Resensie: Woordkuns soos korrels waaisand wat bly krap

daniel-hugo.jpg

Daniel Hugo (Foto: Verskaf).

Op die oomblik woon daar drie Afrikaanse digters in Namibië, wie se digbundels deur uitgewers in Suid-Afrika gepubliseer word: Piet van Rooyen, Emmie Bedeker en Kobus Lombard.

Al drie se poësie word diepgaande beïnvloed deur die landskap van woestyn, halfwoestyn, savanne en dorre kusgebied. Dit is ʼn ylbevolkte land wat die bewoners voortdurend bewus maak van hul afgesonderdheid en aangewesenheid op mekaar.

Sandskrif is Kobus Lombard (1952) se sesde digbundel sedert hy in 2001 met Geknipte naelstring gedebuteer het. In sy jongste bundel duik al die bekende temas uit sy poësie weer op: die woestyn, sy geloof- en identiteitswroeging (hy is ʼn aangenome kind) en die skryfkuns as intense poging tot sin maak. Wat in hierdie verse nog sterker as voorheen figureer, is sy ervaring van die ouderdom en die naderende dood.

Die bundel open met die titelgedig waarin dié hooftemas ongedwonge aangeroer word. Dit begin só: “ek skraap met die hand/ ʼn bladsy in die sand”. Die religieuse dimensie word gesuggereer deur die interteks met Johannes 8 vers 6 waar Jesus in die sand geskryf het. Die Bybelse sfeer word versterk deur die verwysing na ʼn toktokkie wat die kolletjies op die i’s en j’s plaas – dit wil sê omsien na elke jota en tittel, volgens Matteus 5 vers 18. Ten slotte stap die digter in die sandpad af, weg van sy skryfwerk. Maar dan besef hy: “ek weet dis tyd om om te draai/ voor die wind/ my laaste woorde wegwaai.”

Die eerste afdeling van Sandskrif sou ʼn mens die belydenis van ʼn onkerklike gelowige kon noem. Hy verwerp die kerklike dogma, maar klou aan die natuurlike Godsopenbaring wat millennia lank al in woestyngebiede plaasvind, soos in die geval van Abraham, Moses, Mohammed en die Boesmans van die Kalahari.

In die digter se ouderdom is God vir hom “anderkant woorde/ onverstaanbaar soms/ nes dit die liefde betaam” (“Politeïs”). Lombard se godsdienstige bespiegelings raak nooit swaarwigtig nie. Inteendeel, dit is soms speels en lig ironies. In “Afspraak” vra hy of hy by God kan gaan kuier en stel dan ʼn tyd voor: “Sondagmiddae is gewoonlik stil/ en godverlate hier by ons.”

Die tweede afdeling van die bundel bevat gedigte oor oudword en is oorwegend melancholies van aard. Hy wonder: “hoe sterf een uiteindelik wat so/ freneties aan die lewe klou/ soos ek.”

Die motief van die sienlike en onsienlike uit die eerste afdeling word hier voortgesit, besonder boeiend in “Nagsig”:

nou dat die dag se ure
                               langer word
                               moet ek leer
                               om die donker te ontsluit
                               die stafies in my retina oefen
                               om met skrefies lig te sien
                               selfs my verse
                               sal ek toe-oë skryf

                               sou die Onsienlike
                               my uiteindelik
                               deur dié donker lei
                               bly die werklikheid
                               vir altyd te helder vir my.

Die derde afdeling handel oor die skryf van gedigte en die gevaar wat die digter loop om misverstaan te word. Die kritici vorm ʼn wesenlike gevaar vir die “woordwewer’ – hulle pluk sy nes ongenadig uitmekaar. Die taal is natuurlik ontoereikend vir ʼn mens se wesenlike behoeftes: “honger en dors/ kan ek nooit/ net met woorde stil nie.”

Hierdie uitspraak, wat ʼn variasie op Jesus se woorde in Matteus 4 vers 4 is, word onthutsend in die volgende afdeling met die gedig “Verbrande brief” geïllustreer. Dit is aan sy biologiese ma opgedra en bevat slegs brokstukke van wat hy werklik vir haar sou wou sê.

In die laaste afdeling is uiteenlopende verse saamgebring, terwyl gesinspeel word op die samehang van alle dinge. In “Grondstof” word dit treffend uitgespel. Só klink die twee slotstrofes:

my bril se glase
                               lê in korrels op die strand

in ʼn dennewoud
                               ritsel my boek in die wind.

Kobus Lombard is nie ʼn digter wat met nuwe temas en style eksperimenteer nie – hy bly getrou aan wat hy goed kan doen. In Sandskrif bereik hy die toppunt van waartoe hy in staat is met sober beskrywings en glashelder woordgebruik.

Wat my veral beïndruk, is die netjiese versfrasering wat dikwels op ʼn onontkombare, verdiepende slot afstuur, soos in “Afvalbestuur”:

tussen teesakkies
                               piesangskille
                               pilleplaatjies
                               en broodkrummels
                               lê onherwinbaar
                               ʼn gevlekte lys
                               van gedane sake
                               sonder keer.

Ek lees Kobus Lombard se gedigte nou reeds twee dekades lank met plesier. Mag nuwe verse hom nog lank knaend soos “ʼn korrel waaisand” in die oog bly krap. Die trane wat dit produseer is kristalhelder en nooit sentimenteel nie. Die sout van die aarde.

  • Kobus Lombard se Sandskrif (2023) word uitgegee deur Imprimatur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.