Elsa Joubert se ‘Spertyd’ nou op die planke

Sandra Prinsloo in ‘Spertyd’. (Foto: Robert Hamblin)

Die bekroonde Afrikaanse skrywer Elsa Joubert is op 14 Junie 2020 te midde van die Covid-19-pandemie oorlede. Sy was 97 jaar oud.

In haar laaste boek, Spertyd, skryf Joubert eerlik en onsentimenteel oor die oudwordproses. Dié boek is verlede jaar tydens die inperking tot ʼn teaterstuk ontwikkel deur teaterveterane Alexa Strachan, Margit Meyer-Rödenbeck en Sandra Prinsloo. Philip Rademeyer behartig die regie.

Kort voor haar afsterwe het Joubert die teksverwerking gelees en sy was opgewonde oor Prinsloo se vertolking van haar lewensverhaal.

Die karakter kyk op 95-jarige ouderdom terug na haar vol lewe, vanaf haar kinderjare, haar huwelik, tot waar sy tans as weduwee in ʼn aftreeoord woon. Die herinneringe daag bloot op, soos wat herinneringe maar doen.

Volgens Strachan het die weerloosheid van die oudwordproses, waarmee elke mens onvermydelik gekonfronteer word, haar ongelooflik ontroer.

“Elsa skryf met humor, eerder as met selfbejammering, oor oudword. Al beleef ons byvoorbeeld hoe ons ouers se wêrelde kleiner word en ons soms krities daaroor is, en met hulle ongeduldig raak, is die realiteit dat die persoon se menswees dieselfde bly. Dit is net die liggaam wat beperkend raak en daarom moet ʼn mens empaties wees teenoor die oudwordende mens.”

Strachan sê ʼn universele gehoor kan by die stuk aanklank vind. “Ek is van plan om my eie moeder en my 17-jarige seun, Christoff, te neem om die stuk te sien. Dit spreek tot enigiemand. Buiten die tema van oudword, is daar ook ongelooflik baie te sê oor die lewensiklus en besinning oor waar ons in die wêreld inpas.”

Spertyd het verlede jaar onder die Aardklop-vaandel geopen by Die Boer-teater in Kaapstad. Ná slegs een speelvak, is Prinsloo benoem vir ʼn Fiësta-toekenning as beste aktrise.

Dit open vanaand (Dinsdagaand) vir die eerste keer sedert die inperking by die Atterbury-teater in Pretoria. Daarna word dit op die Suidoosterfees te sien by die Kunstekaap-teater in Kaapstad.

“Ek kan nie vir jou vertel hoe opgewonde ons is om weer te kan speel nie. Ons het Sondagaand begin intrek by die Atterbury-teater en net om weer in ’n teater te kan wees, is ʼn hoendervleis-oomblik. Ons sien ongelooflik baie daarna uit om weer voor ʼn gehoor te speel, want daar is niks wat ʼn gehoor kan vervang nie.

“Teater is nie altyd aanpasbaar om verfilm te word nie, want dit is bedoel as ʼn teaterstuk – die beligting, die klankbaan en natuurlik die lewendige gehoor. Ons het ʼn kort speelvak gehad kort voor die inperking, so dit voel amper vir ons asof ons nou eers open.”

Spertyd is op die volgende datums by die Atterbury-teater te sien:

Dinsdag: 20 April 20:00 (R250)
Woensdag: 21 April 10:00 (R200)
Woensdag: 21 April 20:00 (R250)
Donderdag: 22 April 20:00 (R250)
Vrydag: 23 April 20:00 (R250)
Saterdag: 24 April 15:00 (R200)
Saterdag: 24 April 20:00 (R250)
Sondag: 25 April 14:00 (R200)

Kaartjies is beskikbaar by www.atterburytheatre.co.za.

Kaartjies vir Spertyd by die Kunstekaap-teater is beskikbaar by Computicket.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.