Jagstories: ‘Erfenisdag-Mauser vir my seun’

Foto net ter illustrasie. (Foto: Sebastian Pociecha/Unsplash)

Hiermee ‘n uittreksel uit Pieta Oosthuizen se jagstorie “Erfenisdag-Mauser vir my seun” wat in die bundel Deur die oë van ʼn man verskyn.

***

“Kan ek help, Meneer?” vra die vriendelike geweerman agter die toonbank.

Skuins agter hom is ʼn veiligheidshek wat toegang verleen tot ʼn lang, smal vertrek. My oë kyk by die geweerman verby in die lang gang af waar dosyne jaggewere van verskillende kalibers in netjiese geweerrakke staangemaak is. Mausers, Musgraves, Mannlichers en nog ʼn hele klomp ander fabrikate staan netjies op aandag. Die verskillende kalibers op die pakkies patrone wat in netjiese hopies opgestapel is, hou my aandag gevange: 6.5 x 54, 9.3 x 62, 7 × 57. Die bekende reuk van geweerolie hang swaar in die lug. My hart klop in my keel en emosie dreig om my te oorweldig wanneer ek antwoord:

“Ek kom koop ʼn geweer vir my seun.”

Watter voorreg lê nie in daardie een sin opgesluit nie? Ouerskap is ʼn voorreg. Maar ʼn nog groter voorreg is om ʼn seun te hê wat jou liefde vir die wye oop ruimtes deel, die taal van ʼn kampvuur verstaan en vir wie ʼn lewende bok mooier as ʼn dooie een is. Om in die posisie te wees om vir jou seun ʼn geweer te kan bekostig, is nóg ʼn voorreg wat nie vir ons almal beskore is nie. Om dan nog verder die geleentheid te mag hê om daardie geweer self uit te soek, met jou hande oor sy kolf te streel, sy slot oop en toe te stoot en deur sy loop na ʼn denkbeeldige koedoe te mik, is ʼn baie persoonlike belewenis en ervaring.

Ek onthou nog daardie spesiale dag, bykans dertig jaar gelede, toe my pa sy hartsgeweer in my hande gelê het. Dié staatmaker .308-Eusta met sy Mauser-slotaksie het hy in die laat sestigerjare in Maitlandstraat, Bloemfontein, gekoop. Met hom het ek my eerste bok groter as ʼn steenbok, ʼn rooibokram, op die plaas gejag, rante uitgeklim agter ribbokke aan en ver skote in die Kalahari en nabyskote in die Bosveld geskiet. Nooit het hy my in die steek gelaat nie. Vandag weet ek die geweer was ʼn deel van hom – ʼn stuk van sy siel wat my oorlede pa daardie dag vir my nagelaat het. En saam met daardie geweer het ʼn erflating van “verantwoordbare optrede in die jagveld” gekom. ʼn Jagnalatenskap. Ek onthou nog sy woorde:

“Sorg vir hom en hy sal vir jou sorg,” en later weer, “dis nooit die roer se skuld nie, maar altyd die man agter die roer”.

Die oorspronklike loop is later jare met ʼn Musgrave-loop vervang, maar dit het niks verander aan die feit dat dié spesifieke geweer ook my hartsgeweer geword het nie.

“Watter kaliber, Meneer?” hoor ek weer die geweerman se stem en ek dink aan die drie jaggewere in my geweerkluis. Die .308 wat ek by my pa geërf het, die 6.5 x 54-Mannlicher Schönauer wat mettertyd die .308 se plek in sy hart ingeneem het en die oopvisier-375-Brno waarmee nog baie min geskiet is. Heimlik wonder ek hoe ʼn mens op ʼn kaliber besluit en ʼn magdom vrae stapel opmekaar … Dit moet seker ʼn kaliber wees wat jy nie het nie, dink ek. Maar dit hang ook af waar voor jy die geweer wil gebruik? Wil jy op gevaarlike en grootwild aanlê of is jy ʼn biltongjagter wat bloot iets vir die pot jag? Gebruik dan in ieder geval ʼn kaliber met genoeg slaankrag, hoor ek skielik weer my pa se stem. Moet die kaliber die pad saam met jou stap in digte boswêreld of moet dit ‘n plat skiet, lae trajek kaliber vir vlaktewild in die Suid-Vrystaat wees? Is daar iets soos die ideale kaliber, een wat die beste van hierdie twee wêrelde dek?

Ek het egter nie al die pad van Bloemfontein na Witbank gereis om myself met hierdie vrae op te saal nie. Ek is hier om ʼn hartsgeweer vir my seun se agtiende verjaarsdag te koop, waarmee ek en hy nog saam op vars spore gaan loop. Ek wil vir hom iets nalaat wat hy weer aan sy seun of kleinseun kan bemaak. ʼn Jaggeweernalatenskap. ʼn Stukkie van my jagtersiel. Iets tasbaar wanneer ek die dag nie meer daar is nie en hy sy eie buffels in die ruigtes moet aandurf. ʼn Erflating op erfenisdag…

***

Die uittreksel is goedgunstig deur Lig en Duisternis Uitgewers verskaf. Deur die oë van ʼn man kos R190 (prys onderworpe aan verandering). Besoek Lig in Duisternis Uitgewers se webwerf om die boek aan te skaf of koop die e-boek op Amazon.  

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.