Soorte resepte:

Wêreldbeker-vlam brand hoog in dié resepteboek

Herman Lensing. (Foto: verskaf)

Herman Lensing erken maklik dat sy rugbykennis maar yl gesaai is, en dat ʼn braaivuur hom soms skrik op die lyf jaag. Tog weet hy dat rugby en braai ʼn onmisbare kenmerk van die Suid-Afrikaanse DNS is.

“Dit is die eerste keer dat ek ʼn projek aanpak wat so ver verwyderd is van wie ek is. Ek weet dalk nie baie van rugby nie, maar ek weet dat daar iets magic rondom ʼn vuur gebeur, veral wanneer ʼn mens braai,” het Herman aan Maroela Media gesê.

Daarom het dié bekende TV-sjef en kosskrywer besluit om die DNS van Suid-Afrika, braai en rugby, te kombineer en ʼn reseptetydskrif in aanloop tot die langverwagte Rugbywêreldbeker te publiseer.

In dié boek kan lesers al wat ʼn braairesep is kry. Dit sluit vis-, hoender-, bees-, vark- en bykosgeregte in.

“En natuurlik mooi gedekte tafels. Dit is nou tipiese Herman-styl – ʼn gedekte tafel vir elke gereg. Jy kan dalk braai, maar die tafel moet darem mooi lyk!”

Herman, ʼn opgeleide sjef, sê dat hy eintlik lankal weggedoen het met die sjeftitel voor sy naam – dit is eenvoudig net nie meer hoe hy homself sien nie. Sjefs werk lang ure, en hy het die wêreld se respek vir hulle – sy kosteenwoordigheid word deesdae nie met dié titel gekoppel nie.

Herman, die mede-aanbieder van die geselsprogram, Minki, is ook ʼn bekende kosjoernalis en -skrywer, hoewel dié titels eintlik nie in sy visier was nie.

“Ek het grootgeword in ʼn tipiese Afrikaanse huishouding waar kos die middelpunt was. Alles begin by kos – of jy nou trou of begrafnis hou.”

Hy het reeds in die ouderdom van 22 in 2009 die kosredakteur van Sarie geword, met talle resepteboeke wat sedertdien uit sy pen verskyn het. Voorskoot, Nóg ʼn voorskoot, Die proe soos huis en Huiskos pryk agter sy skrywersnaam.

Hy het ook al telkemale die waters van televisiereekse getoets. In 2022 was hy deel van MasterChef Suid-Afrika se vervaardigerspan, en dien vanjaar in daardie selfde rol vir kykNET se Kokkedoor Vuur & Vlam. In ʼn nuwe geselsreeks op VIA, Herman en die ladies, kuier hy saam met 10 lewenslustige borskankeroorwinnaars in die Pink Lady-kombuis. In dié reeks, wat op 6 September afskop, gesels hy met elke vrou oor hul oorwinningspad, die soet en die suur van die lewe.

“Kos is wie ek is. Ek hou daarvan om mense goed te laat voel; kos vorm deel van my liefdestaal. Wanneer ek my resepte deel, hoop ek om mense in die kombuis te bemagtig. Baie mense is bang vir die kombuis; met my resepte hoop ek om hierdie vrees te blus.”

Só maak jy Herman Lensing se Marokkaanse lamsbredie met kluitjies

“In my kinderdae het ons wintervakansies baie tyd in Namibië deurgebring,” vertel Herman.

Herman se Marokkaanse lamsbredie. (Foto: verskaf)

“Potjiekos met kluitjies is gereeld om die kampvuur by Ais-Ais geniet. Ek stof dié resep af en gee hom ’n Herman-kinkel.”

Genoeg vir 12.

Bestanddele

  • hout of kole vir braai
  • 60 ml olyfolie
  • 4 knoffelhuisies, gekap
  • 1,2 kg kort lamskenkels
  • 500 g baba­-uie, geskil
  • 45 ml harissasmeer
  • 30 ml droë roosmaryn
  • 2 blikke (2 x 400 g) kersietamaties
  • 500 ml rooiwyn
  • sout en varsgemaalde swartpeper

Mieliekluitjies

  • 115 g (125 ml) botter
  • 500 g (890 ml) koekmeel
  • 10 ml bakpoeier
  • 5 ml sout
  • 1 blik (410 g) geblikte pitmielies, gedreineer
  • 250 ml koue water

Metode

  1. Kry kole matig warm, maar maak sommer ’n groot vuur sodat jy kole kan byskep soos jy aangaan. Verhit olyfolie in ’n driepootgietysterpot – hierdie resep is geskik vir ’n nr. 3- of nr. 4-pot.
  2. Voeg knoffel en skenkels by. Braai vinnig tot goudbruin, so 5-8 minute.
  3. Voeg uie en harissasmeer by. Braai 5 minute. Voeg roosmaryn by en braai 2 minute.
  4. Voeg tamaties en wyn by. Sit deksel op en laat sowat 90 minute stadig prut. Voeg water by indien vloeistof begin wegkook.
  5. Geur met sout en peper.

Mieliekluitjies

  1. Vryf botter, meel, bakpoeier en sout intussen met jou vingerpunte tot dit soos growwe broodkrummels lyk.
  2. Voeg mielies by en meng. Voeg genoeg water by om ’n stywe deeg te vorm.
  3. Haal deksel van pot af en skep lepels vol deeg bo-op bredie.
  4. Sit deksel weer op en laat stoom sowat 30 minute of tot kluitjies gaar is. Sit voor.

Skaf vir jou Herman Lensing se Braai en Rugby-kookboektydskrif hier aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.