Luister: Hupstoot vir regslui in Afrikaans

Ilze Grobbelaar-Du Plessis en Koos Malan se boek ‘Studente-inleiding tot die konstitusionele reg’ het pas verskyn. (Foto: Maroela Media)

“Afrikaans in die regsberoep, en in die akademie, is allermins dood. Ons sien nuwe instellings wat gestig word en dit toon die spierkrag van die Afrikaanse gemeenskap.”

Só sê die grondwetkenner prof. Koos Malan wat die boek Studente-inleiding tot die konstitusionele reg saam met Ilze Grobbelaar-Du Plessis, medeprofessor in publieke reg aan die Universiteit van Pretoria (UP), geskryf het.

Die boek het pas verskyn en dit wil help om regstudente aan die vakgebied bekend te stel. Terselfdertyd rus dit die studente toe met kennis en vaardighede om probleme van die konstitusionele reg wat in die regspraktyk mag opduik, met selfvertroue tegemoet te gaan.

Malan, wat onlangs afgetree het, en Grobbelaar-Du Plessis was vir langer as twee dekades as kollegas by die UP betrokke by die onderrig van voor- en nagraadse studente in die konstitusionele reg, asook verwante aspekte van die publieke reg.

Bykomend tot die vakkundige inhoud, wat in die algemeen te make het met konstitusionalisme, sienswyses van konstitusionele denke en kritiese beskouings van die Suid-Afrikaanse grondwetlike orde, kan dit ook as ʼn verruiming van die Afrikaanse regsberoep beskou word.

In die voorwoord verskaf Malan en Grobbelaar-Du Plessis, wie se onderrig-ervaring as vertrekpunt vir die handleiding dien, verskeie redes waarom dit in Afrikaans geskryf is.

Afgesien daarvan dat Afrikaans ʼn moderne akademiese beroepstaal is, is ʼn publikasie in dié taal ʼn broodnodige hulpmiddel te midde van die toenemende verengelsing van howe en die regsberoep in Suid-Afrika.

“Die eerste ding wat ons moet onthou, is dat ons ʼn Afrikaanse gemeenskap het wat ons in die regsberoep moet dien,” meen Grobbelaar-Du Plessis. Malan sluit hierby aan deur te verwys na die verantwoordelikheid van gebruikers om die taal binne hierdie konteks aan die lewe te hou.

“Vir enige verantwoordelike gemeenskap, wat die Afrikaanse gemeenskap veronderstel is om te wees, is dit eintlik noodsaaklik om die korpus van vakterminologie in stand te hou en uit te brei. Daar is as’t ware ʼn kulturele verbintenis om dit te doen.

“As jy, met spesifieke verwysing na die regsberoep, benewens Engels ook Afrikaans magtig is, is jy daarby in ʼn posisie om ʼn baie beter begrip te hê van waarmee jy eintlik werk.”

Studente-inleiding tot die konstitusionele reg kos R450 (prys onderworpe aan verandering). Om die boek te bestel, stuur ʼn e-pos na [email protected].

  • Luister boaan die artikel na die volledige onderhoud met proff. Koos Malan en Ilze Grobbelaar-Du Plessis oor hulle boek, Studente-inleiding tot die konstitusionele reg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.