’n Boek oor geheime en klik

Klikbek deur Sidney Gilroy word deur Human & Rousseau uitgegee.

Sidney Gilroy se Klikbek, ’n Afrikaanse spanningsverhaal van 288 bladsye, beïndruk. Ek deel ietwat meer oor hierdie merkwaardige debuutverhaal, maar los genoeg verrassings oor vir medelesers om self te ontdek. Die lekkerte lê immers daarin om jouself tussen die blaaie van ’n boek te verloor.

Gilroy skryf met gemak vir hom ’n welverdiende plek oop op die pawiljoen wat gereserveer is vir ons topkrimi-skrywers soos Irna van Zyl, Irma Venter, Deon Meyer, Chris Karsten, Madelein Rust, Lerina Erasmus, Rudie van Rensburg en kie. In Klikbek ontmoet ons speurder Sollie Mthembu wat homself verknies oor sy spandabelrige vrou en die feit dat die bedrag op sy salarisstrokie net nooit genoeg is nie. “Die lewe is nie regverdig nie. Hoe lank gaan hulle nog so moet sukkel? Is hierdie huisie in Phahameng dan ál wat hulle beskore is?” … “Dís wat sestien jaar in die SAPD hom in die sak gebring het: ’n vuurhoutjieboksie op ’n kaal stuk grond in die middel van nêrens. En ’n hoop skuld” (21).

Sollie besluit om die bombastiese kaptein Maarten Brummels te konfronteer oor waarom dié vir hom wat Sollie is met niks meer as papierwerk vertrou nie terwyl hy smag om met ’n regte ondersoek te help. Die kommissaris se familie het hulle egter aan erge nepotisme skuldig gemaak. Om die joernaliste van Parkweg af weg te hou, verwag die kommissaris dat die speurafdeling resultate lewer sodat net positiewe suksesstories oor Bloemfontein SAPD die media haal. Kaptein Brummels gee wragtig vir Sollie sy heel eerste eie saak – ’n welbekende, skatryk boer van Rhynveld en ook vriend van die kommissaris word vermis. Sollie moet Tillman Wagenaar opspoor en sorg vir nuus wat positief sal reflekteer op die polisiestasie. Hy druk egter sy kop in ’n spreekwoordelike byenes met verreikende gevolge – ondermeer moord en familiegeheime wat sweer.

Ek het baie lekker gelees aan hierdie knap verhaal wat grootliks in die Vrystaat afspeel. Die donker verlede van families word opgerakel – passies, vetes en geheime wat verwoes en swaar op die nageslagte druk. Gilroy se skryfstyl is vloeiend en gestroop van oordaad en truuks. Die karakters se doen en late is oortuigend en die dialoog intelligent. Die boek is boeiend en intens, skokkend selfs. Ek voorspel ’n blink skryfloopbaan vir Gilroy.

Uittreksel: “Sy bied min weerstand toe hy haar regterhand in syne neem. Dit voel asof hy ’n delikate voëltjie tussen sy vingers vashou. Haar vel is poeierig en sag. Hy voel amper skuldig om haar vingerpunte eers oor die swart ink te rol en dan hard teen die papier te druk. Hy werk vinnig en sekuur” (138).

Meer oor die outeur: Sidney Gilroy het aan die Universiteit van Pretoria studeer alvorens hy  in 2001 begin het met ‘n loopbaan in projekbestuur in die ingenieursbedryf. Klikbek is sy eerste volwasse roman. Middernag, ’n riller waarin die speurder, Sollie Mthembu, weer sy opwagting maak, verskyn in Augustus.

Skaf Klikbek gerus hier aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.