Kom braai saam by Klerksdorp-boekfees

Argieffoto (Foto: Pexels/Pixabay)

Stefaans Coetzee, wat die Sanctuary Boekfees in 2020 begin het, sê hy is opgewonde om vanjaar weer saam met skrywers en lesers by dié fees in Klerksdorp te kuier.

“Ja, boeke en skrywers is die hooffokus, maar dit gaan vir my ook oor die samesyn en dat lesers die mense agter die boeke beter kan leer ken,” brei hy uit.

Coetzee het die fees van stapel gestuur met die hoop dat dit ook vir ander mense wat vir boeke lief is, iets sal beteken.

“Boeke het letterlik my lewe gered. Ek weet dit is dapper om so ʼn fees aan te bied, maar ek glo dat die familiegevoel wat hier geskep word ʼn belangrike bydrae lewer.”

Die fees word op Saterdag 29 Oktober aangebied en boekwurms kan na ʼn verskeidenheid gesprekke uitsien.

Hannes Barnard, Christelle van Rooyen-Wessels, René van Zyl, Pierre du Plessis en Esté Geldenhuys open die fees. Daarna volg gesprekke met onder andere Lindie Stander (Agter my glimlag), Johannes de Villiers (Meer as jou seerkry: Groei as jy stukkend is), Charné Kemp (Moord op Pofadder), Julian Jansen (Moord op Stellenbosch), Sidney Gilroy (Vlam), Marie Lotz (Polsslag), Dibi Breytenbach (Buit), Cecilia Steyn (Dryf), Michèle Meyer (Moer) en Marida Fitzpatrick (Mara).

Verlede jaar is die fees met ʼn gala-aand afgesluit waar boekliefhebbers om die tafel saam gekuier het, maar vanjaar kom feesgangers ná Martelize Brink se gesprek oor haar boek Oor die kole om die braaivleisvuur bymekaar.

“Ek is ʼn man, so die braai is natuurlik een van my hoogtepunte op die program,” skerts Coetzee.

Afgesien van ʼn propvol boekprogram en die samesyn, sonder Coetzee ook die jeugverhaalskryfkompetisie as ʼn spesiale item uit. Die Sanctuary Boekfees bied elke jaar dié kompetisie aan met die doel om ʼn lees- en skryfkultuur onder jong lesers te kweek. Tien wenners word by die fees aangekondig en hulle elkeen kry dan ʼn mentor wat help om die verhale te skaaf en verder te ontwikkel.

Gilroy, Barnard, Breytenbach en Van Rooyen-Wessels het verlede jaar as mentors opgetree.

Besoek die Sanctuary Boekfees se webwerf vir die volledige program en meer inligting oor die fees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.