Fotografiese blik op uniekheid van vroue

Albert Bredenhann (Foto: Verskaf)

Duisende vroue het al boudoir-fotosessies by die bekende fotograaf Albert Bredenhann gedoen, maar in Wimpers op lakens zoem Bredenhann se fotografiese lens in op ʼn handvol vroue se persoonlike belewings.

“Ek kan nie net een storie uitsonder wat ʼn besondere invloed op my gehad het nie, want elke vrou se storie gaan oor ʼn ander emosie en dit het my op verskillende maniere aangeraak,” vertel Bredenhann aan Maroela Media.

In die openingshoofstuk vertel die bekroonde skrywer Sophia Kapp hoe dit gekom het dat sy Bredenhann se boek skryf, gevolg deur ʼn verduideliking van die konsep van boudoir-fotografie en ʼn vrywaring dat skuilname deurgaans gebruik is.

Daarna word 12 vroue se stories vertel met die doel om ʼn openhartige blik op ʼn fotograaf, in hierdie geval Bredenhann, se ervaring van vroue se emosies, uitdagings en vreugdes te bied.

Dié verhale strek van die vrou wat iets spesiaals vir haar man wou doen en ʼn ma wat drome deur haar 14-jarige dogter najaag, tot ʼn 29-jarige vrou met letsels as gevolg van derdegraadse brandwonde en die vrou in ʼn rolstoel wat sukkel om die dood van haar kind te verwerk.

Die boodskap wat Bredenhann hoop om by lesers – enigeen wat die boek lees, nie net vroue nie – tuis te bring, is dat elke vrou op haar eie manier uniek, spesiaal en mooi is.

“Iemand anders, ongeag of dit jou man, ʼn geliefde, vriend of vriendin is, kan hoeveel keer per dag vir jou sê jy is mooi, maar dit is eintlik sinneloos as jy dit nie self glo nie.

“Hoe jy oor jouself voel is in elk geval belangriker as wat ander mense van jou dink of wat die wêreld wil hê jy moet wees.

“Ek sê wel nié dit is oukei om net te wees en nie na jouself om te sien nie. Alle vroue hoef nie elke dag grimering te dra nie, maar jy moet darem ʼn selfrespek hê en jouself versorg,” sê hy.

Dit is makliker gesê as gedaan om hierdie boodskap van Bredenhann in ʼn titel en met ʼn voorbladontwerp vas te vang. Ná hordes moontlikhede is daar op Wimpers op lakens besluit.

“Dit was vir my ontsaglik moeilik om op ʼn titel te besluit, want ek het geweet hoe belangrik dit is. As ek nou terugdink sou die eerste titel wat ek in gedagte gehad het, 1001 vroue op my bed, nie gewerk het nie, want mense wat dit moet lees, sou nie die boek gekoop het nie. Wimpers op lakens klink vir my reg en ek hoop elke vrou lees dit.”

Vandat Bredenhann vir Kapp genader het, het dit vier jaar geneem om die boek te voltooi. Oor dié samewerking sê Bredenhann dat Kapp se vertolking van sy stories in die kol is.

“Die eerste hoofstuk van die boek is so mooi geskryf. Sophia sê dit soos dit is en baie mense wat dit al gelees het, sê dit klink soos ek.”

Hoewel Bredenhann homself nie as ʼn skrywer ag nie, hoop hy om die toekoms weer saam met ʼn skrywer te werk om sy stories met mense te deel. “Ek wil aanhou gee en ʼn verskil maak en ek hoop dat mense deur my fotografie en die stories wat daaruit kom, geluk sal ervaar.”

Wimpers op lakens kos R249 (prys onderworpe aan verandering). Besoek Pixel Pro Photography se webwerf om die boek aan te skaf of koop die boek by Graffiti Boeke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.