Entrepreneurskap kan Suid-Afrika red

George Foley se boek bevat ‘n duisend werkbare idees vir kleinsakeondernemings, wat ‘n mens vir so min as ‘n R1 000 kan begin. (Foto verskaf)

Volgens Statistieke Suid-Afrika sit 32,9% Suid-Afrikaners sonder werk of ’n behoorlike inkomste. Dit is ook onrusbarend dat sowat 12% gegradueerdes werkloos is en 80% pensionarisse minder as R10 000 per maand verdien, wat beteken dat ons afgetredenes van die armste in die wêreld is. Meer as 40% vroue sukkel ook byvoorbeeld om werk te kry. Die Nasionale Kredietreguleerder het onlangs sy kommer oor Suid-Afrikaners se verhoogde skuldvlakke uitgespreek.

Suid-Afrika se kommerwekkende maatskaplike probleme en uitdagings is niks nuuts onder die son nie. “Dit hang net af hoe ons hierdie yslike probleem van werkloosheid en finansiële skuld takel.”

Dit is die mening van George Foley, ʼn gesertifiseerde finansiële adviseur en voormalige joernalis wat die boek getiteld Dream Big Start Small – 1000+ Business Ideas You Can Start Today, geskryf het. Hy het die boek neergepen juis omdat hy glo entrepreneurskap is die antwoord op talle van die land se uitdagings met werkloosheid.

“In 1994 het die Rwandese regering die projek Rwanda Vision 2020 van stapel gestuur met die hoofdoel om hoofsaaklik ’n kennis-gebaseerde samelewing te skep. Ons sal onthou dat die Rwandese bevolking voor dit aan ongelooflike wrede volksmoord blootgestel was. Ondanks hierdie gebeure, het die Wêreld‑ Ekonomiese Forum onlangs uitgewys dat Rwanda een van die ekonomieë is wat die vinnigste in Afrika groei en ’n lae werkloosheidskoers het.

Foley meen Rwanda se sleutel tot sukses was die feit dat hulle onder meer daarin geslaag het om hul onderwysstelsel te hervorm en ook klem op entrepreneurskap te plaas. Hierdeur het hulle geslaag om ’n groter middelklas in die land te vestig en hy glo dit is ʼn oplossing wat vir Suid-Afrika ook kan werk.

“Japan en China, met hulle bevolkings van 130 miljoen en 1,3 miljard, se fokus is hoofsaaklik op wiskunde en wetenskap sowel as leesgeletterdheid en verder moedig hulle burgers aan om kleinsake-ondernemings te ontwikkel. Vandag tel China en Japan onder die toptien mees geletterde lande ter wêreld.”

Probleemoplossings

Foley meen die groot probleem van die sukkelende en erg verswakte Suid-Afrikaanse ekonomie en werkloosheid kan op verskillende vlakke en maniere hanteer word.

“ʼn Peiling van Forbes het byvoorbeeld gewys dat Suid-Afrikaners ’n dissiplineprobleem het. Kyk net hoe lyk die meeste skoolterreine. Kinders word byvoorbeeld in Japan ingespan om skoolterreine netjies te hou. Hierdie dissipline syfer dan deur na Japannese dorpe en stede waar jy beswaarlik ’n papiertjie in die straat opmerk.”

Volgens Foley moet daar ook aandag aan die onderwyskurrikulum in ons land gegee word.

“Leerders moet reeds op skool geleer word om werkskeppers te word en entrepeneurskap behoort as ’n vak op skole aangebied word. Junior sakeskole kan byvoorbeeld in samewerking met toonaangewende sakemanne gestig word en selfs gefinansier word. Rolspelers in ons sakegemeenskappe sal maar te gretig wees om as mentors vir leerders op te tree.”

Kleinsake‑ en mikro-ondernemings is beslis ’n groot belegging en oplossing vir die toekoms, meen hy. “Daar word geraam dat daar ongeveer 400 miljoen mikro‑ en kleinsake-ondernemings in die wêreld is wat 90% van die sakesektor uitmaak en boonop 70% van die arbeidsmark is,” sê Foley.

In sy boek benadruk hy dat maatskappye soos Microsoft, Nike, Amazon en Apple almal in ’n motorhuis begin is. Suid-Afrika het ook talle suksesverhale van ondernemings soos Joko Tea, Kreepy Krauly, HS Balls en Ouma Beskuit insluit, wat alles tuis begin is.

“In Europa is 66% van nuwe ondernemings in 2020 uit ʼn huis begin en so ook 69% van alle nuwe ondernemings in dieselfde jaar in Amerika, terwyl 60% van alle sakeondernemings in Europa deur families bestuur word.”

Geleenthede

“Probleme en uitdagings skep tientalle geleenthede,” beklemtoon Foley. “Voeg daarby ’n positiewe ingesteldheid en ondernemingsgees. Eskom se krisis en onvermoë om krag te voorsien, het die sonkrag-industrie ’n reuse-hupstoot gegee. Baie mense het ook byvoorbeeld begin om kerse te maak en dit te verkoop.

“Die voortslepende misdaad het duisende werksgeleenthede in die sekuriteitsbedryf geskep. ʼn Swak onderwysstelsel het privaat skole laat opskiet en die duisende slaggate dwarsoor die land het moedelose mense genoop om teen vergoeding self die slaggate te herstel. Die waterkrisis het weer talle waterwinkels tot gevolg gehad.”

Foley het die afgelope klompie jare as finansiële adviseur die groot behoefte in ons land raakgesien. “Talle van my kliënte het gekla dat hulle met hul hande in die hare sit omdat hulle orals werk soek en hul CV uitstuur, maar net nie geholpe raak nie. My raad was dan dat die persoon sy eie onderneming van die huis af moet begin. En dan was die opvolgvraag altyd: Maar wat moet ons doen?”

Daar is soveel mense wat of werkloos is, of graag hul inkomste wil aanvul. “Talle ouers of grootouers moet ook vir hul kinders of kleinkinders sorg en talle pensionarisse en geskeide vroue moet elke maand raap en skraap om die pot aan die kook te hou,” sê hy.

Foley het sewe jaar navorsing gedoen om 1 097 werkbare en haalbare idees vir sy boek Dream Big Start Small in te samel. Die tweede druk van sy boek sluit ook 130 idees vir kinders in. “Talle van die idees kan vir minder as R1 000 geïmplementeer word,” sê hy.

Van die meer as 1 000 idees sluit mikro- of kleinsake-ondernemings soos ’n persoonlike koper, ’n gholf-afrigter, die vervoer van kinders na skole, die skoonmaak van huise met groen tegnieke, vryskutskryfwerk, taallesse vir kinders, ’n mobiele platejoggie, organisering van spa-partytjies, loopbaan-afrigting, ’n gesigverwer, ’n bouer van boomhuise, ’n aromaterapie-onderneming en nog talle haalbare idees in. “Twee van die idees kan byvoorbeeld gekombineer word, soos byvoorbeeld gesigverwer en kinderpartytjie-organiseerder,” sê hy. “Die idee wat iemand dalk naarstiglik na soek, kan dalk net in hierdie boek wees. Dream Big, Start Small is nie net ’n gewone boek nie, maar ’n poging om entrepreneurs te inspireer en aan te moedig.”

  • Foley se boek Dream Big Start Small – 1000+ Business Ideas You Can Start Today se voorgestelde handelsprys is R350 en by alle goeie boekwinkels beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

De Bok ·

Entrepreneurskap kan goed wees vir ons land, maar dit sal ons beslis nie red nie. Al hoe Suid Afrika gered kan word, is deur na Christus te draai. Dit is Christus of chaos, en op die oomblik het ons chaos.

Ek kan ·

Mnr Foley – ons het ‘n klein naaldwerkbesigheidjie by die huis begin en die stadsraad het ons vinniger toegemaak as wat ons ‘mes’ kon sê. Pogings om formeel aansoek by die stadsraad te doen het ons net hope en hope geld gekos, en na 7 jaar het ons moed opgegee.

Anel ·

“Ek kan” ek verstaan presies wat jy sê. As ek kos wil verskaf moet jy aan soveel reëls en regulasies voldoen. Maar ‘n ander een kan sommer hier in die veld vuurmaak en potte kos kook en verskaf. Net soos herwinning. Moet aan hoeveel reëls en regulasies voldoen, selfs die perseel moet aan goed voldoen maar die asblikgrawers mors net soos hulle wil en waar. So, ja. Dit word vir party mense so moeilik as moontlik gemaak en ander kan maak wat hulle wil.

Republikein in die Wes Kaap ·

SA se mislukte skolestelsel lei nie juis voornemende entrepreneurs op nie. Dit gaan net oor onderskeidings. Universiteite faal ook om studente as entrepeneurs voor te berei vir die werkplek. Indien gegradueerdes dan nie werk kry nie is hulle verlore. BEE ontmoedig wittes om hul besighede te laat groei. Korrupte amtenare maak jou vinnig toe. Ons kan baie lesse leer by Indië. Vir nou is Mauritius ‘n beter roep.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.