David Walliams opgewonde oor boektoer in SA

David Walliams word wêreldwyd as een van die invloedrykste kinderboekskrywers beskou.

Kodenaam Piesangs, Die aardigste kinders op aarde, Mnr Stink, Boudebiljoenêr en Oupa ontsnap, is enkele van die Afrikaanse vertalings van David Walliams se kinderboeke wat die jong klomp (en hulle ouers!) behoorlik laat lê van die lag.

Jonathan Ball, wat Walliams se boeke onder die druknaam HarperCollins Children’s Books publiseer, het pas aangekondig dat Suid-Afrikaners in Mei vir Walliams, ʼn Britse komediant, skrywer en akteur, in persoon sal kan ontmoet. Dit vorm deel van ʼn landswye toer om sy kinderboeke onder plaaslike lesers te bemark.

“Ek is baie opgewonde oor die toer en om soveel as moontlik lesers te ontmoet. Ek is dankbaar vir al die wonderlike dinge wat julle oor die jare vir my gedoen het en die manier waarop my werk deurentyd ondersteun word,” het Walliams in ʼn Instagram-video gesê.

Volgens Jonathan Ball kan aanhangers van Walliams se alomgewilde stories uitsien na gesprekke oor wat sy kreatiewe proses behels, die vreugde daarvan om stories te vertel en die eerstehandse ervaring van hierdie skrywer se humorsin.

Walliams word wêreldwyd as een van die invloedrykste kinderboekskrywers beskou. Sedert sy debuutboek, The Boy in the Dress, in 2008 verskyn het, is sy boeke in 55 tale vertaal en daar is meer as 56 miljoen eksemplare van sy boeke verkoop.

Kodenaam Piesangs (Code Name Bananas), Die aardigste kinders op aarde (The World’s Worst Children), Mnr Stink (Mr Stink), Boudebiljoenêr (Billionaire Boy) en Oupa ontsnap (Grandpa’s Great Escape), is van die titels wat in Afrikaans deur Protea Boekhuis uitgee is.

Walliams se boektoer sluit geleenthede in Pretoria, Johannesburg en Kaapstad in, en ʼn bespreking wat tydens die Franschhoek Literêre Fees plaasvind. Lesers kan Jonathan Ball se sosialemediaplatforms dophou vir die jongste nuus oor kaartjieverkope en besonderhede oor die verskillende geleenthede wat beplan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.