Luister: ‘Welvaart meer as net geld’

PJ en Geo Botha, skrywers van ‘Word ryk, bly ryk’. (Foto: Brendan Croft)

Hoewel geld ʼn medium tot rykdom is, gaan welvaart oor baie meer as ʼn groot banksaldo. Dit het ook te doen met jou persoonlike doelwitte, gewoontes en ingesteldheid.

Dit is die boodskap van die broers PJ en Geo Botha, medeaanbieders van die kykNET-reeks Welvaartskeppers, se jongste boek, Word ryk, bly ryk.

PJ en Geo se uitkyk op finansies verskil aansienlik, maar tog maak dit van hulle ʼn gedugte span wat mekaar aanvul. Aan die een kant is PJ die analitiese denker wat op die tegniese aspekte van finansies fokus, terwyl Geo die strategiese dromer is wat belangstel in die sielkundige aspekte van besluitneming.

“Welvaart lyk vir elke persoon anders,” sê PJ met ʼn koppie boeretroos in die hand. Hy en Geo het in Maroela Media se ateljee oor hulle boek gesels en verduidelik dat dit deels geïnspireer is deur die reeks wat vroeër vanjaar uitgesaai is.

“Ons wil met hierdie boek juis demonstreer dat welvaart nie net oor geld gaan nie, en dat daar ook ander aspekte van jou lewe by die welvaartreis betrokke is,” meen Geo.

Nog een van die motiveringspunte agter hulle behoefte om kennis oor welvaartskepping en -bestuur aan ander mense oor te dra, is die gebrek aan voldoende leermateriaal op skoolvlak.

“Ons leer nie van finansies op skool nie, en dit is waarom ek en Geo met ʼn podsendingkanaal begin het en boeke oor die onderwerp skryf. Om ʼn fondasie te skep en mense daardeur te help om finansies beter te verstaan,” sê PJ.

Die Botha-broers, beide onafhanklike finansiële adviseurs, dra in dié boek hulle kennis en ervaring aan alledaagse Suid-Afrikaners oor. Hulle doen dit in die vorm van ʼn roetekaart wat lesers help om hulle weg in uitdagende ekonomiese omstandighede en op die, soms intimiderende, pad na persoonlike welvaart te vind.

Geo sê die inhoud is eenvoudig en dit word in ʼn toeganklike taal en styl aan lesers gebied. “Ons wou juis nie te tegnies wees nie. Ek dink finansies word partykeer te kompleks aangebied. Mense verstaan dit nie en dan wil hulle eerder nie daaraan raak nie.”

ʼn Wye ouderdomsgroep en verskillende lesers sal die boek nuttig vind, omdat die boek elke fase van die welvaartsiklus uiteensit en bespreek.

“Ons raak dus aan die hele welvaartsiklus. Van welvaartskepping en -bestuur, tot die oordrag daarvan. Waar jy jouself in hierdie siklus bevind, gaan bepaal by watter deel van die boek jy meer aanklank vind.”

Word ryk, bly ryk bied ook ʼn kykie in die binnewêreld van suksesvolle individue, of hulle nou entrepreneurs, professionele mense of salaristrekkers is, se gewoontes en besluite wat hulle in staat stel om welvaart te skep en te behou.

Dink maar aan die suksesverhale van mense soos Michael Jordaan (voormalige uitvoerende hoof van FNB en waagkapitalis by Montegray Capital), Albé Geldenhuys (stigter en uitvoerende hoof van USN), Whitey Basson (voormalige hoof van Shoprite), Gary Rom (stigter en uitvoerende hoof van Gary Rom Hairdressing) en Gideon Galloway (stigter en uitvoerende hoof van King Price Insurance).

Op die vraag oor watter een van dié welvaartskeppers se stories die grootste indruk op hulle elkeen gemaak het, is dit Michael en Albé sʼn wat uitgesonder word.

“Die feit dat Michael op 36 al so suksesvol was, staan vir my uit. Hy is bekend vir sy innoverende leierskap en die bevordering van finansiële tegnologie, en hy het besef dat hy die regte mense om hom nodig het,” brei PJ uit.

Geo sê wat Albé van die meeste ander mense onderskei, is sy siening dat jy nie ʼn vyf- of tienjaarplan nodig het om aan die gang te kom nie. “Hy stel voor dat jy net moet begin en die plan uitwerk soos wat jy aangaan.

“Baie keer staan jy terug, soos ons met die boek, omdat jy dink jy is nie goed genoeg nie. Dit is maklik om te voel dat jy eers ʼn goeie idee moet hê of reeds ʼn goeie skrywer moet wees.”

PJ en Geo se boek Word ryk, bly ryk bring ʼn verfrissende aanslag tot persoonlike finansies, en na die lees van hierdie boek behoort lesers al een tree nader aan ʼn welvaartplan te wees. Die boek bevat hope brokkies inligting wat jou nie net sal inspireer nie, maar ook sal help om jou eie pad na welvaart met selfvertroue aan te pak.

Maroela Media het ook die broers beter leer ken: Wie is meer geneig om laat te kom vir afsprake en watter een van hulle is die skaamste voor vreemde mense? PJ en Geo Botha het As die vellie pas by Maroela Media gespeel. Kyk hier na die video:

  • Luister boaan die artikel na die volledige onderhoud met PJ en Geo Botha oor hulle jongste boek, Word ryk, bly ryk
  • Die boek kos R250 (prys onderworpe aan verandering). Klik hier om Word ryk, bly ryk by Graffiti Boeke aan te skaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

George ·

Fantastiese reeks gewees, het die twee se pa se boek ook gelees en was net so goed. Kan nie wag om die een onder oe te kry nie. Welgedaan Botha’s

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.