Resensie: Jan Braai Braaibroodjies en burgers

Jan Braai Braaibroodjies en burgers deur Jan Braai word deur Human & Rousseau uitgegee.

As daar nou ’n resepteboek is wat lesers se monde laat water lank voordat hulle nog ’n resep uitgetoets het, dan is dit Jan Scannell – beter bekend as Jan Braai – se Braaibroodjies en burgers! Ek stem heeltemal saam met die lokteks agterop: “Pret is die woord wat hierdie boek perfek opsom. ’n Braaibroodjie is, letterlik, jou kans in die lewe om jou brood aan albei kante te botter. Jy leef net een keer en daarom glo ek jy moet jou braaibroodjies (en jou lewe) met lekker goed vul en oor die kole van ’n houtvuur rooster. Gryp elke geleentheid aan. Sien dit as ’n burgerlike voorreg.” Sela.

Food & Home Entertaining beskryf Jan Braai tereg as “Suid-Afrika se gewildste vlammaestro.” Hy dra dan ook die kookboek op “aan die miljoene Suid-Afrikaners wat elke jaar Nasionale Braaidag op 24 September vier. … Ek glo dat so ’n nasionale feesdag ’n belangrike rol in nasiebou kan speel en dat die viering van ons gemeenskaplike erfenis ons waarlik kan verenig. In Afrika is ’n vuur die tradisionele plek van samekoms.” Hy skryf verder: “Hou asseblief aan om my te help om alle Suid-Afrikaners aan te moedig om rondom ’n vuur saam te kom en te verenig!” (p. 9)

Guillaume Bosch en Matthys van Lill se aptytwekkende foto’s laat lesers se mae sommer grom van honger en verlei jou om dadelik ’n braaibroodjie of ’n burger vir ete voor te berei. “Soos die pragtige foto’s in die boek getuig, is braaibroodjies en burgers sag op die oog en uiters fotogenies” (p. 9). Jan noem ook dat dit een van sy langtermyndrome was om ’n boek te publiseer wat uitsluitlik gewy is aan dié twee prettige sterre van die braaivleisvuur. Asof lesers énige motivering nodig het om die resepte in Braaibroodjies en burgers uit te toets, maak Jan hulle daarop attent dat braaibroodjies en burgers maklik is om te eet en dat daar nie sommer oorskiet oorbly nie, want dit word gewoonlik huitjie en muitjie verorber.

Jan verskaf reeds in die inleiding waardevolle wenke om die perfekte braaibroodjie of burgerpattie te braai. “Met braaibroodjies is daar net een vangplek: Hulle moet so gereeld as moontlik omgedraai word. Braaibroodjies is draaibroodjies. Met burgerpatties is die geheim presies die teenoorgestelde: Draai hulle so min as moontlik om, verkieslik net een keer. Beide tegnieke word in meer besonderhede in die toepaslike resepte beskryf” (p. 9). Hy gesels op bladsy 10 oor watter brood die beste is om ’n braaibroodjie mee te maak, en op bladsy 16 vertel hy oor die beste rolletjie vir ‘n hamburger.

Ek noem hier onder net ’n paar van die heerlike resepte. Die beskrywende name is reeds genoeg om jou die bestanddele te laat kry en die vuur solank aan te steek. Natuurlik pryk die tradisionele braaibroodjie (dié met blatjang, uie, tamatie, kaas, sout en peper) prominent op bladsy 20.

Braaibroodjies: Biltong-braaibroodjie, Chorizo-braaibroodjie, Weskus-braaibroodjie, Peri-peri-hoenderlewer-braaibroodjie, Vy-en-feta-braaibroodjie, Gebraaide-botterskorsie-braaibroodjie, Karamel-braaibroodjie, Malvalekker-en-sjokoladebraaibroodjie en Appeltert-braaibroodjie.

Burgers: Die kampioen-van-kampioene-sampioenburger, Monkeygland-burger, Nacho-burger, Steakbroodjie met mosterd, mayo en gekaramelliseerde uit, Soetbrandrissieburger met spek en pynappel, Klein Karoo-volstruisburger, Kaap-Maleise kerrievisburger en Caesar-hoenderburger.

Skaf gerus jou kopie van Braaibroodjies en burgers hier aan. Jan Braai het ook die volgende boeke gepubliseer, nl. Vuurwerke, Vuurwarm, Die Demokratiese Republiek van Braai, Shisanyama en Vegetaries.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.