Samekoms vir romanseskrywers

Argieffoto (Foto: Aung Soe Min/Unsplash)

Menige skrywer het al na die afgesonderdheid van die skryfproses verwys en juis daarom is die Romance Writers Organisation of South Africa (ROSA) se jaarlikse konferensie ʼn gulde geleentheid vir samesyn en groei, sê Tosca de Villiers, lid van ROSA.

“Om tyd saam met medeskrywers deur te bring en terselfdertyd jou skryfvaardighede te slyp, is ʼn geleentheid wat nie te versmaai is nie.”

ROSA se konferensie met die tema “Togetherness” of “Samehorigheid” word vanjaar van 12 tot 14 November weer aanlyn aangebied. Opleidingsessies en gesprekke vind in die vorm van webinare plaas en elke dag se sessies word volgens ʼn bepaalde onderwerp saamgestel.

Die bekroonde skrywer Eden Bradley is vanjaar se hoofspreker en bied op 13 November ʼn interaktiewe slypskool met die onderwerp “Awaken Your Senses” aan. Bradley is ʼn New York Times– en USA Today-topverkoper-skrywer. Haar boeke is in Duits, Frans, Roemeens, Portugees, Spaans, Italiaans, Tsjeggies, Pools, Indonesies en Japannees vertaal.

Het jy ook ure lank na die wel en wee van Virgin River se mense gesit en kyk? In haar aanbieding bespreek Eliza Peake, ook ʼn internasionale spreker, vrae soos hoe om ʼn sexy, opregte, kleindorpse kontemporêre romanse te skryf.

Felicia Snyman, bekende skrywer en regspraktisyn, gaan by ROSA se konferensie oor skrywersregte en ander kwessies gesels. (Foto: Verskaf)

Felicia Snyman, bekende skrywer en regspraktisyn, gaan oor skrywersregte en ander kwessies gesels. De Villiers meen dit is veral relevant omdat skrywers vanjaar buitengewoon deurgeloop het onder groepe wat e-boeke onregmatig bekom en versprei.

Sophia Kapp fokus op die skryf van stylvolle sekstonele in Afrikaans, Shawna-Leze Meiring gee raad oor die seksuele grense in tiener- en jongvolwasse-skryfkuns en Carin Marais gesels oor die vertaling van Engels na Afrikaans.

Marais is ook die gespreksleier van ʼn paneelbespreking oor die wêreldwye toename in die lees van romantiese fantasie. Die paneellede is Frenette van Wyk, Madelie Human en Marie Brits.

Een van ROSA se aktiwiteite is ʼn mentorskapprogram vir ongepubliseerde skrywers. As jy meer hieroor te wete wil kom, is die paneelgesprek onder leiding van Sunel Combrinck iets wat jy nie moet misloop nie.

Die hoofprogram word in Engels aangebied en is saamgestel uit interaktiewe skryfwerksessies, wegbreeksessies om met ander skrywers ʼn netwerk te vorm, paneelbesprekings, asook die slyp van skryfkuns, sakevernuf vir skrywers, bemarking en publikasieraad deur plaaslike en internasionale aanbieders.

De Villiers sê verder dat ROSA ʼn aantal beurse vir die konferensie beskikbaar stel.

“Ja, ons bevind ons in moeilike en uitdagende finansiële tye. Die suksesvolle kandidate kan self besluit waarvoor hulle die beurs wil aanwend. Een van die opsies is om ʼn dag of drie van die kongres by te woon.”

Besoek ROSA se webwerf vir meer inligting oor die program en kaartjieverkope.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.