Stories bring heling vir verpleegsters

Een van Jonathan Ball se jongste publikasies, In our own words: Nurses on the front line, is ʼn viering van verpleegsters se absolute veerkragtigheid in uiters moeilike omstandighede.

“Die boek word aan verpleegsters opgedra, want hulle is helde van die gemeenskap. My ervaring is dat daar dikwels in die media gefokus word op dít wat verpleegsters nie doen nie of wat skeefgeloop het, en in die proses kyk ons hulle bydrae mis.”

So sê Siedine Coetzee, een van die skrywers van In our own words: Nurses on the front line en bekleër van die Albertina Sisulu-navorsingsleerstoel in Verpleegkunde aan die Noordwes-Universiteit (NWU).

Verpleegsters is van die rolspelers wat deurgaans op die voorste linie van die Covid-19-pandemie gestaan en pasiënte te midde van talle uitdagings met die grootste deernis versorg het.

Terwyl kollegas positief getoets of dood is weens die virus, het verpleegsters onverpoosd geveg en meer as ooit tevore as tussengangers opgetree tussen pasiënte en geliefdes. Sommige verpleegsters het ook tydelik uit hulle huise getrek om geliefdes te verskans teen die moontlikheid om aan te steek.

Die gedagte aan nog ʼn publikasie wat geskryf is oor die uitwerking van die pandemie, is genoeg om menige leser te laat sug en na die volgende artikel of boek aan te beweeg.

Coetzee meen egter dit is nou juis die tyd om ʼn blik op die binnewêreld van verpleegsters te kry en hulle deur die trauma te help.

Argieffoto (Foto: RF._.studio/Pexels)

“Wanneer jy in ʼn krisissituasie is, byvoorbeeld ʼn motorongeluk, het jy op daardie oomblik adrenalien om helder te dink, hulp te kry en daardie situasie te hanteer.

“In die pandemie het verpleegsters hulle ook in so ʼn krisissituasie bevind en daarom kon hulle op adrenalien staatmaak. Maar noudat dit verby is, is dit nodig om na verpleegsters om te sien,” verduidelik sy.

In In our own words: Nurses on the front line kan lesers deur die oë  van verpleegsters en hulle stories ervaar hoe die binnekant van hospitale gedurende die pandemie gelyk het. Die stories is gegroepeer volgens die temas trauma, veerkragtigheid en groei.

“Ek dink die belangrikste ding vir die gemeenskap is dat die meeste van ons ʼn familielid of iemand na aan ons verloor het. Dit was frustrerend wanneer jy boonop nie vir daardie persoon in die hospitaal kon gaan kuier het nie.

“Hierdie boek wil ʼn blik gee op die emosionele, fisieke en geestelike uitdagings wat verpleegsters ervaar het, asook hoe hulle gevoel het om konstant tussen lewe en dood te beweeg en nie tyd gehad het om emosies te ervaar of te verwerk nie.”

Coetzee het die boek saam met Hester Klopper en Jonathan Jansen geskryf. Klopper is die adjunk-visekanselier: strategie en internasionalisering aan die Universiteit Stellenbosch (US) en ʼn professor in die globale gesondheidsdepartement, en Jansen is ʼn buitengewone professor in die Fakulteit Opvoedkunde aan die US.

In our own words: Nurses on the front line kos R260 (prys onderworpe aan verandering). Klik hier om die boek aan te skaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

VaalDonkie ·

Dis great. Daai arme mense moes onder rowwe omstandighede werk. Aan die eenkant is hulle bang hulle kry die virus, aan die ander word hulle voorgeskryf om siekes te behandel op ‘n manier wat basies hul dood sou verseker, en hulle kon nie anders nie.

En toe moes hulle almal die tjappie loop vat of afdanking in die gesig staar. Selfs al het hulle reeds van COVID herstel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.