‘Kill the Boer’-resensie: Ons kan nie sensitief vir die feite wees nie

Roets en Kemp het tydens hul bespreking van die boek gevra dat mense die boek moet aanskaf en oor die onderwerp praat. Foto: Reint Dykema.

Wanneer die gevaarlikste beroep in Suid-Afrika nie dié van ’n polisielid of brandweerman is nie, moet jy besef dat iets fout is. Wanneer die gevaarlikste beroep dié is van ’n persoon wat voedselsekerheid bevorder en werk skep, moet jy weet dat alles nie pluis is nie. In enige plek in die wêreld behoort die hartseer werklikheid intensiewe bespreking te geniet en as ’n prioriteit gesien word. Dit is egter nie die geval in Suid-Afrika nie. Hier is die regering eerder aandadig aan plaasmoorde.

Ernst Roets se boek Kill the Boer is onlangs op ’n koel wintersoggend bekendgestel. Dit was ’n treffende bekendstelling met die sanger Adam Tas wat tussendeur ’n paar liedjies oor boere en die landboubedryf gesing het. Die oggend van die bekendstelling het ’n berig verskyn oor ’n 68-jarige boer van Hartbeespoort wat die vorige dag op sy plaas aangeval is. Hy is na die kamer gesleep waar sy vrou lê en slaap het en met ’n knopkierie oor die kop geslaan. Allan Fanner het genadiglik oorleef. Baie ander boere het nie. Nog voor die boek verskyn het, het ’n berig daaroor verskyn waarin die feitelikheid van die inhoud uitgedaag en die boek as rassisties bestempel is. Die feit dat nie enige van die kritici kon wag om eers die boek onder oë te kry nie, dui op die sensitiewe aar wat dit raakgeboor het.

Kill the Boer draai nie doekies om nie en vertel kaalvuis hoe wreedaardig plaasmoorde is en waarom dit nie as ’n gewone misdaad gesien kan word nie. Dit stel ondersoek in na die gelaaide uitsprake wat politici maak en hoe dit tot ’n toename in plaasaanvalle en plaasmoorde kan lei. Op een plek vermeld Roets dat Julius Malema tydens kruisondervraging geantwoord het dat hulle in die ANC opgehou het om “Kill the Boer, Kill the Farmer” te sing omdat swart boere (farmers) dalk verkeerdelik as ’n teiken uitgewys sou word. Daarom het Malema eerder “Dubula iBhunu” (skiet die Boer) gesing.

Die boek wys ook op die hoofstroommedia se dubbele standaarde wanneer dit kom by beriggewing oor plaasmoorde en verwysings na ras. Een statistiek wys daarop dat ’n publikasie soos die Daily Sun 69% van die tyd van grafika gebruik maak by berigte wat handel oor wit-op-swart-misdaad, maar slegs 21% van die tyd waar swart-op-wit-misdaad ter sprake is. ’n Publikasie soos die Huffington Post SA maak glad nie van grafika gebruik waar swart-op-wit-misdaad ter sprake is nie.

In ‘Kill the boer’ word ’n verskeidenheid redes uitgewys waarom plaasaanvalle uniek is en verdien om as ’n prioriteitsmisdaad hanteer te word. Foto: Reint Dykema.

Die boek is egter baie meer as syfers en statistiek.

Dit is die verhaal van Sue Howarth wat vermoor is toe die aanvallers op haar en haar man met vuurwapens losgebrand het terwyl hulle lê en slaap het. Dit is die verhaal van Roger en Christine Solik waar die regter tydens die vonnisoplegging gesê het dat daar ’n groot mate van “gif en venyn” op die moordtoneel bespeur was. Dit is die verhaal van die 77-jarige Dries Steenkamp wat op sy plaas buite Lydenburg in Mpumalanga doodgeskiet is en die verhaal van Vanessa Stafleu wie se drie- en vyfjarige kinders die donker ingehardloop het nadat hulle ma voor hulle vermoor is. Dit is die verhaal van Johan Strydom wie se skedel met ’n stuk yster gekraak is waarna hy agter sy bakkie op ’n grondpad gesleep is tot hy dood is aan ’n gebarste lewer. Dit is die verhaal van ’n ma wat die wil om te lewe, verloor het nadat haar 21-jarige seun, Kyle Stols, op ’n plaas naby Bloemfontein vermoor is. En dit is die verhaal van Attie Potgieter wat 151 keer met ’n panga, ’n tuinvurk en ’n mes gesteek is waarna sy vrou en twee-jarige dogtertjie, Wilmien, vermoor is.

Op die voorblad van die boek word daarop gewys dat die inhoud nie vir sensitiewe lesers is nie.

Die feit is egter dat geen Suid-Afrikaner kan bekostig om nié die boek te lees nie. Die feite wat in die boek vervat word, is noodsaaklik vir enige persoon wat ’n konstruktiewe inset wil lewer in die debat oor plaasmoorde en plaasaanvalle. Dit bemagtig die leser met kennis wat van onskatbare waarde is wanneer hy gevra word waarom plaasmoorde anders is as ander moorde en waarom die Suid-Afrikaanse regering daaraan aandadig is.

Die inhoud is grafies, maar ons het nie meer die luuksheid om sensitief vir die feite te wees nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

TDW ·

Ek glo dis goed wat ons moet weet. Te veel word deesdae weggesteek en geswyg. Hierdie is mense se stories wat gehoor moet word tot in alle uithoeke van die wêreld. Aan alle slagoffers, ek hoor julle stories, ek rou saam met julle.

Eish ·

Met dank aan die skrywer wat te midde van die besef dat die skryf van die boek n stuk vrede gaan wegneem, steeds die regte ding gedoen het.

Die waarheid ·

As hierdie boek nie blankes laat wakker skrik en ons die wapen opneem nie dan sal niks op hierdie aarde dit doen nie. Moenie huil as dit te laat is nie want dis xenofobies van aard met die blanke as hoof teiken. Ag tog skrik net wakker.

Ella ·

Die feit dat so min kommentaar gelewer word wys vir my dat ons so afgestomp is dat ware wrede feite ons nie eens meer skok. Ons wonder dalk eerder: wanneer gebeur dit met my of langsaan met my bure of my familie.
Feit is party mense WIL nie meer weet. Ek het van hulle in my familie, jonk sowel as ouer. Hulle se dit sal weer beter gaan.
Ek is lankal wakker. Wat gaan ons wat wakker is doen? Met watter gevolge? Ons is almal bang.
Mag daar uitkoms en raad en vrede kom..

Mrs H ·

Ons het nodig om ons eie weermag iewers te stig en op te lei. Hoe? Wie? Waar? Wanneer? Wie gaan leiding neem en dit maak gebeur?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.