Die waarde van gemeenskappe en verhoudings

Ezanne Swanepoel is die skrywer van ‘The Connected Rainmaker: Lead with Giving and the Rest Will Come’. (Foto: Verskaf)

Ezanne Swanepoel het sowat sewe jaar gelede saam met haar Kanadese man terug na sy geboorteland gekeer, en hoewel sy nou in ʼn ander land woon, koester Ezanne steeds haar geliefde Afrika en sy mense.

“Ek is eers ʼn Suid-Afrikaner en dan ʼn Kanadees,” skerts sy, en voeg dan by: “Die idee was nog altyd om Afrika op die een of ander manier te bly dien.”

Afgesien van die diens wat sy die afgelope 18 jaar deur haar onderneming, African Rainmaker Group, lewer, het Ezanne onlangs ook ʼn boek, getiteld The Connected Rainmaker: Lead with Giving and the Rest Will Come, geskryf in die hoop om ʼn verskil in iemand se lewe te maak.

Ezanne reis nog gereeld na verskeie Afrikalande, met die uitsondering van reisbeperkings tydens die wêreldpandemie, en wat haar reise na Suid-Afrika nog altyd opgehelder het, is die mense se glimlagte.

“Mense lag altyd op straat en dit beteken nie dat alles altyd goed gaan nie, maar Suid-Afrikaners het ʼn manier om die positiewe raak te sien. Ons het ʼn geweldige deursettingsvermoë om groot uitdagings te hanteer.”

Tydens haar laaste besoek in April het Ezanne ervaar dat Suid-Afrikaners se glimlagte minder was.

“Hiermee bedoel ek nie dat mense se glimlagte heeltemal verdwyn het en dat dit nie daar is nie. Dit was net nie so opmerklik soos voorheen nie.”

Dit het ʼn behoefte by Ezanne laat opvlam om ʼn boodskap van hoop met Suid-Afrikaners te deel.

“Ek wil hoop bring deur hulle daaraan te herinner dat ons gemeenskappe en mekaar het, en dit is miskien vergete. Nie omdat mense nie meer omgee nie, maar omdat almal so moeg en uitgeput is.”

Haar onderneming, African Rainmaker Group, het van die begin af ʼn sterk gemeenskapsfokus gehad en volgens Ezanne is die doel om groepe te ontwikkel wat saamwerk.

“Ek dink een van die grootste geskenke van Afrika wat ek saam met my dra, is ons belange in die gemeenskap. Dit is werklik ʼn voorreg om deurentyd ʼn gemeenskap rondom jou te hê, want daardeur voel ons nooit heeltemal geïsoleerd nie.”

Teen die agtergrond van gemeenskappe se eenheidsgevoel het Ezanne tydens die Covid-19-pandemie opgemerk hoe baie mense uitdagings met hulle geestesgesondheid ervaar.

Dit het vir haar gevoel of die tyd reg is om ʼn boek oor verbondenheid te skryf.

“Ek het teruggekyk na my belewings en die sukses wat ek danksy diepgewortelde verhoudings ervaar het. Dit het my lewe in die algemeen verryk.

“In die sakewêreld het ek gevind dat ek deur menseverhoudings nie net in klein gemeenskappe ʼn invloed kan hê nie, maar ook op internasionale vlak. Dit is natuurlik nie uit my eie toedoen nie, maar te danke aan ander mense wat aan my sy staan en my help om dit te vermag.”

The Connected Rainmaker is vir lesers wêreldwyd geskryf, maar veral vir mense wat hulleself in isolasie geplaas het, of steeds wegskram van wisselwerking met ander mense, vertel Ezanne.

Tydens die Covid-19-pandemie het mense weens gesondheidsredes geïsoleer, maar selfs noudat die pandemie grootliks onder beheer is, trek menseverhoudings nog aan die kortste ent.

“Partykeer is die lewe maar net baie besig vir mense en hulle het nie tyd om in verhoudings te belê nie, of dit mag dalk wees dat hulle sterk op tegnologie fokus en minder tyd saam met vriende of familie deurbring,” sê sy.

Die uiteinde hiervan is dat mense moontlik uit voeling met hulleself kan raak en hierdeur fokus verloor of nie meer weet wat hulle vervul nie.

In The Connected Rainmaker wil Ezanne mense wat haar boek lees, help om duidelikheid te kry oor hoe ʼn vervulde lewe vir hulle lyk. Sy wil lesers ook wys hoe om die pad na vervulling saam met ander eendersdenkende mense te stap.

Die proses behels vyf stappe wat jou deur ʼn beproefde metode lei om op ʼn sinvolle manier met ander mense te skakel. Dit bied ook leiding oor hoe om jou eie droomlewe en ander sʼn te bereik – dit gaan immers oor samewerking en gemeenskap.

Ezanne hoop dus om lesers met The Connected Rainmaker nader te bring aan hulleself en dit waaroor hulle passievol is.

“As lesers my boek lees, moet dit hulle daaraan herinner dat elkeen ʼn keuse het, maar niemand kan ʼn besluit neem totdat hulle duidelikheid het nie. Hoeveel van ons neem ooit daardie tyd om sekerheid oor ʼn saak te kry? Die lewe gaan nie vir jou daardie kans gee om dit te kry nie; jy moet dit self vat.”

  • The Connected Rainmaker is op Amazon Die boek kos $11,49 (ongeveer R200) (prys onderworpe aan verandering.)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.