ChatGPT help skryf aan gids vir slimfoonfotografie

Albert Bredenhann het sy boek, ‘Smartphone Photography: It’s Monkey Business’ saam met ChatGPT geskryf. (Illustrasie: Verskaf)

Die bekende fotograaf Albert Bredenhann het onlangs een van die eerste skrywers in Suid-Afrika geword wat ʼn boek met behulp van ChatGPT, ʼn Kunsmatige Intelligensie- (KI-)kletsbot, geskryf het.

ChatGPT is ʼn kletsbot wat reageer op eenvoudige instruksies met uitgebreide teks wat saamgestel word uit data wat op die internet beskikbaar is.

“Dit was baie lekker om ʼn boek saam met ‘iemand’ te skryf wat meer as ek weet,” skerts Albert, en voeg dan by: “Ek het besluit ek kan en wil dit doen en so het ek begin om ondersoek in te stel na hoe ChatGPT werk, tot wat dit in staat is en waar die grense lê.”

Sy boek, met die titel Smartphone Photography: It’s Monkey Business, is ʼn omvattende gids waarmee Albert gebruikers wil help om hul slimfoonfotografievaardighede ʼn hupstoot te gee.

Met meer as 50 wenke, truuks, praktiese raad en tegnieke kan mense leer hoe om die meeste waarde uit hul slimfoonkamera te put. Dit is juis met behulp van OpenAi se chatGPT geskryf om te verseker dat die inligting op datum en relevant is vir vandag se slimfoonfotografie-entoesiaste.

Die voorblad en alle illustrasies is deur MidJourney, ʼn program soos OpenAI se DALL-E wat vinnig digitale foto’s en illustrasies kan skep met ʼn eenvoudige versoek, geskep. KI-gegenereerde illustrasies het wel ʼn vangplek, soos wat Albert ook self met die gebruik daarvan agtergekom het.

“Daar is net een van elke illustrasie. Die foto by hoofstuk 19 (‘Say cheese’) van die bejaarde egpaar wat breed glimlag, is uniek en al voer ek weer dieselfde instruksies vir MidJourney, sal die grafika nie dieselfde uitkom nie. So jy moet seker maak dat jy die illustrasies stoor, want anders verloor jy dit,” vertel hy.

‘n KI-genereerde illustrasie wat in Albert Bredenhann se boek, ‘Smartphone Photography: It’s Monkey Business’, verskyn. (Illustrasie: Verskaf)

“Ek dink dit is wel belangrik dat mense weet ek neem nie al die krediet vir hierdie boek nie,” sê Albert. “Dit is in samewerking met ChatGPT geskryf en dit word ook so op die kopieregbladsy aangedui.

“Dit is ook nie te sê dat ek van nou af net op hierdie manier boeke gaan skryf of dat dit vir enige genre geskik is nie. Wat ChatGPT nie het nie, is ʼn hart om mensestories te vertel. Ek twyfel of hierdie instrument sou werk om Wimpers op lakens te skryf.”

Albert sê dit was ʼn aangename en leersame ervaring, en hoewel sommige dele van die proses vinniger afgehandel sou kon word, het dit steeds tyd geneem om te beplan en die inligting wat die kletsbot gegeneer het te kontroleer.

“Ek is meer as tevrede met die eindproduk. Ek het ook in die proses baie geleer, veral oor my eie veld. Soos wat ChatGPT op my instruksies met nuwe teks gereageer het, het ek dit amper soos ʼn leser ook vir die eerste keer gelees.”

Smartphone Photography: It’s Monkey Business kos R100 (prys onderworpe aan verandering) en die e-boek is op Amazon beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

André ·

Korreksie: ChatGPT het nie toegang tot die Internet data nie (“Live” data). Dit was geleer met ‘n stel informasie wat tot en met 2021 op datum was. Ek het dit gevra. ChatGPT wil ook nie voorspellings maak nie al gebruik dit, dit se histories data.

TruthDealer ·

Vir my as kunstenaar is hierdie kuns AI n ding wat my nie juis geval nie. Ek is op n massiewe fotografie en kuns webwerf en soveel mense doen nou AI kuns, ipv om digitale kuns op die outydse maniere te doen. Die resultaat is vervelig, alles lyk feitlik in dieselfde trant. Kuns is n talent. “Kunstenaars” tik n paar woorde in, en die masjien spoeg vir hulle n kunswerk uit, wat hulle dan Hul kunswerk noem. This is the type of thing that eventually will make all art meaningless, in my opinion.
My jongste dogter sê ek is “elitist” en moet die talentloses ook gun om mooi goed te kan maak. Maar hier is die ding: Ek het my sukses met digitale kuns bereik deur ingebore kreatiwiteit PLUS JARE se oefen, nuwe idees probeer en met honderde metodes te eksperimenteer. Sorry but typing a few words and letting Skynet spit something out for you is not being an artist. It’s like ordering a take-away from a fast food shop instead of cooking a delicious healthy meal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.