Gospelsangeres se ligter kykie na ouerskap

Tania Strauss (Foto: Verskaf)

Is jy dalk ook een van daardie ouers wat met ʼn vae bekommernis in jou hart rondloop oor jou kind se ontwikkeling en welstand nadat 2020 se pandemie die wêreld op sy kop kom draai het?

Maroela Media het met Tania Strauss hieroor gesels. Sy staan in die bediening, is ʼn gospelsangeres en motiveringspreker. Strauss is ook ʼn ma van twee jong volwassenes en het onlangs haar tweede boek, Haal asem, bekendgestel.

“Almal praat oor hoe die pandemie skole geraak het, maar min mense besef ook dat universiteitstudente se studie erg omvergewerp is,” sê Tania, wie se oudste dogter in haar finale jaar was, terwyl haar jongste sy eerste jaar van studie aan die Noordwes-Universiteit in hierdie tyd afgeskop het.

Tania se raad aan ouers met hierdie bekommernis is egter eenvoudig: God het presies geweet hoe oud jou kind gaan wees en waar hy of sy op daardie ouderdom sal wees toe Hy hulle begin skep het.

“Dit was beslis nie vir Hom ʼn verrassing dat jou kind in graad 1 was toe die pandemie die wêreld tref nie, en Hy het jou kind ook presies toegerus vir die uitdagings van die tyd.

“Dit kom so mooi terug na die tema van my boek. Ek wil eintlik net vir ouers sê: ‘Haal ʼn bietjie asem en ontspan.’ ʼn Enkele jaar in jou kind se lewe van 80 jaar is regtig niks nie.”

Tania sê tong-in-die-kies haar boek se tema is juis gepas vir hierdie tyd, want met maskers aan is ons almal deesdae maar ʼn bietjie kort van asem. Sy wil met haar boek ook vir ouers wys dat ons almal eintlik baie meer gemeen het as wat ons dink.

“Ons huil oor dieselfde dinge, en ons Suid-Afrikaners lag ook dikwels oor dieselfde goed.”

Tania benadruk dit is belangrik om na jou kind se emosionele welstand om te sien. “Tog dink ek dit is ook belangrik dat ons as ouers nie die hele dag sit en kla oor uitdagings nie, want dit is wat dit is. Ons almal het uitdagings en elke generasie het sy eie soort uitdagings.”

Sy sê ouers kan gerus hulle kinders aanmoedig om te midde van moeilike omstandighede hulle spreekwoordelike spiere te bult en juis nou skouer aan die wiel te sit.

“Ons het dan soveel berigte van kinders gesien wat briljant in hulle matriekeksamen presteer het, te midde van die pandemie. Hulle het net besef hulle moet verantwoordelikheid vir hulle sukses, toekoms en studie neem.”

Tania se jongste boek getiteld “Haal asem” gesels oor die lewe in ‘n huisgesin. (Foto: Verskaf)

Tania sê jy mag maar jou tiener verantwoordelik maak vir sy eie toekoms, maar behou ook die pret, want dit is ʼn belangrike bestanddeel van ʼn gelukkige huisgesin.

In haar boek het sy selfs ʼn ligter hoofstuk oor groepsdruk geskryf. “Ek gaan jou verras, want ek gesels nie net oor die groepsdruk wat jou kind ervaar nie, maar fokus eerder op die groepsdruk van volwassenes, want ons ouers wedywer tog ook maar so graag met mekaar.”

Tania deel ook haar persoonlike getuienis in hierdie boek. Sy het al self die lewe se oppe en affe beleef en waardevolle lesse daardeur geleer. Dit is dan ook die lesse wat sy pittig en keurig saamvat in haar boek.

“My persoonlike getuienis is iets wat ek graag sal wil hê elke leser moet self lees, sodat hulle my hart kan verstaan.”

Sy hoop mense besef met die lees van die laaste hoofstuk dat elke mens op aarde ʼn verhaal het om te vertel.

“Kyk, elke mens op aarde het al hartseer en teleurstelling ervaar of is al iewers te na gekom. Die datums, tye en plekke gaan dalk verskil, maar ek hoop as jy my en jou eie storie langs mekaar sit, sal jy God se genade deurlopend daarin raaklees.

“God het my deur elke krisis gedra, van my geboorte af tot in 2020, en dit is iets waaroor ek baie opgewonde is.”

  • Tania Strauss het in Maroela Media se ateljee kom kuier waar sy gesels oor ouerskap en haar jongste boek, Haal asem. Luister na die volledige onderhoud boaan hierdie berig. Bly ingeskakel, want Tania lees ook voor uit die hoofstuk getiteld “ʼn Ma is net so gelukkig soos haar ongelukkigste kind”.
  • Besoek Tania se Facebook-blad vir meer inligting oor haar bediening, musiek, boeke en die Annebel-stigting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Teresa ·

Tania is ñ pragtige mensie van binne en buite. Ware kind van die Here… Haar woord en sang is geesvervuld! In ons Gemeente het sy al kom bedienen dit is altyd ñ “blessing” Mag jou bediening groei van krag tot krag Tania…

Lynne ·

Ek het lanklaas so ‘n’ real’ mens leer ken. Tania se sin van humor en passie vir God is heerlik om te beleef.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.