Luister: Daar’s ʼn luiperd op my stoep!

Die luiperd op Hennie van Deventer se stoep. (Foto: Verskaf)

“Mens en natuur kan kwalik beter skouers skuur as in ʼn bostoevlug op die drempel van die Krugerwildtuin.”

Só skryf Hennie van Deventer in Bure van nature, ʼn versameling veldstories oor sy dierebure en noue ontkomings wat hy al ervaar het.

“Ons het baie ervarings gehad: ons het geskrik vir slange, veral; luiperds wat om die huis ronddwaal, hiënas wat by ons op die stoep kom staan het terwyl ons aan tafel sit en eet, maar ek het nooit gevoel dat my lewe bedreig was nie,” vertel Van Deventer.

Met stories soos “Skurwe slaapmaats”, “Kobrakommosie by kampvuur”, “Lang likkewaantrane”, “‘Shongoloza Meyl’” en “‘Chateau Mosquteau’” maak Van Deventer lesers deel van sy leefwêreld in die natuur.

Hy sonder “Want hulle is gawe kêrels” uit as een van sy gunstelingherinneringe. “Vir my is die uitsonderlikste storie dat ʼn luiperd op my stoep kom nesskrop het, ongelukkig was ek nie daar nie. ʼn Vriendin het die luiperd daar aangetref en pragtige foto’s geneem.”

Van Deventer en sy vrou, Tokkie, besit al langer as 20 jaar eiendom in Sabiepark, ʼn eksklusiewe, privaat natuurreservaat teen die Nasionale Krugerwildtuin en aan die oewer van die pragtige Sabierivier. Die Van Deventer-egpaar woon in Melkbosstrand, en word jaarliks net sowat 120 dae in die bosparadys gegun.

Destyds toe Van Deventer dié eiendom oorweeg het, was dit syne nog voor hy dit gesien het. Hy vertel: “Anders as ʼn kruiwa of graaf, het ek hom eintlik gekoop sonder dat ek dit gesien het. Ek het tog later darem gaan kyk wat ek gekoop het, maar ek was nooit spyt oor die kopie nie.”

Van Deventer sê sy liefde vir die natuur kom baie, baie lank en dat dit ook intensiewer geword het nadat hy die eiendom in Sabiepark bekom het.

“Toe het ek eers werklik kennis gemaak met baie aspekte van die natuur wat vantevore by my verbygegaan het en ek word net liewer en liewer vir die natuur,” vertel hy.

Hennie van Deventer vertel dat die dierebure hulleself sommer nooi vir ‘n braai. (Foto: Verskaf)

Met sy uittrede in 1998 was Van Deventer die uitvoerende hoof van Naspers se koerantafdeling. Hy was 12 jaar redakteur van Volksblad in Bloemfontein. Naspers het in 1997 sy hoogste eerbewys, die Phil Weber-medalje, aan Van Deventer toegeken vir die nalatenskap wat hy in elke fase van sy loopbaan van 35 jaar gelos het.

Vir Van Deventer is Afrikaans ʼn ingebore passie. Hy was gesamentlik sowat 36 jaar in die Afrikaanse koerantwese en vandaar sy besluit om die woord “koerant” vir die WAT se borg-ʼn-woord-projek te borg.

“Ek het ʼn broertjie dood aan die moderne manier van praat met al die Engelse woorde wat so ingeryg word,” erken hy.

Bure van nature eggo Van Deventer se liefde vir keurige Afrikaans – hy laat selfs die voëlgeluide na vore kom met sy getjirp-tjirp.

“Die verskeidenheid fluite, koere, krasse, kwele, kwake, roepe, tjirpe en tjanke van allerlei bontrokke, bokmakieries, janfrederiks, katakoeroes, klopkloppies, lewerike, lysters, sterretjies, valke, vinke en wielewale is eindeloos.” (Bure van nature, bl. 104)

Van Deventer verklap dat hy op 80 gereed is om die tuig neer te lê. Hy sit juis op die punt van sy stoel in afwagting op sy jongste, en laaste boek, wat binnekort by hom gaan opdaag.

“Ek verwag enige oomblik ʼn klop aan die deur. My jongste boek, Koerantkamerade, is reeds voltooi en behoort eersdaags beskikbaar te wees. Dit bied ʼn intieme blik op sowat 50 ontslape tydgenote in die perswese,” vertel hy.

Koerantkamerade word uitgegee deur Naledi Uitgewers, in samewerking met Nagkantoor en ʼn ruim subsidie van die LW Hiemstra-trust.

  • Luister boaan die artikel na ʼn onderhoud met Hennie van Deventer, skrywer van Bure van nature. Hy gesels met Maroela Media oor die veldstories in sy boek en noue ontkomings wat hy al ervaar het.
  • Bure van nature is deur Protea Uitgewers uitgegee en dit kos R250 (prys onderworpe aan verandering). Klik hier om die boek aan te skaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.