Sonder ‘n woordeboek maak jy dalk jou naam krater

(Foto: Maroela Media)

Dit is vroegoggend. Jou alarm het jou pas wakker geskel. Jy klim met ’n tamheid uit die bed en loop sleepvoet na die kombuis om jou eerste koppie koffie te skink.

Soos oudergewoonte hark jy die foon nader om vinnig deur sosiale media te blaai. Jy lees op een van die gemeenskapsgroepe ’n inskrywing raak wat veroorsaak dat jy daai boeretroos van jou uitspoeg dat dit met ’n boog deur die sitkamer trek en rakelings jou Jack Russell, Spekkie, mis.

Jy lees die sin weer om seker te maak jou oë bedrieg jou nie: “Die grootste vout wat die staat nog gemaak het. Was om virpligte diensplig af te stel. Jy het geweet wat reg en verkeurt is.”*

Wraggies, dít is wat daar staan, en met afgryse skud jy jou kop en dink: “Het hierdie arme ou drommel dan nie ’n woordeboek nie?”

Sosiale media is deurspek met nare taalgoggas soos dié, maar gelukkig is daar ’n hele arsenaal van woordeboeke daarbuite wat jou sal help om nie jou naam krater te maak nie. Met die viering van Internasionale Woordeboekdag op 16 Oktober is daar geen beter tyd om jou spelvernuf op te skerp en in ’n goeie woordeboek of speldiens te belê nie.

“Woordeboeke is baie belangrik,” sê Karien Brits, bestuurder: taal by die ATKV. “Dit is te danke aan woordeboeke dat tale nog leef, as woordeboeke ophou gemaak moet word, sal ’n taal sterf.”

Sy sê woordeboeke is nie net belangrik as jy op skool is nie. “Jy kan dit in elke opsig van jou lewe gebruik, of jy nou ’n inskrywing op Facebook maak, ’n voorlegging by die werk moet doen of ’n e-pos tik – ’n woordeboek is van kardinale belang. Ons wil namens die ATKV die leksikograwe bedank wat steeds voortstoom om die taal uit te brei en nuwe woorde by te voeg,” sê sy.

Hier is ’n paar nuttige woordeboeke en hulpbronne wat jy gerus kan oorweeg om aan te skaf:

– Die ATKV is ’n stigtersvennoot van die VivA-app wat jy gratis op jou slimfoon of tabletrekenaar kan aflaai.
– Besoek ook VivA Afrikaans vir lidmaatskap en ander aanlyn woordeboeke en hulpbronne.
– Pharos se Verklarende Afrikaanse Woordeboek (teen R425 op Takealot).
– Pharos se Afrikaans-Engels-woordeboek (R439 op Takealot).
– Pharos se aanlyn gerief: Dié aanlyn diens het ’n versameling van algemene en vakwoordeboeke. Teen R445 per jaar kry jy toegang tot 15 naslaanwerke. Besoek Pharos Aanlyn
– Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (R345 op Takealot).
– Die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (R392 op Graffiti Boeke).
– Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) – verskeie opsies is beskikbaar. Besoek die webwerf. Jy kan ook ’n woord borg of koop.

*Die voorbeeld in die teks het só op Facebook verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Cassie Louw ·

Hopelik was dit nie jou ‘alarm’ wat jou vroegoggend wakker gemaak het nie, want dan moes jy vir ‘n inbreker gereed wees. Dit was eerder jou wekker … en jy kyk nie op die ‘klok’ langs jou bed nie, maar na ‘n horlosie. ‘n Klok hang in die kerktoring of in goeie plattelandse dorpe se stadsaaltoring.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.