Fotoverhaal wil diabetes help beveg

Argieffoto (Foto: Nataliya Vaitkevich/Pexels)

ʼn Fotoverhaal wat deur ʼn dosent van die Universiteit Stellenbosch (US) in samewerking met die Wes-Kaapse departement van gesondheid ontwikkel is om mense bewus te maak van diabetes, sal binnekort aan gesondheidswerkers en pasiënte in die Kaapse Wynlanddistrik versprei word. Die lewe van baie mense word in dié streek deur diabetes beïnvloed.

Burt Davis, ʼn senior dosent aan die US se Afrika-sentrum vir MIV-/Vigsbestuur, het Gertie se Groot Geheim geskryf om as ʼn hulpmiddel vir die voorkoming van diabetes te dien.

“Die doel van my fotoverhaal is om mense te help om verantwoordelikheid vir hul diabetesdiagnose te aanvaar, om hulle in te lig oor hoe die gesondheidstelsel diabete kan ondersteun en hul algemene kennis oor diabetes te verbeter,” sê Davis.

Die storie handel oor Gertie, wie se lewe omvergewerp word wanneer sy vasstel dat sy diabetes het. Die diagnose hou nie net gevolge vir haar gesondheid in nie, maar het ook ʼn invloed op haar lekkergoedonderneming, haar vriendskappe en haar gekwelde broer.

Fotoverhale beeld ʼn dramatiese storie met geposeerde foto’s en teksborrels of onderskrifte uit, en speel gewoonlik in die alledaagse lewe af.

Davis sê die rede waarom die fotoverhaal in die Kaapse Wynland versprei sal word, is omdat die terugvoer van gesondheidsinstellings in die gebied op ʼn hoë voorkoms van diabetes onder inwoners dui.

Hy sê verder dat pasiënte wat onlangs gediagnoseer is, veral sukkel om hul diagnose te aanvaar.

“Dit is gedeeltelik weens verskeie mites oor diabetes, byvoorbeeld dat lyers nie ʼn vol en produktiewe lewe kan lei nie. ʼn Ander hardnekkige mite is dat diabetes net ou mense raak.

“Mense word ook oorweldig deur die voorgestelde lewenstylveranderinge wat dikwels met ʼn positiewe diagnose gepaard gaan. Dit lei daartoe dat baie pasiënte versuim om hul medikasie te gebruik of ʼn gesonde leefstyl te volg,” meen Davis.

Twee weergawes van Gertie se Groot Geheim sal beskikbaar gestel word: Een met ʼn ouer hoofkarakter en die ander met ʼn jonger hoofkarakter. Onlangse navorsing dui daarop dat lesers hul ouderdomme met dié van die hoofkarakter vergelyk en dat dit ʼn belangrike rol kan speel in hoe ʼn boodskap ontvang word.

Die storie handel oor Gertie, wie se lewe omvergewerp word wanneer sy vasstel dat sy diabetes het. (Foto: Verskaf)

Gertie se Groot Geheim is geskep nadat ʼn vorige fotoverhaal deur Davis oor die tikprobleem in die Wes-Kaap, Spyt kom te laat, dr. Lizette Phillips, direkteur van gesondheid in die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit, se aandag getrek het.

“Ek het van die konsep gehou en Davis toe oorreed om ʼn soortgelyke publikasie oor diabetes te ontwikkel,” vertel sy.

Sandra Maritz, kommunikasiebeampte: Kaapse Wynlanddistrik van Wes-Kaapse regeringsgesondheid, sê die fotoboekie sal deur gesondheidswerkers gebruik word om berading aan pasiënte in klinieke en hospitale in die gebied te gee.

“Die fotoverhaal is ʼn indirekte manier om oor kwessies te gesels wat mense nie maklik met familie en vriende kan bespreek nie. Ondersteuning is uiters belangrik vir die bestuur van die toestand en vir diabete se reis met die siekte.”

Volgens Maritz slaag Davis daarin om karakters te skep met wie mense hulle maklik kan vereenselwig en hy vertel die verhaal in ʼn ligte luim terwyl belangrike gesondheidsinligting terselfdertyd betrek word. “Ons is vol vertroue dat hierdie fotoverhaal aanleiding sal gee tot gesprekke oor diabetes.”

Dr. Colette Gunst en haar mediese span van die Wes-Kaapse departement van gesondheid het ʼn groot rol gespeel om te bepaal watter gesondheidsinligting by die boekie ingesluit moet word, asook met die ontwikkeling van realistiese en geloofwaardige karakters en ʼn storielyn.

Ander belangrike rolspelers sluit in die personeel en pasiënte by Cloetesville se gemeenskap-dagsentrum, prof. Carel Jansen van die Groningen Universiteit in Nederland en die produksiespan (filmspan, kunsregisseur, akteurs, storiebordkunstenaar, grafiese ontwerper en taalredakteurs).

Gertie se Groot Geheim word in Afrikaans, Engels en isiXhosa uitgegee. Davis beplan ook om ʼn interaktiewe, digitale weergawe in samewerking met die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe te ontwikkel. Daarvoor sal bestaande boodskaptoepassings soos WhatsApp gebruik word. Hy is boonop besig om idees te ontwikkel vir fotoverhale wat met ander siektes, soos epilepsie, verband hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

JohanCzu ·

Die regering kan sy kant bring deur alle advertensies vir kos of drinkgoed wat suiker bevat te verban, soos die geval met tabakprodukte is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.