Wen: Nianell wil hê kinders moet speel-speel leer

Nianell. (Foto: Verskaf)

Dit is vir Nianell, sangeres en liedjieskrywer, steeds moeilik om oor die dood van haar hartsvriendin, Ronel Barkhuizen, te gesels. Vir haar was sy ʼn engel op aarde, en vir haar drieling soos ʼn tweede ma.

Die spruite was slegs ʼn paar maande oud toe Ronel by hulle as au pair begin werk het. Sy het later vir die drieling tuisonderrig gegee, en steeds ʼn handjie met huiswerk bygesit toe hulle hoërskool toe is.

Ronel het voor haar dood aan Breinspeletjies vir slimkoppe, ʼn aktiwiteitsboek wat kinders deur middel van beweging stimuleer, begin werk. Dié boek is aan Nianell se kroos opgedra, en dit is ná Ronel se dood eers gefinaliseer.

“Ronel was een van die positiefste en kreatiefste mense wat ek ken. Sy was amper uitspattig gelukkig,” sê Nianell aan Maroela Media.

“Dit kinders was Ronel se lewe. Sy het altyd soveel moeite gedoen om die leerproses vir hulle opwindend en prettig te maak.

“Ronel was ʼn ware engel in ons lewens. Ek is ongelooflik dankbaar dat haar lig op hierdie manier nou ook in ander kinders se lewens gaan skyn.”

Ronel het begin om die speletjies vir een van Nianell se dogters, Kaylee, te ontwikkel.

“Kaylee is hoogs intelligent, maar sy het op elf eers begin lees. Hoewel sy nooit met aandaggebrekversteuring gediagnoseer is nie, het ons agtergekom dat haar brein anders funksioneer.

“Ronel het hierdie speletjie ontwikkel vir kinders soos Kaylee wat uit die boks dink. Dit was vir haar belangrik om vir elke kind iets te skep. Ek beskou dit nou as ʼn selfopgelegde taak om Ronel se boek te bemark, en haar nalatenskap op hierdie manier te laat voortleef.”

Die aktiwiteitsboek kom saam met 20 bordspeletjies, ʼn handleiding met kort stories en instruksies vir beweging. Kinders kan uitsien na beter konsentrasie-, geheue- en logiese vaardighede.

Hierdie stel bied ʼn reeks voordele, insluitend:

  • Verbetering van aandag, analitiese denke, liggaamsbalans, handskrif, breinaktiwiteit, leer- en leesspoed.
  • Ontwikkeling van taktiese (aanraak) en vestibulêre (luister) sintuie, logiese denke, geheue, skryf, wiskundige, organisatoriese en fonologiese vaardighede.
  • Versterking van nek-, bo-bors- en skouerspiere.
  • Oefening van hand-oog- en hand-voet-koördinasie, middellynkruising en koördinering van laterale beweging.
  • Verhoogde kreatiwiteit.
  • Help met aandaggebrekversteuring (ADD), aandaggebrek-hiperaktiwiteitsversteuring (ADHD) en disleksie.

“As jy iemand kan kry om lief te wees vir iets, en as jy ʼn passie in hulle kan aanwakker, dan kan jy hulle enigiets leer. Ek dink die speletjie gaan in die eerste plek soveel kinders se belangstelling met die kleurvolle illustrasies prikkel, en dit gaan nuwe energie en beweging in die leerproses blaas.”

  • Breinspeletjies vir slimkoppe kos R390 (prys onderworpe aan verandering). Klik hier om dit by Graffiti Boeke aan te skaf. Die stel is ook in Engels beskikbaar met die titel,My First Brain BoostBoard Games.

Skryf nou in 

Twee Maroela Media-lesers staan die kans om elkeen ʼn stel van Breinspeletjies vir slimkoppe te wen. Al wat jy moet doen, is om jou besonderhede in die kompetisievorm onderaan hierdie artikel in te vul.

Die sluitingsdatum vir die kompetisie is 25 September om 23:45.

Die kompetisie het gesluit.

Bepalings en voorwaardes

  • Slegs lesers met ‘n afleweringsadres in Suid-Afrika mag deelneem.
  • Die kompetisie sluit op 25 September om 23:45.
  • Wenners sal deur middel van ʼn trekking aangewys word.
  • Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen verdere korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.
  • Die trekking sal direk ná die sluitingsdatum plaasvind, waarna Maroela Media met die wenners in verbinding sal tree.
  • Sodra die wenner gereageer het, sal die persoon se naam op Maroela Media bekendgemaak word.
  • Die prys kan nie vir kontant omgeruil word nie.
  • Lapa Uitgewers, ʼn druknaam van Penguin Random House, hanteer die versending en sal direk met die wenners in verbinding tree.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.