Video: ‘God is stééds God,’ sê Benescke Janse van Rensburg

Soms gebeur dinge wat ons laat vra: Waar is God? Hoekom het Hy dit toegelaat? Kan ek Hom stééds vertrou?

In God is stééds God vertel omroeper en TV-aanbieder Benescke Janse van Rensburg meer as 60 geloofstories deur bekendes, asook gewone mense. Stories oor voorsiening, beskerming, bonatuurlike deurbrake tot genesing en herstel word gedeel met die doel om hoop by lesers te skep.

“Mense vra gereeld of God nog wonderwerke doen. My hoop is dat mense sal besef dat Hy goed is en dat Hy stééds God is,” sê sy.

Janse van Rensburg werp lig op God se alomteenwoordigheid. Hy sien tegelykertyd om na die petroljoggie in nood én die enkelma wat nie vir haar kind ’n nuwe uitrusting kan koop nie, verduidelik sy.

God is ook in buitengewone en uitdagende omstandighede teenwoordig: ’n Boer wat God in ’n haelstorm smeek om sy plaas en gewasse te beskerm, ’n dowe seun wie skielik kon hoor, ’n man wat wonder bo wonder uit ’n gyselaarsdrama bevry is of ’n huwelik wat op die rand van egskeiding gekantel het, maar gered is.

Nuuswaardige gebeure, soos dié van Yolande Korkie wie se man as gyselaar gesterf het en oud-Springbok-netbalspeler Patrys van der Merwe wie se twee kinders in ’n fratsongeluk dood is, word ook in die boek gedeel.

Die motiveringsprekers, Appel en Rouchelle Liedemann, asook Johan Smit, Gretha Wiid en die voorkomskonsultante, Alette-Johanni Winckler en Alicia Buckle, het ook hul geloofstories vir Janse van Rensburg vertel.

God is stééds God volg op God was dáár en Ontdek God in die stories van mense en is die sewende boek uit Janse van Rensburg se pen. Wat maak dit anders as die vorige boeke?

“Dit fokus nie net op happy endings nie, maar vertel juis van mense se ervaring van God in die moeilikste seisoene van hul lewe,” verduidelik Janse van Rensburg. “Die kort stories is real en rou, maar vul die leser keer op keer met hoop,” sê sy.

Janse van Rensburg gebruik ander mense se stories tot die verheerliking van God se koninkryk. “Van hierdie mense het wonderlike belewenisse gehad en sal nooit self ’n boek daaroor skryf nie. Ek dokumenteer bloot wat God doen sodat dit hoop aan ander kan bied.”

Sy beskou God as die hoofkarakter in God is stééds God en hoop dat lesers sal besef dat Hy goed is en dat Hy stééds God is – ongeag die situasie of uitkoms.

Oor die skrywer

Janse van Rensburg is bekend as omroeper, TV-aanbieder en skrywer van die blog Stories van hoop op Facebook. Sy skryf ook gereeld vir die Bybelgenootskap se Vers-n-Dag wat na 80 000 intekenare wêreldwyd uitgestuur word. Sy is met Johannes getroud en hulle het twee dogters, Joalé en Ziva-Mari.

Luister hier na ’n storie uit God is stééds God deur Benescke Janse van Rensburg. Die video word in samewerking met die skrywer moontlik gemaak:

God is stééds God kos R249 en is aanlyn beskikbaar per bestelling. Om die bundel te koop, besoek Janse van Rensburg se aanlyn winkel of stuur ʼn e-pos na Stella Opperman by [email protected]. Die boek is ook in toonaangewende boekwinkels beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.