Wen: Wat maak jou ʼn miljoenêrsvrou?

René du Preez voor Willem Botha se kameralens. (Foto: Facebook)

Om ʼn miljoenêrsvrou te wees, het eintlik maar min met jou bankrekening te doen. Vir René du Preez gaan dit veel meer oor hoop, dankbaarheid en ʼn besef dat ʼn vrou dikwels steeds oorvloedig geseënd is te midde van moeilike omstandighede.

Dié finansiële raadgewer wat reeds twee boeke agter haar naam het, en ma van twee seuns is, gesels maandeliks in haar videoreeks Dis OKAY met René met verskillende vroue oor hul stories van hoop.

“Die “miljoenêrsvrou” is vir baie mense maar nog ʼn vreemde konsep. Vir my gaan dit oor vroue wat nog hoop het. Dit is iemand wat elke oggend opstaan, gesond is, ʼn dak oor haar kop het, mense om haar wat haar liefhet en boonop nog kan werk – dít is die dinge wat van jou ʼn miljoenêrsvrou maak.”

In dis OKAY met René het sy al gesels met vroue soos Tania van Twisk, Demi Lee Moore en Mariandra Heunis, wat elkeen ʼn ongelooflike storie van hoop het om te vertel.

Met dié reeks wil sy juis ʼn boodskap van inspirasie met elke vrou deel. Sy wil aan vroue wys hulle mag droom en dat drome bewaarheid word te midde van uitdagings en moeilike omstandighede.

“Elke vrou het beslis ʼn storie van hoop. Soms kry ons daardie terugslag – ek noem dit sommer ʼn skop in die ribbes – maar die Here het vroue geskape om uitdagings vierkantig in die oë te kyk en dit te oorkom.”

Du Preez sê vroue kan beslis van mekaar leer, maar ons moenie hulself met ʼn ander vrou vergelyk nie.

“Jy is uniek geskape en elke droom wat God in jou hart geplaas het, is ʼn droom wat jy moet verwesenlik. Dit is waarom jy jouself nie kan vergelyk met iemand anders nie.”

As Du Preez eers met vroue oor hul drome begin gesels is die vraag wat volg, gewoonlik: Maar waar begin ʼn mens dan met die proses om weer jou eie unieke drome vir jou lewe te ontdek?

“Dit is altyd ʼn effense moeilike vraag, maar ek kan jou vertel waar mý reis begin het. Ek was self in moeilike omstandighede en het toe besef ek weet eintlik self nie meer wie ek is nie. Ek het ook besef ek weet eintlik glad nie meer hoekom ek op hierdie aarde is nie.”

So het Du Preez haar “hoekom” ontdek – dít wat haar nalatenskap eendag moet wees.

“Ek moes mooi gaan dink oor wat wil ek hê mense van my op my begrafnis moet sê. Moet hulle sê, “Ag siestog, sy het so gesukkel,” of moet dit eerder iets heeltemal anders wees wat positief en opbouend sal wees?

“My raad aan elke vrou is: Gaan vind eers uit wie is jy, wat is die drome wat God in jou hart geplaas het en bepaal dan hoekom jy nog nie daarby uitgekom het nie.”

René du Preez, ‘n finansiële raadgewer wat reeds twee boeke agter haar naam het, en ma van twee seuns is, gesels maandeliks in haar videoreeks ‘Dis OKAY met René’ met verskillende vroue oor hul stories van hoop. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Volgens haar hoef ʼn mens darem nie vir ʼn week na die berge uit te wyk om hierdie soektog na jouself en jou drome te begin nie.

“Ons spandeer deesdae so baie tyd op die pad; jy kan sommer daar in die motor op pad na die werk of nadat jy die kinders afgelaai het, begin nadink oor die goeie dinge en negatiewe aspekte in jou lewe.”

Du Preez het ook raad vir vroue wat sukkel om hul drome te volg, al maak hulle planne.

“Ek sê altyd vir mense elke vliegtuig wat opstyg van OR Tambo Internasionale lughawe het ʼn vlugplan, maar sowat 80% van daardie vliegtuie volg nie altyd die plan presies nie.

“Jy moet egter ʼn finansiële en ʼn emosionele lewensplan hê, want as dinge jou van stryk bring, moet jy iets hê om op terug te val. As die basiese dinge soos jou geloof reg is, sal jy nooit moed verloor nie.”

Du Preez het ook raad vir elke vrou: “Ek dink dit is belangrik dat jy tyd maak vir jouself en jou God. Maak tyd om te luister sodat jy kan hoor wat Hy met jou wil deel.”

  • René du Preez het aan die einde Vrouemaand ʼn draai in Maroela Media se ateljee kom maak en met Esté Meyer Jansen oor vrouwees gesels. Luister na die volledige onderhoud boaan hierdie artikel.

Al kan jy nie opstaan nie, kan jy aangaan en dan nog boonop voluit lewe! Dit is die les wat Du Preez by Tania van Twisk geleer het. Tania praat oor genade en goddelike ingryping in die jongste episode van Dis OKAY met René. Hier is die video:

Episode 9 : Dis Okay Met Rene – Al kan jy nie opstaan nie, kan jy aangaan.

Al kan jy nie opstaan nie, kan jy aangaan… Ek deel graag hierdie spesiale episode van #disokaymetrene met julle en hoop dat dit iets vir iemand kan beteken. Tania van Twisk kan dalk nog nie fisies weer opstaan nie, maar sy het geleer hoe om aan te gaan ten spyte van omstandighede wat haar lewe totaal verander het. Sy is ‘n miljoenêrvrou in haar eie reg en haar menswees sprankel van die Here se Genade. Wanneer is te veel, vir jou te veel? Kyk gerus na hierdie episode en deel dit met iemand wat ‘n inspirasieboodskap sal waardeer. Ons spesiale gas, Tania van Twisk, is ook te sien in Coffee Snobs se nuwe musiekvideo, wat binnekort vrygestel word.Terwyl ek hierdie boodskap tik, rol daar steeds trane van my wang af…Ek dra hierdie episode op aan iemand wat onlangs die tydelike vir die ewige verruil het. Sy los so ‘n groot diepte in ons harte. Iemand wat ‘n groot impak in my lewe gemaak het en verseker voluit gelewe het tot op die laaste.Dankie Petals & Roots vir die pragtige blomme, Purenity wat my altyd mooi maak en Milk and Honey dat julle my mooi laat voel. The Marketing Zoo en AVC studios, julle insette is van onskatbare waarde. En dan, aan elkeen van julle wat die episodes kyk en met ander deel – julle gee my drome vlerke. Ek is ewig dankbaar om op hierdie reis te kan wees, selfs al kan ek net een persoon se lewe aanraak.>>>> www.renedupreez.co.za <<<<

Posted by Rene du Preez on Friday, September 6, 2019

Die wenners is:

Baie geluk aan Jakkie van der Berg van Brits, Christine Vorster van Durbanville, Mari Hauptfleisch van Upington, Wilma Swanepoel van Gordonsbaai en Elize van Jaarsveld van Silverton in Pretoria wat die wenners van hierdie kompetisie is. Julle boeke word binnekort uitgestuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

charmaine ·

Ek het hierdie artikel baie geniet en ek kan ook se ek is n miljoeners vrou. Soms maak jou omstandighede jou sterk en kom jy agter hoeveel jy kan doen en hoe vinnig jy iets moet leer om oor die weg te kom, en soms is dit net iets kleins soos om te leer dat jy jou eie kar kan koop en betaal jy van skuld ontslae raak en die kar wat jy gekoop binnekort afbetaal as. Of om jou oudste se troue te help reel. En dit klaar is vir my so n groot dankbaaheid aan onse Here.
Of n baie groot besluit te neem om na die nes leeg loop n huis na 21 jaar op te pak en te verkoop en nou jou aftree huis te kan koop. En dit alles is net uit dankbaarheid en die feit dat die Here ons as gesin so seen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.