Skryfterapie vir gebrokenes

Om tot verhaal te kom deur Lizette Rabe word uitgegee deur Lapa Uitgewers

Lizette Rabe se Om tot verhaal te kom is ’n praktiese skryfgids wat handel oor die verwerking van trauma en verlies deur skryfterapie. Lizma van Zyl, joernalis en radio- en TV-aanbieder, beskryf die boek op die omslag as “’n waardevolle boek wat die leser emosioneel bemagtig en met praktiese wenke toerus om hul pad na ’n nuwe lewe oop te skryf”.

Ná een van haar seuns se selfdood in 2009, het Rabe gepoog “om met sinne te probeer sin maak uit dit wat geen sin meer gemaak het nie”, en só is die idee vir Om tot verhaal te kom gebore. “Skryf sou ’n ander vorm van huil word” vir haar. “Ek sou met woorde, letters, soms selfs net klanke, soms sinne, soms paragrawe, soms bladsye, vir my ’n nuwe bestaan moes opbou. ’n Nuwe identiteit. ’n Nuwe wêreld. Een van ’n ma wat nog steeds haar drie seuns het. Net: Een is nie meer hier nie. Om sin te maak uit die nie meer hier nie, moes ek my toevlug tot woorde neem. Struikelend, stotterend, stamelend. Maar skrýwend.”

Sy spreek die wens uit dat skryf vir die leser ’n terapeutiese ervaring sal wees: “Skrýf oor jou verlies, jou trauma, jou angs, jou woede, jou hartseer. Uiteindelik dalk selfs jou vreugde.”

Om tot verhaal te kom beslaan 159 bladsye en is opgedeel in 21 hoofstukke. Van die hoofstukke se opskrifte is: Basiese skryfwenke om mee te begin, Memoire-skryf, Dagboekskryf, Blogskryf, E-pos-skryf, Facebook-skryf, Gedigte-skryf en selfs Krabbels. Rabe skryf onder meer ook oor inspirasie en die moontlike publisering van jou skryfwerk sou jy wel wou hê dat ander dit lees. Haar wenke is daarop gerig om prakties en uitvoerbaar te wees.

Sy skryf met respek en groot empatie teenoor die leser wat skryfterapie oorweeg om die verhaal wat in hom of haar opgesluit lê, uit te bring. Sy reken dat skryf een manier is “om jou te help om beheer te neem deur jou emosies sistematies as gedagtes uit te druk. Woord vir woord, sin vir sin, paragraaf vir paragraaf. Storie vir storie.”

Ek het Om tot verhaal te kom van waarde gevind en beveel die gids heelhartig aan. ’n Indrukwekkende lys bronne wat Rabe geraadpleeg het, verskyn agter in die boek. Die gids is dan ook propvol inspirerende en paslike aanhalings van skrywers en kenners op die gebied van skryfkuns.

Uittreksel: “Skryf oor alles wat jy ervaar en alles wat jy beleef. Soms is dit dalk net ’n woord ’n dag. Soms is dit dalk ’n stroom wat net nie ophou nie. Soms selfs ’n tsoenami wat oor jou breek. Dis alles deel van die proses. Skryf in enige vorm en formaat, van gedigte tot selfs net puntsgewys op ’n Post It-papiertjie, of selfs net krabbels – daardie doodles – wat ook ’n uitlaatklep bied. Die punt is: Laat dit uitkom. Álle emosies of belewenisse wat jy ervaar.”

Meer oor die skrywer: Lizette Rabe, ’n oudredakteur van die tydskrif SARIE, is verbonde aan die Universiteit Stellenbosch as professor van joernalistiek. Koop die boek by Graffiti Boeke

Die opbrengs van Om tot verhaal te kom gaan aan die Ithemba Stigting wat navorsing oor depressie ondersteun en ook gemoeid is met die bewusmaking van depressie as biologiese siekte. Lees hier meer oor die stigting.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Diefie ·

Ek stem 100% saam met jou. Dit het my gehelp toe ek kanker gehad het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.