sy maatjies: ‘Kom julle, kom kyk! Die oom vertel snaakse stories. Kom hoor, kom hoor!’ Storievertel is nie net vir grootmense nie. Dis vir almal.”

Kontreistories word van 25 tot 27 September by Aardklop in Potchefstroom aangebied. Kaartjies is nou by Ticketpro beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.