Braaf die Boerboel: ‘Dis braaf om te help’

 braaf-die-boerboel-helpende-hand.jpg

Ontmoet Braaf die Boerboel. Die illustrasies is gedoen deur Lezinka de Meyer.

Is dit ʼn voël? Is dit ʼn vliegtuig? Nee, dit is Braaf die Boerboel!

Braaf die Boerboel is ʼn splinternuwe hondeheld met skouermantel en al. Hy is soos Superman, maar in kakie geklee.

Die Afrikaanse groep Jan Jan Jan het reeds oor hom begin sing in hul liedjie “Braaf soos ʼn Boerboel”, en nou gaan Braaf self uiteindelik sy buiging maak in ʼn eksklusiewe strokiesprent.

Braaf die Boerboel, die breinkind van Boerboel Wear, is Solidariteit Helpende Hand se held wat na kinders se welstand en toekoms omsien.

Die reeks van tien hoofstukke is geskryf deur Elana Barker, befaamde skrywer van raakvat-rubrieke oor ouerskap. Die illustrasies is gedoen deur Lezinka de Meyer van Muse Creative Lab.

 braaf-die-boerboel-helpende-hand-02.jpg

Braaf die Boerboel en juffrou Sonneblom. Illustrasie deur Lezinka de Meyer.

“Helpende Hand het besluit om stories te skryf oor Braaf die Boerboel se dapperheid! Ons het dit vasgevang in ʼn reeks wat ouers vir hul kinders kan lees of wat kinders self vir mekaar kan lees. Ons wou graag die idee van die destydse Heksie en Bollie weer aan ons kinders bied,” sê René Roux, adjunk- uitvoerende hoof van kommunikasie by Helpende Hand.

“Ons wil graag ons kinders leer dat dit braaf is om soms ook bang en versigtig te wees, maar die heel braafste is om iemand anders te help wat nie so bevoorreg soos jy is nie. Jy is braaf as jy help, jy is braaf as jy gee. Dit is ons almal se plig om ʼn gesindheid van welwillendheid by ons kinders te kweek.”

Gaan lees gerus die reeks van 10 stories, een per maand, by www.braafdieboerboel.co.za op jou foon.

Die stories het die volgende temas:

  1. Braaf die Boerboel – Die eerste skooldag
  2. Braaf die Boerboel – Dis braaf om te deel
  3. Braaf die Boerboel – Dis braaf om te probeer
  4. Braaf die Boerboel – Dis braaf om jou sê te sê
  5. Braaf die Boerboel – Dis braaf om vas te byt
  6. Braaf die Boerboel – Dis braaf om slegte geheime te vertel
  7. Braaf die Boerboel – Dis braaf om iemand te help
  8. Braaf die Boerboel – Dis braaf om nie verkeerde dinge te doen nie
  9. Braaf die Boerboel – Dis braaf om vrae te vra
  10. Braaf die Boerboel – Dis braaf om te erken dat jy ʼn fout gemaak het

Braaf die Boerboel veg vir Solidariteit Helpende Hand se nasionale Skooltassie-projek wat jaarliks ʼn skooltassie vol skryfbehoeftes in behoeftige graadeentjies se hand sit. Helpende Hand doen ʼn beroep op lede van die publiek om met ons hande te vat en te verseker dat ons volgende jaar minstens 2 000 tassies landswyd kan versprei. Gee ʼn tassie vir ʼn behoeftige graadeentjie en help om ʼn verskil te maak. Besoek Tassie.co.za om ʼn skenking te maak of gaan koop vir jou en jou kinders elkeen ʼn Braaf-T-hemp by www.boerboelwear.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Miena ·

Aawww wat n wonderlike idee. Hulle kan gerus my Boerboel Reun kom leen vir n foto of twee…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.