Digter Rosa Smit sterf

Rosa Smit, ʼn bekende Afrikaanse digter en voormalige wenner van die Ingrid Jonker-prys vir poësie, is Dinsdagaand in die ouderdom van 76 dood. (Foto: Rosa Smit/Facebook)

Rosa Smit, ʼn bekende Afrikaanse digter en voormalige wenner van die Ingrid Jonker-prys vir poësie, is Dinsdagaand in die ouderdom van 76 dood.

Smit se jongste bundel, Die Slingerplant se wintergroei, het pas by Naledi Uitgewers verskyn en sou na verwagting in Augustus bekendgestel word.

Die uitgewer het in ʼn Facebook-plasing gesê hulle was opgewonde om die pad saam met Smit te stap.

“Watter voorreg is dit nie vir ons nie. Tog nou die groot hartseer. Ons opregte meegevoel met almal wat haar ken. Veral die familie en vriende,” lui die inskrywing.

Naudé Kritzinger, ʼn vriend van Smit, bring hulde aan haar unieke karakter en eerlikheid. Hy skryf: “Rosa was ʼn annerster een. Soms nogal ʼn prima donna met haar rooi lippies wat sy van studentedae seker gedra het toe sy Joolkoningin was.

“Sy was altyd besonder eerlik en was daarom soos ʼn unieke tipe gin – party mense hou nie daarvan nie, maar vir die fynproewer is dit ’n groot plesier.”

Volgens Kritzinger het hy haar leer ken as iemand met ʼn groot hart en met ʼn liefde vir God.

Smit is in 1945 in Alberton gebore en het hier ook haar skoolloopbaan voltooi. Sy het ná skool aan die destydse Pretoria-onderwyskollege studeer met drama en spraakopleiding as hoofvakke.

Sy het daarna ook kwalifikasies behaal in vertolkingskuns aan die Universiteit van Suid-Afrika en Aletta Gericke se Akademie van Dramakuns en Voordrag. Smit is ʼn bekende in die teaterbedryf en het vir verskeie amateurtoneelgroepe, onder andere die Johannesburgse Toneelgeselskap, gespeel.

Smit is in 1989 met die Ingrid Jonker-prys vir poësie vereer vir haar debuutdigbundel Krone van die narsing. Daarna het nog twee bundels uit haar pen verskyn: Die begeleiding van duiwe in 2008 en Die rooi veer in Vasco se hoed in 2013.

Haar gedigte is in verskeie versamelbundels, onder andere in Groot Verseboek, Die braambos brand, Die mooiste liefdesgedigte in Afrikaans en ʼn Honderd jaar later, opgeneem. Smit se gedig “Heksery” is deur Laurinda Hofmeyr getoonset en verskyn op haar album Ligdag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.