Luister: Gaireyah Fredericks vertel stories in haar hartstaal

‘Een voet innie kabr’ is deur Gaireyah Fredericks geskryf en word deur NB-Uitgewers uitgegee. (Foto: Maroela Media)

Een voet inni kabr, die jongste kortverhaalbundel uit Gaireyah Fredericks se pen, word op die agterplat beskryf as ʼn boek wat daarin slaag “om peripheral characters en vertellers oppie voorgrond te plaas”.

“Die tailor-dokter met sy briefcase vol sample-lappe, maatband en pen. Die pyn vanne vrou wat haar pasgebore tweeling moet begrawe. Ennie stryd vannie pligsgetroue, prim en proper Mareldia. En dan is daar oek Ghoemeira wat tradisionele waardes mettie modern moet versoen.”

Met hierdie versameling stories skryf Gaireyah oor karakters en ʼn leefwêreld wat dalk vir baie mense grootliks onbekend is, en sy doen dit in Moesliemafrikaans.

Reeds met die titel van die boek maak lesers met dié variëteit kennis. In Afrikaans ken ons die uitdrukking as “met een voet in die graf”, maar hier verruim Gaireyah lesers se woordeskat met die gebruik van “kabr” in plaas van “graf”.

Gaireyah brei in ʼn onderhoud met Maroela Media uit op die betekenis van die boektitel: “Een voet innie kabr is die ontmoeting van ʼn persoon wat nie bewus is van die Cape Muslim vernacular nie voor hy iemand soes dai ontmoet. So by the time you meet someone if you have read this book you know these people already.”

Agterin die boek verskyn ʼn woordelys wat lesers deurgaans kan raadpleeg vir die betekenis van enkele terme. Dit sluit onder meer in:

  • akkel: intellek
  • barakat: die kos wat na ʼn geselligheid oor is en verdeel word onder die gaste om huis toe te neem
  • daltjies: ʼn gegeurde frikkadel van ertjie-meel
  • getoeliesde/toelies: om in Arabies te skryf
  • kanala: asseblief
  • tawwetjie: mooi uitrusting/outfit

Een voet innie kabr is Gaireyah se tiende gepubliseerde bundel. Sy het sedert 2012 nege boeke self uitgegee en oor die jare verskeie pryse en eerbewyse vir haar bydrae tot die bevordering van Afrikaans ontvang.

Een van die hoogtepunte wat sy uitsonder is die dag toe sy besef het skryf het niks met die fisieke proses te doen nie. “Skryf het te doen met die understanding dat jy iets het om te sê.”

Een voet innie kabr (NB-Uitgewers) kos R280 (prys onderworpe aan verandering). Klik hier om die boek by Graffiti Boeke aan te skaf.

  • Luister boaan die artikel na die volledige onderhoud met Gaireyah Fredericks oor haar kortverhaalbundel, Een voet innie kabr

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.