’n Gids vir prinsesse-in-wording

Oorlewingsgids vir ’n prinses deur Frederica Magrin, word deur Lapa Uitgewers uitgegee.

Dogters van nege jaar en ouer sal beslis gaande wees oor hierdie handleiding wat tjokkenblok vol kundige en verbeeldingryke advies is oor hoe om ’n prinses te wees. Die sagtebandboek het ook baie mooi en kleurvolle illustrasies deur Laura Brenlla. Die boek is oorspronklik as The Princess’s Guide to Survival uitgegee en is in Afrikaans vertaal deur Cecilia Steyn. Frederica Magrin, ’n kenner oor alles wat met prinsesse te doen het, het vir die teks gesorg. Ek het baie lekker aan die boek gelees en glo dat voornemende prinsesse baie waarde daaruit sal put.

Oorlewingsgids vir ’n prinses beslaan 17 baie interessante hoofstukke wat elk fokus op ’n baie bekende dametjie wat óf as ’n prinses gebore is óf een geword het. Daar is bv. Sneeuwitjie, Aspoestertjie, Pokahontas, Raponsie en Thakane. Ons lees ook van Doringrosie, Skoonlief, Dulcinea, die Paddaprinses en vele meer.

Vonkel is ’n towertante met jare se ondervinding as die raadgewer van baie beroemde prinsesse. Soos haar opwindende amp voorskryf, hou sy van alles wat blink en glinster en het sy skitterende idees. “Ek is ’n fee. Ek is, wel, kom ons sê maar net lank, lank gelede in ’n wit-en-pienk blomkelk gebore, en ek het my sertifikaat as towertante ná baie lang opleiding gekry  … Jy sal nie glo hoeveel prinsesse ek al gehelp het nie” (7). Sy neem ’n jong leser op ’n fantastiese reis en leer haar hoe om ’n “wonderlike, rege, egte, perfekte, moderne prinses” te wees. Nie net vertel sy die verhale van dapper en vasberade prinsesse nie, sy gee ook hope inligting en wenke: “Oor pratende spieëls, towerlampe, geheimsinnige torings, bose hekse … alles waarin ek kon dink wat jou dalk in dié towerwêreld van prinsesse en prinse kan help” (8).

’n Mens sou dalk wonder wat is ’n prinses nou sonder ’n prins? Maar moenie dink prinsesse is hulpeloos nie! Op bladsy 28 staan daar duidelik geskryf: “Daar is prinsesse wat hulle self red. Ander red hulle prinse. Dan is daar dié wat ’n bietjie hulp nodig het. Soos die arme Doringrosie: vas aan die slaap, opgesluit in die toring van ’n kasteel, en asof dit nie genoeg is nie … toegerank deur doringtakke …” (28). Die sprokiesprins wat Doringrosie sou red, moes sommer baie spesiale eienskappe gehad het. Die boek lys drie, nl.

  1. Hy is hardkoppig. As ’n prinses in gevaar is, sal niks hom keer nie, al is hy ook oor ’n honderd jaar laat.
  2. Hy het altyd ’n skerp swaard by hom: net die ding vir onkruid uitroei.
  3. Hy is superfiks. Hoe anders gaan hy die duisend treetjies na die spits van die kasteel se hoogste toring klim?

Vonkel vertel oor prinsesse van verskillende lande en afkomste. Elkeen se kenmerke is anderste as die res. Elke prinses se uniekheid en onafhanklikheid word gevier. En só werk die outeur stilletjies ’n les of twee in wat die leser gerus ter harte kan neem, soos byvoorbeeld om jouself te wees – dit is immers al manier om ’n werklik unieke prinses te wees.

Meer oor die outeur: Frederica Magrin spesialiseer in kinderboeke. Sy skep ook graag opvoedkundige tekste en vertaal fiksie vir grootmense.

Meer oor die illustreerder: Laura Brenlla werk as strokiesprentkunstenaar en het ook digitale tegnieke vir animasie verfyn.

Bestel Oorlewingsgids vir prinsesse hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.