Wen: Lank leef die liefde, meer as 120 Romanza-titels later

(Foto: Verskaf)

Sommiges verslind dit. Ander trek hul neuse daarvoor op. En dan is daar die groep wat dit skelm en stilletjies lees, amper asof dit ʼn sondige plesiertjie is.

Hoe “boeksnobs” – eintlik maar ʼn pretensieuse spesie – ook al daarna kyk, Romanzas, daardie toeganklike Afrikaanse ontspanningsfiksie wat die slapbandboekbedryf oorheers en dit verkoop soos soetkoek.

Hoekom? Want dit stel endorfiene (goedvoelhormone) vry, vertel hedendaagse sprokies, laat die leser van die daaglikse sleur en lewensdramas vergeet en laat jou weer in die liefde glo. Met die lees van Romanzas kan ʼn mens weer droom en glo dat daardie storieboekheld dalk, net dalk, nog jou pad in die sterrestelsel gaan kruis.

Die gewilde Romanza-skrywers Madelie Human en Dina Botha het al onderskeidelik hul 40ste en 83ste Romanzas voltooi. Geen geringe prestasie nie. Boonop is albei bekroonde skrywers.

Maar hoe op aarde het hulle dit reggekry?

Die resep vir ʼn goeie Romanza is dat die held en heldin darem iets tussen die ore en integriteit het. Al is daar struikelblokke wat hulle moet oorkom, is dit verpligtend dat hulle op die ou end by mekaar uitkom.

Goed, ons weet Romanzas is voorspelbaar, maar wie hou dan nie van ʼn gelukkige einde waar almal lank en gelukkig saamleef nie?

In die wêreld waarin ons leef is ʼn gelukkige einde ononderhandelbaar.

Eienskappe van Romanzas

(Foto: Verskaf)

ʼn Romanza is beslis nie spookasem nie. Om in hierdie genre te skryf verg intelligensie, lewenservaring, mensliewendheid en ʼn geloof in ware liefde, is al gesê.

Daar moet konflik in die storie wees en die vroue is nie meer net hulpelose “eye candy” nie. Hulle het ʼn ruggraat. Die held is uit die aard van die saak ʼn jintelman met genoeg emosionele intelligensie.

Romanzas is nie letterkundige kragtoere nie – dit gee ook nie voor dat dit die geval is nie – maar dit is ook nie banaal of eksplisiet nie. Dit gaan oor die uitgestelde begeerte. Soos die gewilde romanskrywer Alta Cloete al opgemerk het: “Romanzas maak jou nie vet, dronk of dom nie”.

Daar word deesdae ook ATKV-veertjies vir Romanzas en liefdesromans uitgedeel.

Meer oor Dina Botha

Hierdie ma van vier kinders is eintlik ʼn IT-kenner maar verslind van kindsbeen af reeds Wille Martin, Ena Murray en Elmar Steyn se romans. Sy is gek oor stories wat in vorige romantiese eras afspeel en erken dat haar verhale eerder verbeeldingryk as feitlik is. Sy skryf die soort stories waarvan sy self hou en voel “beroof” as daar nie ʼn gelukkige einde is nie.

Dina Botha (Foto: Verskaf)

Vir haar het Romanzas ʼn “rimpeleffek” wat nie anders kan as om mense se lewe aan te raak nie. Sy meen elke vrou hunker na romantiese liefde, en as dit nie die eerste keer slaag nie, wel ʼn aanhouer wen!

Sy skryf soms tot tweeuur in die oggend en ander kere begin sy weer kort na middernag.

Dina skryf oor die liefde omdat sy glo aan die liefde tussen ʼn man en ʼn vrou, “soos die Skepper dit bedoel het”, en ook dat dit ʼn lewenslange emosionele verbintenis kan wees.

Sy was self romanties in haar jonger dae met briefies in haar man se toebroodjies, maar “vier kinders het die romantiese kersie ietwat verdoof”.

Vir haar is die ideale heldin ʼn onafhanklike meisie wat weet wat sy uit die lewe wil hê, dalk al in ʼn beroep staan en finansieel onafhanklik is.

Sy is vroulik en geen loslappie wat rondslaap nie, hoewel sy nie heeltemal maagdelik hoef te wees nie want almal het bagasie.

Die ideale held moet aantreklik, sexy, finansieel onafhanklik, ʼn diereliefhebber wees en alle vroue respekteer.

Hy raak nie handgemeen nie en vloek selde. Dit is ʼn pluspunt as hy kerk toe gaan en ʼn tafelgebed doen.

“Kortom, my helde is duskant kreukelloos.”

Heeltemal taboe in ʼn Romanza is geweld, oneerlikheid en enige soort mishandeling.

Sy beskryf haarself as “doodgewoon”, ʼn vrou wat graag met haar dogters in winkels rondloop en van die kerklewe hou. ʼn Introvert wat lekker op haar eie “eilandjie” leef, maar erg aan die kekkel kan raak as jy haar eers ken.

“Vra vir Madelie, my lewe as skrywer is alles behalwe glansryk. Ek sit nie saans met ʼn glasie wyn in die hand, in ʼn négligé voor my skootrekenaar en bepeins die lewe en die liefde nie. Ek kan op enige plek werk.”

Sy dink die stigma rondom Romanzas dat dit goedkoop hygromans is, is verby. ʼn Paar takke van die Vroue-Landbou-Unie het haar al as hul skrywer van die jaar aangewys.

“Jong meisies het al vir my gesê dat ek en Romanzas hulle ʼn ander perspektief op die lewe gee en dat dit oukei is om vir die regte ou te wag. Wat vir my wonderlik is, is dat daar lesers is wat al 83 my titels op die boekrak het. Dis vir my ʼn groot kompliment.”

Meer oor Madelie Human

Sy benadruk dit dat dit nie “stuitige ou tannies” of “verveelde huisvroue” is wat Romanzas skryf nie. Nee, jy moet die liefde verstaan en mense deur jou skryfwerk van hul probleme laat vergeet.

So bring romantiese fantasie weer verwondering in die lewe. Sy maak ook graag van humor gebruik.

Madelie Human (Foto: Verskaf)

Haar raad vir ʼn goeie held is om een uit te dink op wie jy self verlief sal raak. Die stil sterk effens baasspelerige soort is geskiedenis.

Vir haar is die grootste mites oor Romanzas dat dit makliker as ander genres is om te skryf en dat dit baie vinnig afgerammel kan word.

“Dit neem my ten minste drie maande om een ordentlik te voltooi.”

Sy skryf Romanzas omdat sy van goedvoelstories met ʼn gelukkige einde hou en sedert kindsbeen onwrikbaar aan die krag van liefde glo.

Is sy self romanties?

“Dit moet jy my man vra. Ek skryf ook oor die liefde omdat ek prakties is en iets daarmee kan verdien.”

Sy beskryf die ideale romantiese held as sterk maar sensitief en wat sy maat eerder emosioneel as fisiek versorg. Haar heldin is ook sterk en het nie ʼn man nodig nie. Sy verbind haar slegs aan een man omdat sy dit so verkies.

Met Romanzas vermy sy ʼn gewroeg oor die donker dinge van die lewe, verbrokkelende huwelike en ander traumatiese gebeure.

“Dit hoort in ander genres. Dalk nog as agtergrond iewers in die karakters se verlede en tydens die romanse deur liefde oorwin word, maar die fokus is op die opwindende ontwikkeling van ʼn liefdesverhouding.”

As skrywer probeer sy outentieke karakters skep met wie die leser kan identifiseer, terwyl die storie terselfdertyd geloofwaardig moet wees en nie haar lesers se intelligensie onderskat nie.

As ʼn mens gaan sy voluit vir dit wat sy aanpak anders dien dit vir haar geen doel nie.

Sy was altyd daarvan oortuig dat sy ʼn ekstrovert is, maar toe sy begin skryf vind sy uit dat sy dikwels haar eie geselskap en dié van haar karakters verkies bo die van mense. Nes Dina hou sy ook nie van die kalklig nie.

Die beste terugvoer wat sy al van lesers gekry het, is dat haar stories inspirerend, opbouend en pretensieloos is en met genoeg humor.

“Romanzas voldoen aan die behoeftes van mense wat nodig het om te weet dat die swaar en lelik in die lewe nie al is wat bestaan nie. Hulle het nodig om daarvan te ontsnap, al is dit net vir ʼn paar uur lank. En om te glo dat daar hoop bestaan vir almal om geluk te vind.”

Madelie, die ma van twee volwasse kinders, het aanvanklik onderwys gegee en het eers na 50 ernstig begin skryf. Sy was ook al op haar dag ʼn bloemiste en huweliksvoorligter.

Nog boeke wat kom

Wat kan ons van hierdie twee bedrywige skrywers verwag teen Kersfees?

Madelie Human se Eggo’s van die hart het onlangs verskyn en teen Kersfees is ʼn Bruid voor Kersfees op die rak. Dina se jongste titel is ʼn Skandalige aanbod terwyl ʼn Warrelwind – ʼn romantiese Kersfees, in Desember beskikbaar gaan wees.

Wen

Twee Maroela Media-lesers kan elkeen ʼn pak met boeke van die twee skrywers ontvang. Al wat jy moet doen om in aanmerking te kom, is om jou besonderhede in die kompetisievorm onderaan hierdie artikel in te vul.

Dui ook vir ons aan watter skrywer se boek jy graag sal wil ontvang.

Die sluitingsdatum vir die kompetisie is Dinsdag 24 Oktober om 23:45.

Baie geluk aan Rochelle Stemmet en Mariana van Zyl wat die wenners van die kompetisie is.

Bepalings en voorwaardes

  • Die kompetisie sluit Dinsdag 24 Oktober om 23:45.
  • Die wenner sal lukraak gekies word.
  • Deelnemers moet ouer as 18 jaar wees.
  • Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen verdere korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.
  • Die trekking sal direk ná die sluitingsdatum plaasvind, waarna Maroela Media met die wenner in verbinding sal tree.
  • Sodra die wenner gereageer het, sal die wenners se name op Maroela Media bekendgemaak word.
  • Die prys kan nie vir kontant geruil word nie.
  • Deelnemers moet in Suid-Afrika woon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.