Prenteboek sonder woorde help met lees

Dr. Adrie le Roux.

Met die oog op wêreldboek- en kopieregdag wat vandag gevier word, kyk ons na ’n boek wat lees bevorder. Die boek Woordelose prentboek van dr. Adrie le Roux doen juis dit en help ouers en kinders lees.

In Suid-Afrika onderskat ons dikwels die potensiaal van prenteboeke sonder woorde, ook genoem woordelose prenteboeke, om veral by ouers en hul voorskoolse kinders in arm gemeenskappe ʼn kultuur van lees te help bevorder en geletterdheid te verbeter.

“Dit is ten spyte van internasionale studies wat getoon het dat woordelose prenteboeke ideaal is om ʼn liefde vir lees by volwassenes en kinders te kweek en geletterdheidsontwikkeling op ʼn vroeë ouderdom te bevorder,” sê Adrie, ʼn illustreerder van Pretoria.

Adrie het onlangs haar doktorsgraad in Visuele Kunste aan die Universiteit Stellenbosch verwerf. Sy wou kultureel relevante en ekonomies lewensvatbare woordelose prenteboeke skep om ʼn liefde vir lees in die huis aan te moedig, ongeag die ouer se geletterdheidsvlakke.

Sy sê haar navorsing het gewys dat woordelose prenteboeke die potensiaal het om die leesverhouding tussen ouers en kinders in arm gemeenskappe te verbeter asook om kinders te help lees en te verstaan wat hulle lees.

As deel van haar navorsing het Adrie ʼn vier tot ses weke lange lees-en-boekskeppingsprojek vir 42 ouers/primêre versorgers en hul kinders (3-6 jaar) by drie kleuterskole in Mamelodi, Shoshanguve en Melutsi in Gauteng aangebied. Sy sê baie mense in dié gebiede het nie geld om boeke te koop nie en baie kinders word nie aan boeke blootgestel voordat hulle skool toe gaan nie.

Adrie het vóór die projek ʼn werksessie by die eerste twee kleuterskole in Mamelodi en Shoshanguve gehou waar sy en twee fasiliteerders van Nali’Bali, ʼn nasionale lees-vir-genot-veldtog, deelnemers se stories oor hul daaglikse lewe versamel het. By hierdie kleuterskole het sy bestaande woordelose prenteboeke vir lees gebruik. Die deelnemers is gevra om hul stories te dokumenteer deur dit te teken of te skryf.

“Terwyl die kinders besig was om illustrasies te skep, het hul ouers of primêre versorgers vir hulle vrae gevra en hierdie stories gedokumenteer. Die ouers het dan uitgebrei op wat hul kind gesê het en in sommige gevalle ook byvoegings tot die tekeninge gemaak om die storie te help beskryf.”

Saam het Adrie, die ouers en hul kinders, sowel as vyf illustreerders, 18 prototipe woordelose prenteboeke by die twee werksessies die lig laat sien. Ouers kon eksemplare hiervan huis toe neem om saam met hul kinders te lees.

Illustrasie: Stephen Wallace.

Sy noem dat die boeke as proefneming by die derde kleuterskool gebruik is om te sien hoe hulle in ʼn ander omgewing sou werk. By dié kleuterskool het Le Roux hierdie boeke vir lees gebruik en nie bestaande woordelose prenteboeke soos by die eerste twee kleuterskole nie.

Adrie sê deur ouers toe te laat om die boeke huis toe te neem kon sy die persepsies van die ouers of primêre versorgers en die kinders rakende die waarde daarvan om die boeke te gebruik bepaal. “Ouers wat aan die studie deelgeneem het, het deurgaans gemeld dat hulle meer met hul kinders lees as voor die projek omdat dit makliker was om woordelose prenteboeke by die huis te gebruik.

“In sommige gevalle is daar in plaas van drie keer per week tot soveel as drie keer per dag oor ʼn tydperk van vyf weke gelees. In sommige gevalle het lees ʼn familie-aktiwiteit geword, met ouer kinders in die gesin wat ook stories vertel het.”

Volgens Adrie het ouers die opvoedingswaarde van die boeke beklemtoon en gesê hul kinders het vaardighede  ̶  insluitend woordeskat en visuele geletterdheidsvaardighede – ontwikkel en hul kennis vermeerder.

“Hulle het ook genoem dat hul kinders beter gekonsentreer het wanneer woordelose prenteboeke gebruik is in teenstelling met die lees van die Bybel, tydskrifte, skoolboeke of, in sommige gevalle, ander prenteboeke met woorde.”

“Met woordelose prenteboeke verstaan kinders die boek en die storie beter; hulle is dus aktief betrokke by die ‘lees’.” Sy sê haar navorsing bevestig ander studies wat getoon het dat die afwesigheid van gedrukte teks beteken ʼn storie kan geskep word deur illustrasies te “lees” met behulp van ʼn taal wat die leser verkies.

Die artikel is geskryf deur dr. Alec Basson van die afdeling Korporatiewe Kommunikasie van die Universiteit Stellenbosch.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Ken2 ·

Ek wonder waar die boeke te koop is, sal graag dit as geskenke aankoop.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.