Cradock se skrywersfees verryk lewens

Een so ʼn persoon is Freda Froehlick, vir wie hierdie fees ʼn poort na ʼn nuwe lewe oopgemaak het. (Foto verskaf)

Deur Sarie Marais-Nell

Wat gebeur as mens ʼn kreatiewe klippie in die middel van die Suid-Afrikaanse dam gooi? Dit veroorsaak rimpelings wat baie meer mense as net kunstenaars bevoordeel. Sarie Marais-Nell bekyk die Cradockse skrywersfees wat sedert 2010 baie lewens laat groei en blom.

Maak nie saak uit watter hoofstad ʼn mens Cradock toe ry nie, hierdie Oos-Kaapse dorp lê regtig in die middel van die (Suid-Afrikaanse) wêreld; 800 km vanaf Kaapstad, Johannesburg en Durban. Bloemfontein lê 400 km nader en Upington slegs 680 km.

Waarom is hierdie inligting so belangrik? Want Cradock se Schreiner Karoo Skrywersfees, oftewel die ‘klein kultuurfees in die middel van die wêreld’, se rimpels strek jaarliks al wyer en verryk met elke fees meer lewens.

Een so ʼn persoon is Freda Froehlick, vir wie hierdie fees ʼn poort na ʼn nuwe lewe oopgemaak het.

Hoewel Freda se kreatiwiteit van altyd af geblom het met kleinkoekies bak, sing en gedigte skryf, het hierdie fees haar geïnspireer om haar ‘laai vol gedigte’ te publiseer.

“Met die eerste Cradockfees het een van die organiseerders, Lisa Kerr, my gevra om die Neville Alexanderprogram aan te bied ter ere van Neville Alexander − ʼn voorvegter vir Afrikaans. Tydens Alexander-middae kon ons streek se mense ook hul gedigte voorlees, ʼn eerste keer dat baie van die inwoners so ʼn geleentheid gekry het.”

Freda Froehlick saam met die skrywer Etienne van Heerden. (Foto verskaf)

Sedertdien bied Freda jaarliks hierdie program aan en is sy ook lid van die span wat tydens die fees skoolprogramme aanbied en moeilike onderwerpe takel: “Dan gesels ons en tieners oor swangerskap, satanisme, dwelms en ander gesondheidsgevare.

“Ek bied ook werkswinkels vir skoolkinders aan oor die skryf van gedigte. Ek het self verskeie werkswinkels bygewoon, maar ek vertel hulle ook hoe skryfwerk help om al die emosies wat tieners so deurmekaar maak te hanteer. Ek vertel hulle hoe ek met depressie geworstel het, hoeveel waarde dit vir my gehad het om te skryf oor my lewe en my grootwordprobleme. Ons kinders sit met so baie talente, maar hulle weet nie hoe om dit te ontwikkel nie.”

Terwyl Freda jaarliks by die Schreiner Karoo Skrywersfees soos al ons gewone mense hard probeer om alles op die program by te woon – gesprekke met skrywers asook ʼn wye verskeidenheid ander skeppende kunste-items – verwelkom sy die geleentheid wat gewone mense uit haar omgewing kry om deel te neem aan storievertel, musiekoptrede, die deel van hul gedigte en ander talente.

“Só kry ons hele gemeenskap kans om deel te raak van die fees.”

In 2021 kon sy haar eerste digbundel, Doudruppels, vashou. “My boek is so genoem omdat die meeste van my tikwerk snags gebeur, in die ure wanneer doudruppels in die natuur gevorm word. Hierin skryf ek oor alles van die lewe – die liefde, covid-19 en die dood, hadidas, die mense van my omgewing.

“Met Doudruppels se bekendstelling was dit so ʼn lekker gevoel; my klasmaats en kinders se ondersteuning; ons dorp se burgemeester wat my uitdaag om nie hier te stop nie, maar eerder aan te hou!

“Daarom heet my tweede boek Reëndruppels. Reën is ʼn bietjie harder as dou – en so ook die inhoud.” Hierdie tweede boek is tans by die drukkers.

Freda, met haar voorliefde om ʼn foto by haar gedigte te plaas, beplan reeds ʼn derde boek − Die dogtertjie is nie dood nie.

Freda saam met die skrywer EKM Dido. (Foto verskaf)

Sy het onderwys studeer voordat sy met Cradock se bejaardes en by hul munisipaliteit gewerk het, waarna sy drie jaar gelede ʼn nuwe werk in Oos-Londen aanvaar het. “Ek bied opvoedingsprogramme in groepverband aan vir Sanral-werkers oor sake soos gesinsbeplanning, TB, HIV/Vigs en gesinsgeweld. Danksy tegnologie tref ek deesdae my feesreëlings hier uit Oos-Londen uit.”

Kort voor hierdie fees op Jeugdag begin, pak Freda haar tas en gaan verryk haar siel in Cross-straat se Schreiner House (een van Cradock se oudste geboue), waar vanjaar ook ʼn interaktiewe buitelug koswerkswinkel deur Basil Mills plaasvind, waar stalletjies en opspring-kunsplatforms vir Cross-straat nuwe lewe gee en sy sang, beeldhouwerk en leunstoelgesprekke tussen skrywers in die Vic (Victoria Hotel) kan geniet.

“Eintlik gaan alles hier oor storievertel. Want of dit is met gedigte, boeke, films, musiek of beelde, alles vertel ʼn storie.”

Dit gaan ook oor netwerke – want dis hier waar Freda mense soos Antjie Krog, Etienne van Heerden, EKM Dido en ander rolspelers in die Suid-Afrikaanse kultuurwêreld ontmoet het, en heerlike foto’s saam met hulle gekry het.

Freda, met haar voorliefde om ʼn foto by haar gedigte te plaas, beplan reeds ʼn derde boek. (Foto verskaf)

Vanjaar sien sy veral uit na gesprekke van skrywers soos Sally Andrew van Milktart Murders-faam, Izak de Vries, Etienne van Heerden, Chris Marais and Julienne du Toit, asook vertalers en uitgewers.

Net sodra die formele fees verby is, skud aanbieders hul vere reg en fokus hulle hul energie op die skole, waar onderwysers tydens werkswinkels wenke kry oor hoe om leerders se kreatiwiteit op ʼn prettige manier te ontwikkel, en leerders die fokus raak. Dit behels ook die uitdeel van 20 kinderboeke op geheuestokkies sodat al meer kinders – en hul ouers – toegang tot boeke kan hê.

“Ek wens ek het hierdie praktiese riglyne reeds vroeër in my loopbaan ontdek,” vertel Chalaine Fleurs, ʼn onderwyseres by Hofmeyr DRC Primêr, 60 km buite Cradock. “Die gedagte dat leerders byvoorbeeld enige woord of term uit ʼn resepteboek mag kies en daarvolgens ʼn gedig skryf, maak soveel pret oop vir leerders. Hulle besef nie eens hulle is besig met skoolwerk nie.”

Dis juis een van die organiseerders se doelstellings dat elke plattelander sy of haar potensiaal besef en uitleef. Juis om hierdie rede is verskeie museums van die streek hierby betrokke en het manne soos Etienne van Heerden en Coenie de Villiers destyds onderhandelinge gevoer en die Avbob Gedigteprojek betrokke gekry by hierdie fees wat nie net Olive Schreiner se lewe gedenk nie, maar ook die lewens van gewone mense verryk.”

Om te dink dié klein kultuurfees veroorsaak soveel groter rimpels na die wyer wêreld. Om te dink enigeen van ons kan ook nog deel word hiervan!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.