Luister: Afrikaanse regsboek word deel van Akademia-leerplan

(Foto: Akademia / Facebook)

Die grondwetkenner prof. Koos Malan en sy oudkollega prof. Ilze Grobbelaar-Du Plessis het ʼn dubbelvreugde gevier; nie net is die twee skrywers se Afrikaanse regsboek pas amptelik bekendgestel nie, maar dit sal ook nou as ʼn voorgeskrewe werk by Akademia se regsfakulteit in 2023 vir voorgraadse studente dien.

Die boek getiteld Studente-inleiding tot die konstitusionele reg is Woensdagaand by die FAK se Afrikaanse Liedjietuin by die Voortrekkermonument bekendgestel, waar vriende en kollegas uit die regsbedryf die geleentheid saam met die twee professore gevier het.

Malan het die boek as ʼn nuwe daeraad vir die Afrikaanse regstaal beskryf. “Dit is nie elke dag dat ʼn Afrikaanse boek bekendgestel word nie, en as dit dan nog ʼn Afrikaanse boek is wat op die konstitusionele reg fokus, maak dit daardie projek net nog meer besonders,” het hy bygevoeg.

Afgesien daarvan dat Afrikaans ʼn moderne akademiese beroepstaal is, is ʼn publikasie in dié taal ʼn broodnodige hulpmiddel te midde van die toenemende verengelsing van howe en die regsberoep in Suid-Afrika.

“Ons wil met hierdie boek regstudente in staat stel om uiteindelik soomloos tussen Afrikaans en Engels te kan beweeg wanneer hulle as regspraktisyns hulle kliënte met raad bedien,” het Grobbelaar-Du Plessis gesê.

Albei skrywers was dit eens dat die skryfproses van die boek ʼn hartsprojek was waaraan hulle heerlik saamgewerk het.

Grobbelaar-Du Plessis meen ook die bekendstelling van die boek kon nie op ʼn beter tydstip plaasvind nie, aangesien Malan onlangs by die Universiteit van Pretoria uitgetree het.

Prof. Hermie Coetzee, ʼn gesoute akademikus en toegelate prokureur, wat in Mei vanjaar as dekaan van die Fakulteit Regsgeleerdheid by Akademia aangestel is, het bevestig dat nog Afrikaanse regsboeke binnekort die lig sal sien by die instelling en dat hulle reeds besig is met ʼn projek om nog een te laat skryf.

“Afrikaans in die regsberoep, en in die akademie, is allermins dood. Ons sien nuwe instellings wat gestig word en dit toon die spierkrag van die Afrikaanse gemeenskap,” het Malan vroeër aan Maroela Media gesê.

  • Luister boaan die berig na die volledige onderhoud met proff. Koos Malan en Ilze Grobbelaar-Du Plessis oor hulle boek, Studente-inleiding tot die konstitusionele reg.
  • Studente-inleiding tot die konstitusionele regkos R470. Die prys is onderworpe aan verandering en versendingskoste word met bestelling bereken. Die boek kan op Akademia se webwerf bestel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

piet ·

Dis alles goed en wel maar die feit bly bestaan dat alle hofdokumente tans in Engels moet wees en dit lyk my alle korrespondensie van prokureurskantore ook (of dit word nou alles maar in elk geval in Engels gedoen). Baie lanklaas ‘n Afrikaanse brief of epos van ‘n prokureursfirma gesien. Dalk lyk dit anders in die Noorde…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.