‘Suidooster’-skrywer vertaal ook internasionale trefferstories

Die bekroonde vertale en skrywer van televisietekekste, Kobus Geldenhuys (Foto: Johann Crous)

Kobus Geldenhuys is nie ʼn naam wat jy gereeld boaan die kredietlys van ʼn televisieprogram of op die voorblad van ʼn boek sien nie. Trouens, dit is hoe hy dit verkies: om op die agtergrond en buite die kollig te wees.

By die kykNET-sepie, Suidooster, werk Kobus weekliks agter die skerms waar hy toesien dat die verskillende skrywers se tekste met mekaar skakel. Voorheen het hy televisietekste vir verskeie ander Suid-Afrikaanse sepies en dramas geskryf, wat onder meer Villa Rosa, Swartwater en Binnelanders insluit.

Toe Suidooster in 2015 begin is, het Kobus by Binnelanders bedank en by die nuwe sepie in die Kaap aangesluit. Aan die begin het hy self tekste geskryf, maar later is hy as teksredakteur aangestel.

Kobus vertel in ʼn onderhoud met Maroela Media dat dit vir hom ʼn heerlike ervaring is om deel van die Suidooster-span te wees.

“Die mense wat by hierdie sepie betrokke is, is ʼn fantastiese klomp. Die akteurs is van die niceste mense saam met wie ek al gewerk het, en spesifiek ook die skryfspan.

“Ek werk aan die een kant saam met wonderlike jongmense wat gretig is, en aan die ander kant werk ek saam met ouer mense wat werklike kundig en ervare is. Dan is daar nóg ouer mense op die span wat excellent in die bedryf is,” sê hy.

Die sepie se skryfspan bestaan grotendeels uit jonger skrywers – ook iets wat Kobus geniet. “Dit is vir my lekker om met jonger mense te werk wat wíl leer. Ek is in ʼn posisie waar ek hulle touwys kan maak, en slaggate en kortpaaie in die bedryf kan leer.”

Kobus Geldenhuys. (Foto: Verskaf)

Wanneer Kobus nie aan Suidooster se tekste werk nie, is hy besig met vertaalwerk. Die verskeidenheid van tekste waarmee hy werk bring balans in sy dagtaak.

“Ek kan nie iets doen waarvan ek nie hou nie, maar dit is natuurlik ook so dat jy nie ewe veel van elke boek of teks hou nie. Die verskeidenheid tekste is wonderlik, want dit bring balans in my dagtaak. Ek hou nie daarvan om net een ding op ʼn slag te doen nie, want dan voel ek, ek werk – hard,” skerts hy.

Die waarheid is dat Kobus wel hard werk. Hy staan soggens om 05:00 op en spring dan dadelik aan die werk. Rondom 08:00 skep hy asem en so volg hy elke dag ʼn streng roetine om seker te maak dat hy sy spertye haal. Soms keer hy na aandete terug na sy lessenaar vir ʼn aandskof.

“Ek werk nogal lang ure, omdat ek onsettend gefokus is. As ʼn mens vryskutwerk doen, is jy jou eie strengste baas.”

Te danke aan Kobus se slag met woorde het hordes internasionale topverkoperboeke al nuwe momentum in Afrikaans gekry.

Die jongste vertaling uit sy pen is Kodenaam Piesangs, wat deur Protea Boeke uitgegee word. Dit is die Afrikaanse weergawe van David Walliams se Code Name Bananas.

Kobus het van die boeke in JK Rowling se Harry Potter-reeks en Die Ickabog (in Engels, The Ickabog), Cressida Cowell se Hoe om jou draak te tem: Hoe om Drakonees te praat (in Engels, How to Train Your Dragon: How To Speak Dragonese), Andy Griffiths se Die boomhuis-reeks (in Engels bekend as The Treehouse), en Dav Pilkey se Kaptein Onderbroek- (in Engels bekend as Captain Undperpants) en Hondman-reekse (in Engels bekend as Dog Man), vertaal.

Dan is daar ook sy Afrikaanse vertalings van JRR Tolkien se Lord of the Rings-trilogie, Paul Coelho se The Alchemist en Veronica Decides to Die, en Rachel Renée Russell se immergewilde tienerreeks, Dork Diaries.

Kobus Geldenhuys (Foto: nb.co.za)

In 2015 is die Elsabé Steenbergprys vir vertaalde kinder- en jeugliteratuur in Afrikaans aan Kobus toegeken vir Cressida Cowell se Hoe om jou draak te tem: Hoe om Drakonees te praat, en in 2018 vir MG Leonard se Kewerknaap.

Hy het in 2016 die Alba Bouwerprys vir kinder- en jeugliteratuur gewen vir sy vertaling van Michael Morpurgo se Hoekom die walvisse gekom het. Kobus het by geleentheid ook Artes- en Safta-pryse ontvang, en is verskeie kere vir sy gesinchroniseerde vertalings van TV-reekse en animasieflieks vir die destydse SAUK-oorklankingsafdeling benoem.

Hou Kobus kop van al hierdie stories wat hy vertaal? “Nee, maar ek glo dit sal nogal ʼn hele klompie wees, weet jy?” skerts hy laggend.

Op die vraag oor of hy homself as suksesvol beskou, is Kobus se antwoord: “Nee, ek beskou myself glad nie as suksesvol nie. Ek beskou myself as besonder gelukkig.”

Hy sê dit gaan vir hom oor geleenthede wat in sy loopbaan aan hom gebied is. “Iemand moet iewers vir iemand ʼn kans gee, en ek het kanse gekry. Daar is so baie mense wat ek ken wat baie slimmer en meer talentvol as ek is, maar wat hulleself nie kan apply of betyds die werk kan lewer nie.

“Dit is ʼn groot seën en genade dat ek altyd werk het. Ek besef dat iemand van my ouderdom wat kan aanhou werk, ʼn ontsaglike voorreg is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.