Deon Meyer, Dana Snyman op Suidoosterfees se skrywersprogram

Die gewilde skrywer Deon Meyer. (Foto: M-Net)

Die Suidoosterfees, Jakes Gerwel-stigting en NB-Uitgewers bederf boekwurms op 13 en 14 November met ’n diverse skrywersprogram.

Die jaarlikse Jakes Gerwel-gesprekke word gratis by kykNET Atlantic Studios in Kaapstad aangebied, en spog met gunstelinge soos Deon Meyer, Antjie Krog, Diana Ferrus, Dana Snyman en Ryan Pedro.

Deon Meyer praat met Elna van der Merwe oor sy nuwe trefferboek, Donker drif, en Dana Snyman gesels met Erns Grundlingh oor sy 100 gunstelingstories wat in die bundel Onder een dak opgeneem is.

Nuwe lig word gewerp op die verhaal agter Nelson Mandela se vrylating tydens ’n gesprek tussen Riaan de Villiers en Jan-Jan Joubert. Vir die boek Prisoner 913 het skrywers Riaan de Villiers en Jan-Ad Stemmet in voorheen geheime rekords oor die oudpresident gedelf.

Ivor Swartz se aangrypende verhaal, Die verlore seun vannie Gaatjie, kom onder bespreking wanneer die skrywer deur Frazer Barry uitgevra word. In Vers en vrou kom van Afrikaans se gewildste digters byeen om te gesels en voor te lees. Digters soos Antjie Krog, Diana Ferrus, Shirmoney Rhode en Truise Prinsloo word deur die uitgewer Nèlleke de Jager oor die bloemlesing Vers en vrou uitgevra. Ryan Pedro, wie se debuutbundel Pienk ceramic hondjies groot opspraak verwek, is ook aan die woord.

Die jongspan sal gaande wees oor Rafiek Mammon se Faizel en die sterre. Dié hartroerende verhaal gaan oor ’n seuntjie wat sy pa en die lewe met moeite in die oë kyk omdat hy “anders” is.

Antjie Krog (Foto: Antonia Steyn)

In Grendeltyd in woorde deel Sara Jayne King, Kelly-Eve Koopman, Jonathan Ancer en Tracy Going menings oor die Covid-19-pandemie wat die wêreld op sy kop gekeer het. Hulle boek Lockdown Collection kyk na die emosionele, spirituele én humoristiese aspekte van die gevreesde pandemie wat soos ’n veldbrand versprei het.

Willem Anker, wat onlangs op die langlys van die gesogte Bookerprys was, kom praat oor sy jongste roman, Skepsel. Tertius Kapp vra Anker uit oor die boek wat deur kritici hoog aangeprys word. SJ Naudé beskryf Anker se boek as “’n roman wat ’n mens treiter en verbaas en verontrus en van vreemde dinge leer”.

Die Suidoosterfees nooi boekwurms om te deel in die gesprekke deur Afrikaans se voorste skrywers. Alle gesprekke is gratis, maar sitplekke is beperk. Om teleurstelling te voorkom, bespreek nou jou plek deur ʼn e-pos te stuur na [email protected] of besoek die Suidoosterfees se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.