Die reeks wat op elke kind se boekrak hoort

Die Vind uit!-reeks (Foto: Louise Viljoen)

Ek is gaande oor die Vind uit!-reeks en glo dit hoort sonder twyfel op elke kind se boekrak. Dit is perfek vir skooltake en sal leergierige kinders van nege jaar en ouer ure lank besig hou. Selfs volwassenes sal die boeke baie leersaam en interessant vind.

Elke boek van 64 bladsye is tjok en blok vol sleutelfeite, ongelooflike prente, tydlyne, aktiwiteite, vasvrae en woordelyste. Die boeke is kleurvol en prettig en die inligting daarin vervat relevant en op datum. Elke boek bespreek in detail ’n wonderlike veld waarvan feitevrate graag meer sal wil leer. Die goeie nuus is dat die inhoud ondersteun word deur Dorling Kindersley se bekroonde, wêreldbekende findout!-webwerf, waar bykomende inligting gevind kan word.

Vind Uit! Kodering

Jong rekenaarfoendi’s sal hierdie boek nie maklik neersit nie. Leer oor rekenaarprogrammering en hoe dit alles om ons beïnvloed. Vind uit hoe kode gebruik word en hoe rekenaars kode interpreteer – loer ook binne-in ’n rekenaar. Lees oor die geskiedenis van kodering, rekenaarvirusse, algoritmes, die internet, apps en speletjies. Van die 28 hoofstukke sluit in: “Programme”, “Beroemde kodeerders”, “Kodeerfeite en -syfers”, en “Leer om te kodeer”.

Koop die boek nou by Graffiti Boeke

Vind Uit! Robotte

Watter kind word nie absoluut gefassineer deur robotte en die superkoel tegnologie wat hulle maak werk nie?! Lees oor mensagtige robotte, robotte met spesifieke vermoëns, robotte met gevoelens, robot-speelgoed en -speletjies, en veel meer. Ontdek hoe en hoekom robotte gemaak word en leer meer oor die rekenaars wat robotte ontwikkel en bou. Van die 28 hoofstukke sluit in: “Soorte robotte”, “Pret met robotte”, “Bou ’n robot”, “Kodeer ’n robot”, “Animatronika”, “Sagte robotika”, “Wat is kunsmatige intelligensie”, “Toekoms van robotika” en “Robotfeite en-syfers”.

Koop die boek nou by Graffiti Boeke

Vind Uit! Ingenieurswese

Die wonderlike wêreld van ingenieurswese word voorgehou in hierdie kosbare boek. ’n Wye verskeidenheid onderwerpe word aangeraak soos onder meer robotte, brûe, geboue, vliegmasjiene, stoomenjins, vuurpyltegnologie, en veel meer. Lees oor asemrowende ingenieursprestasies van toeka tot nou en vind uit wie dit gebou het. Leer ook meer oor hoe hefbome, katrolle, wiele en asse werk. Van die 28 hoofstukke sluit in: “Probleemoplossing”, “Materiale”, “Masjiene wat verstom”, “Nanotegnologie”, “Ondergronds”, “Ruimte-ingenieurs”, “Bio-ingenieurswese”, “Gaan groen” en “Ingenieursfeite en -syfers”.

Koop die boek by Graffiti Boeke

Vind Uit! Wetenskap

Hierdie verstommende boek wemel van verrassende wetenskaplike feite en opwindende eksperimente. Ontdek wat die verskil is tussen atome, molekules, mengsels en verbindings. Leer waaruit bestaan materie en hoe elektrisiteit en magnetisme werk. Lees meer oor die voedselketting, die weer en die watersiklus, en vind uit hoe plante werk. Van die 28 hoofstukke sluit in: “Kragte”, “Wrywing”, “Swaartekrag”, “Energie”, “Klank”, “Lewende dinge”, “Verspreiding van saad” en “Wetenskapfeite en -syfers”.

Koop die boek nou by Graffiti Boeke

Vind Uit! Aarde

Liefhebbers van aardrykskunde sal baie pret hê om meer oor die wonders van ons mooie planeet te leer – van die vuurwarm kern binne-in die aarde tot die berge, woestyne en oseane op die oppervlakte. Leer oor die vier seisoene, die watersiklus, die rotssiklus, die ekostelsels en waarom ons grond nodig het. Van die 28 hoofstukke sluit in: “Die aarde se atmosfeer”, “Aardbewings”, “Vulkane”, “Erosie en verwering”, “Bewaring”, “Klimaatsverandering”, “Kartering van die wêreld” en “Feite en statistiek”.

Koop die boek nou by Graffiti Boeke

Vind Uit! Haaie

Vind uit hoe om allerlei haaispesies uit te ken en weet wat elkeen besonders en uniek maak. Bekyk ’n haai se skelet en organe. Leer meer oor hulle diëte, sintuie, habitat en migrasie. Ontdek hoe jy die oseane kan help bewaar en jou deel kan doen om bedreigde haaie te beskerm. Van die 28 hoofstukke sluit in: “Prehistoriese haaie”, “Haaie se eiers”, “Etenstyd”, “Jag”, “Filtreervreters”, “Waar woon haaie”, “Bedreigde haaie” en “Feite en syfers”.

Koop die boek nou by Graffiti Boeke

Die Vind uit!-reeks is by toonaangewende handelaars asook direk by LAPA Uitgewers beskikbaar.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Blommie ·

Is dit maklik leesbaar en verstaanbaar vir 7jariges.
My dogtertjie het n liefde vir lees en wil dit nie wegvat deur boeke te kry wat haar lees lus bederf nie.

Saartjie ·

Jy is baie bevoorreg om ‘n kind te hê wat ‘n liefde vir lees het. Die goeie nuus is dat daar min is wat ‘n ware leeslus sal bederf. As ‘n selferkende leesverslaafde het ek van kleinsaf boeke gelees wat op baie ouer lesers gemik was. En as geen boeke naby was nie, het produkinligting op die Post Toastie-boks of my pa se tegniese tydskrifte ingestaan – al verstaan ‘n mens nie alles nie, kyk jy prentjies, lees opskrifte en maak so sin uit dit wat jy sien. Ek hoop jou meisiekind bly ‘n leser …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.