Koos Doep se werk is sieraad vir Afrikaans

Koos du Plessis (Foto: Verskaf/UJ)

Hy was ongelooflik mediasku al was hy, heel ironies, self ʼn koerantman. Hy het selde onderhoude toegestaan.

Ek onthou hom uit my koerantdae in die jare sewentig en kollegas het ʼn ander kant van hom as die diepsinnige introvert geken. Hy kon uitbundig en skreeusnaaks wees.

Op redaksiepartytjies het hy sy kitaar uitgepluk en vir ons gesing.

Koos du Plessis se lirieke is al as “bedrieglik eenvoudig” beskryf, gestroop en as “gevoelvolle melodieë” wat in Afrikaans geskep is. Sy werk is ook al met die van Leonard Cohen vergelyk.

Hoewel hy al 40 jaar terug een oggend vroeg op slegs 38 tragies in ʼn motorongeluk gesterf het, gryp sy werk mense steeds aan. Dit is veral liedjies soos “Sprokie vir ʼn stadskind” en “Kinders van die wind” wat tydloos is. Na al die jare is daar steeds ʼn aanvraag vir sy werk.

Nou is daar ʼn nuwe versamelbundel, getiteld Erfdeel: Koos du Plessis 40 jaar later, oor Koos Doep, soos hy bekend gestaan het, se werk.

Dit bestaan uit verskillende afdelings soos ʼn lewe, verse, lirieke en ʼn register van verse en lirieke wat deur sy oudste dogter dr. Irma du Plessis, verbonde aan die Universiteit van Fort Hare as direkteur in die kantoor van die rektor, saamgestel is.

Koos du Plessis (Foto: Verskaf/UJ)

In die voorwoord van die nuwe bundel beskryf Irma hom as “inkennig, maar tog ook innemend, somtyds joviaal en by tye ontstemmend”.

Koos het twee ouer broers gehad en het op Springs in die Oos-Rand groot geword.

Hy het tydens sy studentedae op Tuks vir Mornay ontmoet met wie hy getroud is, en hulle het drie dogters gehad. Vir Mornay het hy een van die mooiste liefdesliedere geskryf.

In die hoofstuk “Kind van die wind – Koos en ander oor sy werk en kunstenaarskap”, word hy soos volg aangehaal: “My liedjies, hulle praat van my. Ek het nie meer om te sê nie. Wat ek wil sê, sê ek daar. Trek hulle uitmekaar en skryf oor hulle. Los my maar uit, ek is ʼn doodgewone ou.” So is hy in ʼn Huisgenoot van 1984 aangehaal.

Koos Kombuis word in die bundel soos volg uit Huisgenoot in September 2004 aangehaal: “Hy was iemand buite sy tyd. Aan die een kant was hy uit die oude doos, van die ou skool en altyd op soek na of besig om te hunker na die dinge van die verlede. Aan die ander kant was hy sy tyd vooruit. Vandag se jongmense kan aanklank vind by sy post-modernistiese selfondersoek en eksistensialistiese ontgogeling.”

PG du Plessis is in 1985 onder meer soos volg in Die Transvaler aangehaal: “In die literatuur het die klanke van sy verse ʼn ander dreun gehad; sy weemoed, nostalgie en direkte romantiek was slepend en mineur.”

Dr. Irma du Plessis (Foto: Verskaf/UJ)

Die ontslape sanger Theuns Jordaan word in Huisgenoot gedurende 2004 soos volg aangehaal: “Wat Koos gedoen het, is woordkuns. Daar is lewenswysheid in sy werk opgesluit. Die eenvoud van die melodieë was een van die redes vir die sukses van sy liedjies, maar eintlik is dit net lirieke, lirieke, lirieke.”

Volgens Mornay het Koos baie lank aan ʼn liedjie geskryf. Hy was voortdurend besig om woorde êrens op papiertjies neer te skryf. Sulke groen papiertjies. (Onthou ek dit nie uit die era van die tikmasjiene in die Perskor-hoenderhokkantore reg oorkant die slagpale in Pretoria-Wes nie!)

Herman Snyman, wat destyds nuusredakteur van Oggendblad was, het Koos beskryf as “iemand met ʼn besondere nuussin en liefde vir die Afrikaanse taal, ʼn diep gelowige mens, ʼn sieraad vir die joernalistiek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Philip ·

Koos het geskryf en gesing uit die era waarin ek ook as kind grootgeword het die 1950 tot 1960 met n myner op n myndorp as ons gesin se broodwinner. My pa was tot en met sy dood aan myntering in die laat 1970 versot op Koos se liedere en ek speel graag sy liedere tot vandag toe nog

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.