Wenners van gesogte UJ-pryse bekend

Die wenners van die 2022-UJ-debuutprys asook die 2022-UJ-prys is aangekondig nadat kortlyste vir albei pryse verlede week aangekondig is.

Ashwin Arendse se Swatland (Kwela) en Frederik de Jager se Man op ʼn fiets êrens heen (Protea) ontvang vanjaar gesamentlik die UJ-debuutprys.

Die UJ-prys word aan SJ Naudé toegeken vir sy kortverhaalbundel Dol heuning (Umuzi).

Arendse is ʼn digter, akteur en dramaturg. Hy het op Malmesbury grootgeword en ná skool drama aan die Universiteit Stellenbosch studeer. In 2020 het hy ʼn meestersgraad in kreatiewe skryfkuns met die fokus op Kaaps aan Rhodes Universiteit behaal.

Swatland is deur die beoordelaars beskryf as ʼn bundel waarmee Arendse sy eie stem dik maak en met ʼn eiesoortige benadering die Kaapse milieu wyer oopbreek om ʼn beduidende en toonaangewende bydrae te maak.

“Sy verse is dringend en onsentimenteel. Sosio-politiese kwessies soos identiteit, rassisme en seksisme asook sosio-ekonomiese vraagstukke om die klassestryd en die groot ekonomiese gaping wat dit perpetueer, kom in Arendse se poësie aan die bod.”

Volgens die beoordelaars sluit Arendse uit ʼn persoonlike perspektief ook aan by die groter diskoers oor manlikheid in die Afrikaanse poësie, en manlikheid aan die hand van weerloosheid.

In De Jager se Man op ʼn fiets êrens heen kom die menslike kondisie deurgaans aan bod. Dit gaan gepaard met fyn waarnemings oor die politiek rondom identiteitskonstruksie in ʼn vinnig veranderende wêreld, hoe dit plek vind in die kompleksiteite van menseverhoudings, en hoe dit uiteindelik bemoeilik word deur die mens se konstante gejaag en gesoek na meer as wat hy voor hom sien.

Die beoordelaars het De Jager geloof vir die sy seggingskrag en taalvaardigheid, vir sy rypheid, beresenheid en belesenheid. “Behalwe alles anders is die skrywer ʼn fyn, fyn humoris wat ʼn mens laat skater.”

De Jager was taalonderwyser, redakteur en uitgewer van ʼn groot aantal bekroonde skrywers. Tussendeur was hy artikelskrywer, resensent en vervaardiger van dokumentêre TV-programme. Hy is betrokke by skryfskole, in Suid-Afrika en op die eiland Lesbos waar hy woon.

Dol heuning is deur die beoordelaars beskryf as ʼn aanduiding van Naudé se ongelooflike tegniese bekwaamheid en algehele vakmanskap. “Hoewel elke sin, elke paragraaf van die uiterste strukturele beheer getuig, beteken dit nie dat die taalgebruik koud en klinies is nie. Die prosa in Dol heuning is liries, soepel en by tye poëties; met elke kortverhaal wat voorsien is van sy eie delikate, tóg leefbare atmosfeer.

“Met verrassende verhaalwendings en veelvoudige betekenismoontlikhede ontroer Naudé die leser. Deur sy genuanseerde verkenning van ʼn wye spektrum emosies bied hy uiteindelik troos vir die onherbergsaamheid van vandag se wêreld, wat deurgaans in die bundel na vore kom. Elkeen van die verhale is kompleks, subtiel en gesofistikeerd en getuig van Naudé se meesterlike vakmanskap en taalgebruik.”

Naudé is die skrywer van Alfabet van die voëls en Die derde spoel. Die UJ-debuutprys is in 2012 aan hom toegeken vir Alfabet van die voëls en die UJ-prys in 2018 vir Die derde spoel. Laasgenoemde is in 2019 met die Hertzogprys bekroon. Naudé het aan die Universiteit van Cambridge en die Columbia-regskool studeer. Ná jare in New York en Londen woon hy tans in Kaapstad.

Die beoordelaars vir die 2022-UJ-pryse vir Afrikaans was dr. Frederick J Botha (SPU), prof. Karen de Wet (UJ), voorsitter, dr. Sonja Loots (UK), Ryan Pedro, prof. Marné Pienaar (UJ) en Jo Prins.

Die pryse word later vanjaar aan die wenners oorhandig op ʼn gesamentlike geleentheid wat die Universiteit van Johannesburg se kantoor vir meertalige taaldienste aanbied vir die wenners van al die UJ-pryse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.