Goeie oes stories vir jong lesers, maar dié skrywers kraai koning

De Wet Hugo, skrywer van ‘Die ongelooflikste sending’. (Foto: Verskaf)

Die kinderboekskrywer De Wet Hugo en kunstenaar Sandy Schoeman is pas as die wenners van NB-Uitgewers se Jeugboekpryse aangewys.

De Wet se verhaal Die doodgelukkige bure het die wenplek in die kinderafdeling vir 8- tot 12-jariges behaal. Hy het teen Celeste Loriston en Karla Cloete meegeding.

“Dit is ʼn griller met heerlike tong-in-die-kies humor, absurde situasies, over-the-top karakters en ʼn storie oor vriendskap wat die grense tussen lewe en dood oorbrug,” meen Kobus Geldenhuys. Hy het die afdeling saam met Mia Oosthuizen en Jaco Jacobs beoordeel.

De Wet se storie het nie net vir Mia bygebly nie, maar dalk effens by haar aanhou spook. “Die doodgelukkige bure is snaaks, effe makaber, vernuwend, met net genoeg bangmaakelemente wat selfs sensitiewe lesers sal geniet. Nie dat dit ʼn bangmaakstorie is nie! Ek kan hierdie storie weer en weer lees.”

De Wet is die skrywer van verskeie kinderboeke wat ouers en kinders ewe veel geniet. Dit sluit onder meer sy alomgewilde Grilgrypersreeks, ʼn paar Kies-jou-avontuur-boeke en Kinkels en keuse-reeks in. Hy het reeds verskeie bydraes vir bundels soos Rympies vir pikkies en peuters, Skrik op die lyf, Rympies vir kleintjies en kleuters en Skool is ʼn riller gelewer.

Sandy het met haar storie Chakalaka uit ʼn blikkie eerste in die afdeling vir tiener- of jong volwassenes geëindig. Fanie Viljoen en Celeste Loriston was die ander finaliste in hierdie afdeling, en Cliffordene Norton, Marita van der Vyver en Susan Samuel was die keurders.

Chakalaka uit ʼn blikkie is ʼn verhaal wat jou van die eerste oomblik gryp. Ek het dit ontdek ná ek reeds oor my top-10 seker was. Dié storie het my regtig getref en my sprakeloos gelaat – en gewys dat verwagtinge oortref moet word.

“As iemand wat self ʼn skrywer is, kon ek die taalgebruik, vertelstyl en karakterisering waardeer. As ʼn leser het ek elke tree saam met Helena gestap en kon ek deel wees van die fantasie en realiteit van haar lewe. Ek hoop lesers sal net soveel vreugde daarin vind soos ek,” sê Cliffordene.

Sandy Schoeman, skrywer van ‘Rooiletterkind’. (Foto: Verskaf)

Maroela Media het in 2023 met Sandy oor haar debuutboek Rooiletterkind gesels. In dié boek het Sandy oor haar en haar man se belewing van pleegsorg, die aannemingsproses en boweal die vreugde van ouerskap geskryf.

Volgens Jaco was die topverhale sterk, vermaaklike, eietydse stories wat hul plek met trots op enige Afrikaanse kind se boekrak kan volstaan.

“Dit was veral lekker om oor soveel uiteenlopende temas te lees. Van ruimtefiksie tot plaasstories, van volbloed-fantasieverhale tot vermaaklike stories oor die alledaagse uitdagings en pret waarmee kinders van dié ouderdom te make kry.”

Die wedstryd het ook Marita se verwagtinge oortref. “Daar was byna dubbel soveel manuskripte as in vorige kompetisies, en die gehalte was werklik hoog. Ek glo dat daar, benewens die finaliste se uitstekende verhale, nog ʼn hele paar boeke uit die ander deelnemers se manuskripte gepubliseer gaan word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.