Verklikker – uittreksel 1

Leon van Nierop

Hoofstuk 1

ʼn Sagte suising. Dit is asof die wind die sand tot hier teen die plaashuis waai. As hy goed luister, kan hy die sandkorrels teen die venster hoor. Tip tip tip, soos klein stippeltjies wat tik-tik teen die glas.

Marco sit orent in sy bed. Hy kyk om hom rond. Behalwe vir die wind is dit stil. In die drieverdiepinghuis kraak ʼn trap. Iets skarrel oor die plafon. Die jas wat aan die deur hang, lyk soos ʼn man wat vir hom staan en wag.

Tip tip tip teen die ruit.

Maanlig val deur die venster wat oor die Namibiese plaas uitkyk. En op die Ewenaarskloof Stasie waar die trein elke aand elfuur verbykom.

Hy kyk na die plankvloer. Die vensterrame lyk soos maer grafstene wat in die maanlig staan. Die middelste een lyk skuinser as die ander, asof dit wil omval. En die gekleurde ruitjies aan die buitekant maak die maan rooi. Soos bloed.

Stilte. Hy hoor gewoonlik sy pa tot hier snork. Sy ma het elke boereraat probeer om sy pa van sy snorkery te genees, maar niks het gehelp nie. Sy ma moes leer om daarmee saam te leef. En saam daarmee die klagte, “As ek net één nag in my lewe kan deurslaap!”

Marco het altyd vir die trein se fluit gewag. Vroeër jare, stiptelik om elfuur, het die trein gefluit as dit om die skerp draai ry, net voor die spooroorgang op hulle plaas. Toe hy kleiner was, het sy pa hom altyd kom haal en op sy skouers getel sodat hy na die trein kon kyk. Sy ma was gewoonlik vies, want dan word sy wakker. Maar daarna het sy net gesug, omgedraai en verder probeer slaap.

Later het hy self opgestaan om vir die trein te wag. Hy was dol daaroor om deur die rooi ruitjies na die stomende kolos te kyk, want dan het dit gelyk of die trein oor Mars ry met ʼn rookpluim wat skuimend agter hom aantrek.

Klikketie-klik, klikketie-klak. Tjoeke-paffe, tjoeke-paffe, toe-oe-oet-oet!

Daardie fluit was altyd vir hom mooi. Hy het dit nageboots en gereeld in sy drome gehoor. Dit het sy ma ook wakker gemaak sodat sy soggens kla: “Regtig Marco! Jou pa snork die huis aan die brand, dan moet jy ook nog skree!”

Dit was asof die masjinis net vir hóm gefluit het. Hulle het ʼn geheime taal gehad wat net hulle geken het. Dan het Marco hom geantwoord, tot sy ma se ontsteltenis, “Toe-oe-oe-oet!!” kliphard deur die huis elfuur die nag.

“Hallo, Marco Lange! Nou kan jy lekker slaap!” het die wiele hierna vir hom gesing. Klikketie-klik, klikketie-klak. Tot in alle ewigheid.

Dan kyk hy hoe die trein in die donker verdwyn met die rooi liggie op die kondukteurswa wat vir hom knipoog.

“Lekker slaap! Moenie dat die spoke jou vang nie!” het daardie liggie altyd gesê. En hy kon nie gaan slaap voordat die rooi oog deur die donker ingesluk is nie.

“Hy fluit vir mý, Ma!” het Marco op sy sesde verjaarsdag verduidelik hoekom hy snags uitroep.

Jy moenie als glo wat jy hoor nie. Die waarheid is partykeer maar swaar, Marco. En jy moet van die begin af leer om die waarheid te sien,” het sy ma gesê.

“Wat is waarheid, Mamma?” het hy toe gevra.

“Waarheid is die dinge wat régtig gebeur, die dinge waaroor mens nie altyd wil praat nie, dan dink jy leuens uit sodat die waarheid moet weggaan, of sodat jy vir ʼn rukkie die waarheid kan vergeet,” met ʼn vinnige blik na sy pa toe.

“Watse waarheid is die waarheid?” het hy gevra.

“Daar is nie ʼn Kersvader nie, ook nie ʼn tandemuis nie, en ook nie ʼn Paashaas nie. En dit is die laaste keer dat die trein vanaand deur ʼn stoomlokomotief getrek word. Van môre af is dit dieselenjins, dan kry daardie gefluit ook end. Dít is die waarheid!”

Sy het eintlik hartseer gelyk om die nuus aan hom oor te dra, maar dit was iets wat sy uit haar gestel moes kry. “Want kinders mag nie met leuens grootgemaak word nie…”

Lees nog ‘n uittreksel uit die boek.
Vir meer inligting oor die boek, klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae