Breinprofiel en geldsake: So werk jy met jou geld

Dr. Raché Rutherford is ‘n kreatiwiteitskenner. (Foto: Facebook)

Wat is ʼn welvaartingesteldheid? Dr. Raché Rutherford, ʼn kreatiwiteitskenner en medestigter van die Kreatiwiteitstigting van Suid-Afrika, sê die manier waarop jy dink oor geld kan jou help om welvaart te skep, of dit kan jou pootjie.

Rutherford is een van die medeskrywers van die boek Rich Brain, Poor Brain. Sy het die boek saam met, dr. Kobus Neethling en Wouter Snyman aangepak. In die boek wil hulle lesers toerus met praktiese raad oor hoe om jou denke te belyn om vir jou groter finansiële welvaart te besorg.

Sy het met Maroela Media gesels oor hoe jou denkvoorkeure, of dan jou breinprofiel, jou persoonlike finansiële beginsels beïnvloed.

Volgens Rutherford toon jou breinprofiel hoekom jy verkies om op ʼn sekere manier te studeer, kommunikeer of hoekom jy optree soos wat jy doen in jou persoonlike verhoudings. Dit verduidelik ook hoekom party van ons netjies is en ander weer in chaos kan lewe, en daarom kan dit ook ʼn goeie aanduiding wees van hoe jy verkies om jou geldsake te hanteer.

Rutherford verduidelik dat daar beslis nie iets is soos ʼn “beter breinprofiel” nie.

“Die ideale manier van dink is egter om ʼn heelbrein-benadering te volg as jy met jou geld werk. Dit beteken jy sal vaardighede moet ontwikkel wat natuurlik is vir al vier die kwadrante (of agt dimensies) van ʼn breinprofiel om ʼn bestuurder van jou geldsake te word.”

Die boek “Rich Brain Poor Brain” is ook binnekort in Afrikaans beskikbaar. (Foto: Facebook)

Neethling het die breinprofieltoetse ontwikkel wat jou kan help om jou denkvoorkeure te bepaal. Die goeie nuus is jy kry ʼn gratis toets as jy die boek aankoop.

“As jy eers weet wat jou eie breinprofiel is, sal jy jou finansiële besluite van die verlede nou beter kan verstaan. Jy sal nou ook meer insig hê om te weet hoe jy jou besluite moet aanpas vir beter finansiële keuses in die toekoms.”

  • Rutherford het verduidelik hoe elke breinprofiel sal verkies om met geld te werk. Luister na die volledige onderhoud bo-aan hierdie berig.
  • Rich Brain, Poor Brain deur dr. Kobus Neethling, Wouter Snyman en dr. Raché Rutherford is beskikbaar by Bargain Books, alle goeie boekwinkels en kan aanlyn by Amazon bestel word. Besoek die Kobus Neethling-instituut se webwerf of Facebook-blad vir meer inligting oor die boek, breinprofiele en kreatiwiteit.
  • Luister hier na Maroela Media se gesprek met dr. Kobus Neethling oor die boek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.