Vyf ongewone boekvoorstelle vir Valentynsdag

Argieffoto (Foto: Dariusz Sankowski/Pixabay)

Valentynsdag is jaarliks een van die mees gekommersialiseerde vierings wat niemand kan miskyk nie. Nie vóór die tyd wanneer al wat ʼn vertoonvenster en advertensiebanier in liefdeskleure en -boodskappe omgetower word nie, en ook nie op die dag wanneer daar orals net blomme, sjokolade, kaartjies of teddiebere is nie.

Dit is die soort geskenke wat algemeen met Valentynsdag geassosieer word. Iets ongewoons soos ʼn boek wat jy vir iemand, hetsy dit ʼn vriend, geliefde of jou beminde is, uitgesoek het, kan egter net so spesiaal wees.

Dink daaraan: ʼn Boek kan iemand help om ʼn nuwe stokperdjie te bemeester. Fiksieboeke kan hulle help om te ontspan, en iets soos ʼn resepteboek kan ure se genot in die kombuis verskaf. Selfs jare nadat jy ʼn boek as geskenk gegee het, kan dit herlees word.

Maroela Media het ʼn lys van boeke saamgestel, wat nie noodwendig liefdesverhale nie, wat jy hierdie Valentynsdag as geskenk kan oorweeg.

Aurora deur Tertius Janse van Rensburg (Luca)

Aurora, uit die pen van Tertius Janse van Rensburg, is ʼn eietydse roman oor gewone mense in gewone situasies.

Dit gaan oor Dawid Uys, ʼn jong predikant op die platteland, wat met vrae oor sy herkoms en geloof gekonfronteer word. Wanneer sy oom sterf, erf hy sy oom se plaas, Aurora. Dawid het Oom Boela skaars geken en nou kom die plaas boonop met ʼn rits bepalings en voorwaardes.

Die plaas, die kerk en sy liefdeslewe bring talle uitdagings en struikelblokke oor Dawid se pad. Hy moet konfrontasies op die kerkraad en moeilike plaaswerkers hanteer. Intussen raak hy op die buurman se dogter verlief. Dan is daar ook die nuwe intrekker op die dorp, ʼn beeldskone enkelma met ʼn misterieuse verlede.

Aurora neem Dawid en die leser op ʼn geestelike reis met ʼn ontknoping wat byna so onvoorspelbaar soos die lewe self is.

Die boek kos R280 (prys onderworpe aan verandering). Klik hier om Aurora aan te skaf.

Die reis deur SD Fourie (Protea Boekhuis)

In SD Fourie se Die reis, is Maritza, ʼn bekende historiese romanskrywer, haar woorde kwyt nadat ʼn brand haar huis byna in puin lê. Daarna sterf haar man en nou, ʼn jaar later, haar Jack Russell wat 16 jaar lank haar metgesel was.

Sy ontmoet Joubert Hofmeyr, en hulle vertrek op ʼn reis na die Kgalagadi: Sý om haar woorde terug te kry, en hy om vir sy navorsing meer oor sy voorgeslag se skades en skandes by haar uit te vind. Die twee besef dat hul verlede ʼn komplekse verweefdheid het.

Mariza en Joubert verskil soms. Hulle is ʼn klankbord vir mekaar en weef mekaar se stories aanmekaar, maar besef ook gou dat die verlede soms jou toekoms bepaal.

Die goue draad deur die storie van vyf geslagte vroue is dat hul probleme universeel is. Dat die kollektiewe geheue van die vroue mekaar van geslag tot geslag beïnvloed.

Die boek kos R320 (prys onderworpe aan verandering). Klik hier om Die reis aan te skaf.

Lekker & Goed deur Carmen Niehaus (Penguin Random House)

As jou geliefde daarvan hou om kos te maak, gesond te eet en tyd in die kombuis deur te bring, is die koskenner Carmen Niehaus se jongste resepteboek, Lekker & Goed, ʼn uitstekende geskenk.

Dit is saamgestel uit ou bekendes en nuwelinge en dit sluit ook ʼn paar lae-koolhidraat, glutenvrye en vegetariese resepte in, asook resepte wat heelwat vars en ongeprosesseerde produkte bevat.

Die boek kos R320 (prys onderworpe aan verandering). Klik hier om Lekker & Goed aan te skaf.

Roman deur Cas Wepener (Protea Boekhuis)

Die Klein-Karoo se berugte reeksmoordenaar Gert Bloubaard Swanepoel het in die 1800’s op die spogplaas Rietfontein in die Attaquas tussen Oudtshoorn en Calitzdorp geboer. Swanepoel se pa was ʼn siener wat glo met ʼn halwe helm gebore is. Hy het groot onheil gesien voor Gert se geboorte. Sy ma was ʼn wrede, ongenaakbare en sadistiese mens wat plaaswerkers se kinders se mangels uitgeskep het met ’n rooiwarm teelepel, sonder enige verdowing.

Danie Gouws, akademikus van Stellenbosch, vertoef in die Klein-Karoo om navorsing te doen oor kulturele gebruike en erfgoed. Waarin hy hom egter vasloop, is die spook van Gert Swanepoel: “Wat Danie Gouws nog nie weet nie, is dat Gert hom gister al sien aankom het toe hy in die pas oor die Gamka gery het.”

In die woorde van die oplettende, diepsinnige petroljoggie Willem Marsman: “As jy klippers in dié deel van die wêreld omrol, dan hardloop daar sommer gou gevaarlike goete soos skerpioene oor die vlaktes of ʼn romans wat jou jaag om in jou skaduwee te kom”.

Kan ʼn mens oorlewering glo? Wie was Gert: voorslagboer, veedief, geweldenaar, moordenaar of minnaar? Dit hang af met wie ʼn mens gesels, want stories is plooibaar.

Die boek kos R295 (prys onderworpe aan verandering). Klik hier om Cas Wepener se Roman aan te skaf.

Ver in die wêreld deur Frederik de Jager (NB-Uitgewers)

Ver in die wêreld, saamgestel deur Frederik de Jager, bevat 23 stories oor die lewe in die buiteland deur expat-skrywers soos Marita van der Vyver, Zirk van den Berg, Eben Venter en Chris Karsten.

Sommige van die verhale is suiwer fiksie, en ander is intieme persoonlike ervarings. Die verhaal gaan oor die verlies aan die bekende, die verlange huis toe, maar ook oor die aanpassing in die verre vreemde wat dikwels met ʼn goeie skoot humor gepaard gaan.

Skop jou skoene uit, sit agteroor en laat dié lekkerleesstories jou wegvoer na Frankryk, Nieu-Seeland, Australië, Kanada, of na een van die ander plekke ver in die wêreld waar Suid-Afrikaners nesgeskrop het.

Die boek kos 320 (prys onderworpe aan verandering). Klik hier om Ver in die wêreld aan te skaf.

Wimpers op lakens deur Albert Bredenhann en Sophia Kapp (Selfpublikasie)

Die bekende fotograaf Albert Bredenhann se boek, Wimpers op lakens, bied ʼn fotografiese blik op die uniekheid van vroue.

In die openingshoofstuk vertel die bekroonde skrywer Sophia Kapp hoe dit gekom het dat sy Albert se boek geskryf het, gevolg deur ʼn verduideliking van die konsep van boudoir-fotografie, en ʼn vrywaring dat skuilname deurgaans gebruik is.

Daarna word 12 vroue se stories vertel met die doel om ʼn openhartige blik op ʼn fotograaf, in hierdie geval Albert, se ervaring van vroue se emosies, uitdagings en vreugdes te bied.

Dié verhale strek van die vrou wat iets spesiaals vir haar man wou doen, en ʼn ma wat drome deur haar 14-jarige dogter najaag, tot ʼn 29-jarige vrou met letsels as gevolg van derdegraadse brandwonde en ʼn vrou in ʼn rolstoel wat sukkel om die dood van haar kind te verwerk.

Wimpers op lakens kos R249 (prys onderworpe aan verandering). Besoek Pixel Pro Photography se webwerf om die boek aan te skaf of koop die boek by Graffiti Boeke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.