Ouers, lesers gaande oor Bybelstorie met talle eindes

De Wet Hugo, skrywer van ‘Die ongelooflikste sending’. (Foto: Verskaf)

Moes jy al ooit ʼn kerkkamp saam met jou eksboelie bywoon waar hy homself nie net ewe skielik hoogheilig hou nie, maar dan sommer jou beste vriend van jou af wegrokkel?

Dit is presies wat met Heinrich in Die ongelooflikste sending gebeur wanneer Conrad, wat skaars ses maande terug nog een van die aakligste boelies in sy lewe was, die vermetelheid het om sy beste vriend, Marius, te probeer steel.

Nog voor Heinrich kan oorgaan tot aksie om sy vriend terug te kry, beland hy en Conrad in ʼn situasie wat hulle na ʼn Bybelse ryk met wonderwerke en uitdagings wegvoer, en boonop heeltyd laat wonder of hulle lewend anderkant gaan uitkom.

Hierdie storie kom uit De Wet Hugo se pen en hy vertel aan Maroela Media dat hy ʼn scenario uit sy eie lewe as basis vir die storie gebruik het.

“Ek het gaan sit en dink oor goed waarmee ek as gelowige al self in die lewe gesukkel het. Een oomblik wat by my opgekom het, is toe ek ʼn paar jaar gelede self iemand wat destyds nogal onaangenaam op skool was, raakgeloop het.

“Die persoon het my baie vriendelik gegroet en vertel dat hy sedertdien nader aan die Here begin leef het. Ons het regtig lekker gesels, maar ek kon dit nie help om agterna te wonder of hy ooit onthou hoe dinge in die verlede was nie. Ek het wel in daardie oomblik onmiddellik gedink dit is die regte ding om hom te vergewe.”

So het De Wet op vergifnis as sentrale tema vir sy jongste kies-jou-avontuur-boek besluit.

Die ongelooflikste sending het pas by Luca, ʼn druknaam van Lapa Uitgewers, verskyn. Die boek volg op sy vorige Kies-jou-avontuur-boeke wat deur NB-Uitgewers uitgegee is: Die gevaarlikste speletjie op aarde (2020), Die gevaarlikste boek op aarde (2021) en Die gevaarlikste fliek op aarde (2021).

Lesers tussen 9 en 12 kan hulle tande slyp vir ure lange leesgenot, want dié avontuurstorie het meer as 30 eindes. Dit bied boonop ook die geleentheid om op ʼn prettige en eenvoudige manier die Bybel te leer ken.

“Dit was An-Mari do Carmo, my uitgewer by Luca, se uitstekende voorstel dat ons nie al die teksverse invul nie. Daar is dus regdeur die boek oop spasies waar lesers self die Bybelvers moet neerskryf,” vertel De Wet.

Hy voeg by dat die skryf van hierdie boek wat op Christelike geloofsbeginsels en Bybelverhale gegrond is, vir hom tot ʼn mate uitdagend was.

“Ek is ʼn gelowige en ek ken my Bybel redelik goed, maar ek moes nogal intens gelees het. In die proses het ek baie Bybelstudie gedoen, en dit het nogal heelwat meer navorsing as sê nou maar gewone fiksie geverg.”

Hoewel die boek eintlik pas eers bekendgestel is, het De Wet tot dusver oorweldigende positiewe reaksie van lesers, ouers en onderwysers af ontvang. Die terugvoer op sosiale media is ook grootliks goed.

Dit het De Wet, wat al ongeveer 14 jaar ʼn onderwyser by internasionale skole is, verras.

Hy het ongeveer 12 jaar by ʼn Britse Internasionale Skool in Saoedi-Arabië in die Midde-Ooste gewerk voordat hy ʼn pos as Engels-onderwyser by Wellington College, ʼn Britse Internasionale Skoolgroep in China, aanvaar het. De Wet woon tans in die stad Hangzhou.

“As onderwyser weet ek dat ʼn mens deesdae in baie skole die onderwerp van geloof eintlik moet vermy. Jy kan nie sommer net daaroor praat nie.

“Dit is vir my verblydend om te sien dat dit nog nie in Suid-Afrika die geval is nie. Ek het tydens ʼn onlangse besoek in die land by twee skole oor die boek gesels, en daar was onderwysers wat sommer daar en dan boeke wou koop.”

Daar is altyd hordes onafgehandelde projekte in De Wet se laai, en hy kan nie voorbly met sy werk as skrywer nie. Daar is reeds nuwe projekte in aantog, en ʼn tikkie goeie nuus vir een van sy manuskripte.

“Lapa Uitgewers het my die afgelope week in kennis gestel dat my jeugroman Die dertiende dag in Chengdu die kortlys vir vanjaar se jeugromankompetisie gehaal het. Ek is oorstelp deur die nuus, want dit is die eerste keer ooit dat ek vir so iets inskryf.”

Ander jeugromans op die kortlys is ʼn Spinasie-situasie en Ek is Elisabeth deur Nerine Ahlers, Bravo! Charlie deur Jacolet van den Berg, ʼn Hart van groen deur Annelie Ferreira, Ons laaste legendariese somer deur Fanie Viljoen, Quinn se jaar van kwik deur Zelda Bezuidenhout, Sterstof deur Annerle Barnard, Ver-volg-verhaal deur Francois Bloemhof, Dodelike diamantjie deur Jan Vermeulen en Vrou met vonk deur Helene de Clercq.

Die wenners van Lapa Uitgewers se jeugromankompetisie vir 2023 word Woensdag 13 Maart om 20:00 regstreeks op Lekkerleesboekrak se Facebook-blad bekendgemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Koen ·

1000X erger met sogenaamde volwassenes. Besig met korrupsie, geliegery en boeliery en dan elke Sondag voor in die NG kerk as ouderling. Verfoeilik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.