Snoeshaan en snoetbus: Jongste deel van die WAT nou beskikbaar

Foto: Woordeboek van die Afrikaanse Taal/Facebook

Die jongste deel van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) het pas verskyn en nuwe woorde word steeds tot die bestaande WAT bygevoeg, soos wat die taal voortdurend uitbrei.

Deel XV strek alfabeties van SKOOL tot by SRI LANKAANS en op ʼn enkele bladsy sal jy prikkelende lekkerkrywoorde soos snoesel, snoeshaan, snoetbus, snoewery en snol kry.

Deel XV bevat ook ‘n addendum met bykans 1 000 nuwe woorde van A tot S. “Dié addendum gee aan ons ʼn idee wat sedert die publikasie van elke deel in Afrikaans gebeur het, beginnende by deel I in 1951,” verduidelik dr. Willem Botha, hoofredakteur van die WAT. “Aanlyn en amabokoboko was nog nie ʼn vonkel in Afrikaans se oog in 1951 nie, ook nie banting, beurtkrag en CD nie. Gay, geelkaart, geheuestokkie, gemorskos, glasnost, google en hardeskyf was destyds nie eens ʼn hersenskim nie.”

Die aanlyn WAT is nou ook bygewerk tot by SRI LANKAANS en aangevul met nuwe woorde van A tot S. “Net soos in die geval van die addendum van deel XV is die aanvulling nie uitputtend nie. Die redaksie het bloot die werk aan die letter S vir ses maande onderbreek om die WAT met nuwe woorde en nuwe betekenisse van reeds opgeneemde woorde van A tot S aan te vul,” het Botha bygevoeg.

Altesaam vyftien dele van hierdie omvattende verklarende Afrikaanse woordeboek is reeds gepubliseer, maar jy kan ook ʼn volledige stel boeke (Deel I – Deel XV) aanskaf.

Die WAT is ’n omvattende sinchroniese verklarende woordeboek, dit wil sê primêr gerig op die huidige taalgebruik. Die woordeboek doen op ’n omvattende manier verslag van die woordeskat van Afrikaans. Die omvattendheid van die WAT lê op drie vlakke: die opname van die Afrikaanse woordeskat in sy wydste omvang, die groot verskeidenheid tipes inligting wat in die bewerking aangebied word asook die omvang van die bewerking.

Die redaksie het reeds in Januarie 2019 begin werk aan Deel XVI, waarmee die letter S afgesluit word. Deel XVI sal na verwagting aan die einde van 2020 verskyn en dit sal ook die laaste gedrukte uitgawe van die WAT wees. Van letter T af sal die WAT slegs aanlyn beskikbaar wees.

Klik hier om enige deel van die WAT te bestel

Jy kan ook op die internetweergawe van die elektroniese WAT inteken vir 12 maande teen slegs R200. Jy sal dan toegang hê tot die bestaande WAT (A – SRI) op internet en selfoon.

Ondersteun ook die WAT se Borg ‘n Woord-veldtog teen R100 per woord of Koop ‘n woord teen R5 000, dan behoort daardie woord net aan jou.

  • Jy ontvang ‘n sertifikaat met jou naam en woord.
  • Jy kan R25 000 wen in die Sanlam-prystrekking.
  • Hoe meer woorde jy borg of koop, hoe groter is jou wenkans.
  • Gratis toegang tot die Aanlyn WAT vir ses maande as jy ‘n woord borg of vir vyf jaar as jy dit koop.

Klik hier vir meer inligting oor Borg ‘n Woord

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Charles ·

Afrikaans = die kat se snorbaarde!

Lank lewe ons wonderwerk!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.